BMW wys sy nuwe M3 en M4

0 Comments

Dit is vanjaar presies 35 jaar sedert die eerste BMW M3 internasionaal bekendgestel is, en nou staan BMW gereed om die nuwe model op die mark te bring.

Die nuwe modelle, wat as ‘n M3-sedan en ‘n M4-koepee met of sonder die Competition-pakket beskikbaar sal wees, sal vanaf Maart 2021 internasionaal beskikbaar wees.  Die Competition-modelle sal ook van omtrent die middel van die jaar met BMW se XDrive-vierwiel-aandrywingstelsel beskikbaar wees. 

Die M3 en M4 word toegerus met die jongste weergawe van BMW se groot nuwe sierrooster wat sy eerste verskyning in die nuwe 4-reeks-koepee gemaak het.  Die uitgeboude modderskerms en model-spesifieke luguitlate aan die kante dra verder by tot die M3 en M4 se sportiewe voorkoms. Die dak van albei modelle is van plastiek wat met koolvesel versterk is, vervaardig en ‘n drukvlerk en twee stelle dubbele uitlaat-pype, wat ‘n kenmerk van BMW se M-modelle is, rond die agteraansig af.  Volle ligdiode-kopligte is standaard toerusting, maar aanpasbare ligdiode-kopligte met BMW se Laserlight-tegnologie is teen ekstra koste beskikbaar. Daar is ‘n paar nuwe bakkleure beskikbaar, onder meer Sao Paulo-geel, wat nie ‘n metaal-kleur is nie en twee metaal-kleure, naamlik Toronto-rooi en Isle of Man-groen. Voornemende kopers kan ook ‘n opsionele M Carbon-buitestilerings-pakket en model-spesifieke M-verrigtings-onderdele saam met hul motors bestel.

Aan die binnekant is dit duidelik dat die M3 en M4 rondom die behoeftes van die bestuurder ontwerp is.  Die M-sportsitplekke met leerbekleedsel is ‘n nuwe ontwerp, en sitplekventilasie is teen ekstra koste beskikbaar. Daar is egter ook M Carbon-skottel sitplekke beskikbaar;  dit is vir motorsport ontwerp, maar kombineer dit met ‘n ligte massa, gemak oor lang afstande en uitsonderlike vakmanskap. Hierdie vindingryke sitplekke het geïntegreede kopstutte wat vir motorsport verwyder kan word, ‘n verligte modelkenteken en elektriese verstelling, terwyl veelpunt-sitplek-gordels daarmee saam gebruik kan word. 

Die M3 en M4 is beskikbaar met twee verskillende weergawes van BMW se drieliter-ses-silinder enjin met twee turboaanjaers, wisselende kleptyd-reëling en die Double VANOS-wisselende nokastyd-reëling. Die kraglewering van die onderskeie modelle is 353 kW teen 6 250 opm en wringkrag van 550 Nm teen tussen 2 650 en 6 130 opm vir die gewone modelle en 375 kW teen 6 250 opm en wringkrag van 650 Nm teen tussen 2 750 en 5 500 opm vir die Competition. Die gewone modelle het ‘n handratkas met ses gange as standaard toerusting en die Competition-modelle word toegerus met ‘n M Steptronic-ratkas met agt gange en BMW se vindingryke Drivelogic-stelsel.  Dié ratkas se ratverhoudings is spesiaal volgens die enjin se karakter-eienskappe aangepas  en drie spesifieke verstellings kan in outomatiese- of handratmodus gekies word. Die ratspane agter die stuurwiel kan gebruik word om ratte sonder ‘n koppelaar te wissel.  Die gewone modelle kan binne 4,2 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en die Competition-modelle binne 3,9 sekondes.  Vir die heel eerste keer is ‘n M3 en M4 ook met vierwiel-aandrywing beskikbaar. Die Competition-modelle sal van omtrent die middel van die jaar hierdie keuse bied; hoewel die agterwiele gewoonlik aangedryf word, en word gekoppel aan die Active M-ewenaar op die agteras. Die bestuurder kan tussen die 4WD en 4 WD Sport-modusse kies; laasgenoemde stuur ‘n groter deel van die enjin se wringkrag na die agterwiele. Wanneer die dinamiese stabilieits-beheer afgeskakel word, word die wringkrag net na die agterwiele gestuur en gee ervare bestuurders die geleentheid om loutere bestuursgenot op sy beste te ervaar. Die topsnelheid van albei modelle is 250 km/h, maar wanneer die M Driver’s pakket gekies word, word dit na 290 km/h verhoog. 

Diegene wat hul motors om ‘n renbaan gaan gestuur, kan die M Drive Professional, wat vir die eerste keer beskikbaar is, kan bestel. Hierdie stelsel is spesifiek vir renbane ontwikkel en sluit die nuwe M Traction Control , wat volgens die bestuurder se behoeftes ingestel kan word, in. Daar is ook ‘n M Laptimer, wat rondtetye en ander toepaslike inligting gedurende renbaan-sessies verskaf, asook M Drift Analyser, wat bestuur-statistiek wanneer daar om draaie gery word, verskaf. Die SetUp-knoppie op die middelkonsole gee die bestuurder toegang tot die instellings vir die enjin, onderstel, stuurstelsel en remstelsel, asook, waar van toepassing, die X Drive-stelsel, ratwissel-assistent en vastrapbeheer. Twee afsonderlike instellings vir die motor kan gebêre word, en die M-knoppies om die stuurwiel kan gebruik word om toegang daartoe te kry. Daar is ook ‘n M Mode-knoppie op die beheerpaneel van die middelkonsole. Dit kan gebruik word om die reaksies en inligting van die bestuurshulpstelsels en die inligting op die instrumentepaneel en die skerm tussen die voorruit en die instrumentepaneel te kies. Die bestuurder het die keuse tussen Road, Sport en Track, afhangende van die omstandighede. 

Verskeie veiligheidskenmerke is as standaard toerusting of teen ekstra koste beskikbaar. Onder die standaard kenmerke is parkeer-sensors voor en agter, voorbotswaarskuwing, padteken-herkenning met ‘n snelheidsperkwaarskuwing en baandwaal-waarskuwing. Onder die opsionele ekstras is stuur- en baanbeheerhulp en ‘n skerm agter die voorruit met M-spesifieke inhoud. Onder die standaard kenmerke aan die binnekant is driesone-klimaatbeheer, ligdiode-beligting, ‘n hoëtrouluid-sprekerstelsel, BMW se nuwe digitale instrumentepaneel, en volle Apple Car Play- en Android Auto-integrasie. Diegene wat ‘n staaldak met ‘n ingeboude sondak verkies, kan dit berstel sonder om meer te betaal. 

Dit is nog nie seker wanneer die nuwe M3 en M4 in Suid-Afrika bekendgestel word nie.

Categories:
%d bloggers like this: