In 2014 het BMW die eerste geslag van die X4, ‘n meer sportiewe luikrugweergawe van die X3-sportnutsvoertuig op die mark gebring.

Ongeveer 200 000 eenhede van wat as die eerste suksesvolle sportsaktiwiteits-koepee beskou word, is verkoop en nou volg die tweede geslag, kort op die hakke van die bekendstelling van die plaaslik vervaardigde nuwe X3.

Die nuwe X4 is 81 mm langer as sy voorganger, terwyl die asafstand met 54 mm verleng is. Daarby is hy ook nou 37 mm breër as voorheen. Die kenmerkende niertjie-sierrooster het ‘n drie-dimensionele voorkoms en die LED-kopligte en horisontale misligte vertolk die X-reeks se ontwerprigting op ‘n nuwe manier. Aan die agterkant is daar nuwe horisontale agterligte en alle modelle, ongeag enjingrootte, kry dubbele uitlaatpype; dit alles beklemtoon die motor se wydte. Die M Sport en M Sport X-modelle het unieke stileringskenmerke en wiele van 19 duim wat vir geen ander afwerkingsvlak beskikbaar is nie; dit stel kopers in staat om hul motors te verpersoonlik soos hulle daarvan hou.

Aan die binnekant dra die lae instrumentepaneel, die uitleg wat op die bestuurder gefokus is en die effens hoë sitposisie by tot ‘n uiters genotvolle bestuurservaring. Daar is verskeie opsies vir die X4 beskikbaar, onder meer driesone-klimaatbeheer, aktiewe sitplekventilasie, ‘n panoramiese sondak asook ‘n BMW Display Key.

Aan die begin sal daar twee petrolmodelle en een met ‘n dieselenjin beskikbaar wees. Die hele reeks word met ‘n Steptronic-ratkas met agt gange toegerus. Die X Drive 20i, die X Drive 20d en die X Drive M 40i is reeds beskikbaar, maar die reeks sal vroeg in 2019 uitgebrei word met die toevoeging van die M 40d.

Die X Drive 20i se turbo-aangejaagde petrolenjin van twee liter lewer 135 kW tussen 5 000 en 6 500 opm. Hierdie model se topsnelheid is 215 km/h en hy kan van 0 tot 100 km/h in 8,3 sekondes versnel. Volgens die vervaardiger is sy gemiddelde brandstofverbruik 7,8 liter per 100 km.

Die een nuweling in die reeks is die verrigtingsmodel, die X 40i. Hierdie model word toegerus met ‘n turbo-aangejaagde drieliterenjin wat 265 kW tussen 5 500 en 6 500 opm en wringkrag van 500 Nm tussen 1 520 en 4 800 opm. Die M 40i kan in 4,8 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel terwyl sy topsnelheid elektronies tot 250 km/h beperk word.

Die X Drive 20d word toegerus met ‘n turbo-dieselenjin van twee liter wat 140 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 1 750 en 2 500 opm lewer. Dié model se gemiddelde brandstofverbruik is 5,6 liter per 100 km.

Die X Drive M 40d word in die eerste kwartaal van die 2019 by die reeks gevoeg. Dié nuweling sal die eerste verrigtingsmodel met ‘n dieselenjin in hierdie segment wees en word toegerus met ‘n turbo-dieselenjin van drie liter wat 240 kW teen 4 400 en wringkrag van 680 Nm teen tussen 1 750 en 2 750 opm lewer. Hoewel die M 40i ‘n topsnelheid van 250 km/h kan behaal en in 4,9 sekondes van 0 tot 100 km/h kan versnel, is sy gemiddelde brandstofverbruik slegs 6,6 liter per 100 km.

Die pryse vir die verskillende modelle, is soos volg:
X Drive 20i: R 850 335
X Drive 20d: R 846 542
X Drive M 40i: R 1 144 185
Hierdie pryse is vir die standaardmodelle, sonder ekstras of die opsionele M Sport of M Sport X-pakkette vir die 20i en 20d.  Die hele reeks word gerugsteun deur ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km, wat teen ekstra koste tot 200 000km verleng kan word.

%d bloggers like this: