Die afgelope jaar het BMW sy X-reeks sportnutsvoertuie opgeknap en uitgebrei met die bekendstelling van die X2, asook die nuwe weergawes van die X3 en X4.

Nou is die jongste weergawe van die model wat alles begin het, die X5, in Suid-Afrika beskikbaar. Die aanvanklike reeks bestaan uit twee modelle; die X5 X Drive 30d en die X5 X Drive M 50d. Meer as 2,2 miljoen eenhede van die X5 is sedert sy aanvanklike bekendstelling byna twintig jaar gelede verkoop, en drie geslagte later is dit steeds die markleier in die segment vir topgehalte- sportnutsvoertuie. Soos sy voorgangers sal die nuwe X5 in BMW se aanleg in Spartanburg in die Amerikaanse staat Suid-Carolina vervaardig word. Dit is die fabriek waar die X3, X4 en X6 gebou word; produksie van die X7, die grootste sportnutsvoertuig in BMW se reeks, sal ook binnekort hier ‘n aanvang neem.

Die asafstand van die nuwe X5 is 2 795 mm, 42 mm langer as sy voorganger en die voertuig se lengte van 4 922 mm is 36 mm langer as voorheen. Nie net gee hierdie toename in lengte die motor ‘n meer indrukwekkende voorkoms nie; dit beteken dat daar meer ruimte vir passasiers en hul bagasie is.

Die opvallendste kenmerk van die nuwe X5 se voorkant is ‘n groot sierrooster met LED-kopligte as standaardtoerusting, terwl laserkopligte opsioneel beskikbaar is. Daar is ook LED-agterligte met ‘n driedimensionele ontwerp.

Daar is, naas die oorspronklike afwerking, drie verskillende pakkette wat vir die X5 beskikbaar is, naamlik X-Line, M Sport en Individual. Die X-Line het onder meer dakrelings in aluminium en die stawe binne-in die sierrooster is in chroom afgewerk. Die M Sport bevat syskorte en wielboogafwerking in dieselfde kleur as die bakwerk, asook groter luguitlate aan die voorkant, asook stawe in die sierrooster en dakrelings in hoëglans-swart. Die gewone X5 spog met allooiwiele van 18 duim; die X-Line het 19 duim-wiele en die M Sport kry 20 duim wiele met ‘n dubbelspeek-ontwerp.

Daar is verskeie ontwerpe, van 18 tot 22 duim, om van te kies. Die Individual opsie stel kopers in staat om hul motors verder te verpersoonlik met onder meer unieke verfkleure, getinte kop- en agterligte, BMW Individual-remknypers en 21 duim-allooiwiele in ‘n unieke Individual-ontwerp. Die binneafwerking is splinternuut; die instrumentepaneel is nou heeltemal digitaal, en die uitleespaneel van die raakskerm vorm ‘n eenheid daarmee. Die kontroles van die inligting-en- vermaakstelsel en die nuut ontwerpte ratkieser is op die middelkonsole gemonteer, tesame met alle bestuursverwante kontroles soos die aansitknoppie, die kontroles vir die lugvering en die veldrymodus (indien gespesifiseer). Daar is ook nuwe kontroles vir die klimaatbeheerstelsel.

Elektries beheerde en verhitbare sportsitplekke is standaardtoerusting vir die X5-reeks terwyl kopers ook ‘n masseerfunksie en ventilasie vir die voorste twee sitplekke kan kies. Die M Sport spog met unieke kenmerke aan die binnekant, soos ‘n M Sport-stuurwiel, spesifieke pedale, stikwerk op die sitplekke en aluminiumstroke in die paneelbord en die deure. Daar is ‘n nuwe viersone- klimaatbeheerstelsel en ‘n panoramiese glasdak met ‘n oppervlak wat 30% groter as voorheen is. Benewens die klankstelsel wat standaardtoerusting vir die hele reeks is, is daar ook vir die agterste insittendes ‘n professionele vermaakstelsel opsioneel beskikbaar. Dit bestaan uit twee 10,2 duim- raakskerms met volle hoë definisie, ‘n DVD-speler wat ook BluRay’s kan speel, twee USB-kragpunt, ‘n HDMI-kragpunt en twee sokke vir oorfone. Dit maak dat die agterste insittendes hul eie vermaak kan kies en die stelsel heeltemal onafhanklik kan beheer. Daarby is ‘n navigasiekaart en BMW Connected Drive ook tot die beskikking van die agterste insittendes indien hierdie stelsel gekies word. Die X5 kan ook met bekerhouers wat drankies koud of warm hou, bestel word, asook met splinternuwe glastoepassings vir kontroles soos die ratkieser, die aansitknoppie en die kontrole van die inligting-en-vermaakstelsel.

Die nuwe X5 is meer veelsydig en prakties as sy voorganger. Die tweede ry sitplekke word in ‘n 40-20-40-verhouding verdeel en die agterklap is in twee verdeel om laaiwerk te vergemaklik. Elektriese werking vir die agterklap is opsioneel beskikbaar en die pakkiesrak kan ook met kraghulp in die vloer in sak. Daar sal ook die keuse van ‘n derde ry sitplekke wees; daarmee saam kan dié sitplekke vorentoe en agtertoe geskuif word en in die bakwerk weggevou word deur ‘n knoppie in die bagasiebak te druk.

Twee enjinkeuses sal aanvanklik vir die nuwe X5 beskikbar wees; albei met die X Drive- vierwielaandrywingstelsel en ‘n Steptronic-outomatiese ratkas met agt gange as standaardtoerusting. Die intreemodel op hierdie stadium is die X 5 30d, met ‘n sessilinder- turbodieselenjin met ‘n verplasingsinhoud van drie liter. Hierdie enjin lewer 195 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 620 Nm teen tussen 2 000 en 2 500 opm. Die X5 M 50d is die hudige vlagskip van die reeks; Hierdie eniin bevat twee hoë druk- en twee lae druk turboaanjaers, en dit beteken dat ‘n oorvloed wringkrag reeds teen laer toere beskikbaar is. Hierdie enjin lewer 294 kW teen 4 400 opm en wringkrag van 760 Nm teen tussen 2 000 en 3 000 opm. Albei lae druk turbo-aanjaers en een hoë druk turbo-aanjaer is die heel tyd aktief terwyl die tweede hoë druk turbo-aanjaer eers begin werk sodra die toere meer as 2 500 opm bereik.

Vir die eerste keer kan ‘n veldrypakket saam met die X5 bestel word. Nie net bied dit verdere beskerming aan die onderkant van die voertuig nie, maar ook lugvering op twee aste en ‘n elektronies beheerde agterste ewenaarslot. Die veldrypakket het sy eie grafiese panel op die instrumentepaneel en die vier bestuursmodusse word deur ‘n aparte kontrole op die middelkonsole gekies. Die bestuurder kan die ideale instellings vir die voertuig se ryhoogte, die X Drive-stelsel en die versnellerreaksie kies om deur opppervlaktes soos sand, modder, klippe of grond te ry. Soos wat ‘n mens kan verwag, is verskeie veiligheidskenmerke standaardtoerusting.

Die hele reeks is toegerus met spoedbeheer, asook ‘n waarskuwing wanneer ‘n botsing mag plaasvind of daar ‘n hindernis soos ‘n voetganger of fietsryer in die pad is. Die opsionele aktiewe spoedbeheer kan só verstel word dat die voertuig in swaar verkeer vanself rem en wegtrek. Die tydperk tussen stilhou en wegtrek is na 30 sekondes verleng. Daarby is ‘n bestuurdershulppakket as ‘n opsie beskikbaar. Dit waarsku die bestuurder as hy of sy per abuis van baan verander op die oop pad, asook hulp om ‘n botsing te vermy, vir wanneer daar ‘n voertuig of voetganger skielik in die motor se pad kom. Dit help die bestuurder om die voertuig in ‘n skoon aangrensende baan te kry. Die stelsel waarsku die bestuurder ook as daar ‘n voertuig voor of agter verby beweeg. Daar is ook waarskuwing as die voertuig in die verkeerde rigting beweeg.

Een belangrike nuwe ontwikkeling op die gebied van veiligheidstelsels is noodremhulp wat die voertuig tot ‘n stilstand bring wanneer die bestuurder as gevolg van ‘n mediese toestand nie daartoe in staat is nie. Na gelang van die omstandighede sal die voertuig in ‘n aangrensende baan, of op die skouer van die pad tot stilstand gebring word. Enige verwisseling van bane kan van snelhede tussen 70 en 100 km/h uitgevoer word. Terselfdertyd word die noodflikkers geaktiveer en die oproepsentrum word deur middel van die intelligente noodoproepfunksie van die noodgeval in kennis gestel.

Parkeersensors voor en agter is standaardtoerusting vir die X5, terwyl die parkeerhulpstelsel die bestuurder help om parkeerplekke te identifiseer en te gebruik. Dit word met die druk van ‘n knoppie geaktiveer en sorg vir die nodige ratwisseling, stuurwerk, remming en versnelling. Die nuwe X5 stel ook ‘n nuwe tru-hulpfunksie bekend. Dit help die bestuurder om ‘n parkeerruimte te verlaat of om die voertuig in ‘n nou gebied te bestuur. Hierdie stelsel maak dit soveel makliker om tot 50meter agteruit te ry. Die bestuurder hoef net die omgewing dop te hou en met die versneller en remme te werk. Die stelsel word geaktiveer deur ‘n knoppie te druk terwyl die voertuig stilstaan en die ratkieser in die Park-funksie is.

Die nuwe stuurkajuit bestaan uit ‘n splinternuwe digitale instrumentepaneel en ‘n skerm in die middel van die paneelbord, elk 12,3 duim groot. Die stelsel is aanpasbaar volgens die bestuurder se behoeftes en kan onder meer deur middel van stembeheer of handgebare beheer word. Die grafiese ontwerp van die instrumentepaneel beteken dat daar plek vir die uitleespaneel van die navigasiestelsel is. Die hardeskyf-gebaseerde multimediatelsel het ‘n geheue van 20 GB, terwyl daar Bluetooth- en Wi Fi-verbinding is; die ingeboude SIM-kaart stel die bestuurder in staat om onbeperkte data te gebruik. Die persoonlike verstellings van twee bestuurders kan met behulp van die digitale sleutel ingestel en herroep word.

Teen die tweede helfte van 2019 sal nog ‘n vindingryke nuwe kenmerk in Suid-Afrika beskikbaar wees, naamlik die BMW-digitale sleutel. Die bestuurder kan die voertuig oop- en toesluit met behulp van ‘n selfoon deur net die foon na die deurhandvatsel te wys. Sodra die foon op die koordlose laaier is, kan die enjin aangeskakel word. Daar kan toegang tot die digitale sleutel verkry word deur middel van die BMW Connected-toepassing en tot vyf mense kan dit deel.

Die voertuig se programmatuur kan van ‘n afstand af bygewerk word, en alle veranderinge kan deur die internet gelaai word. Dit kan gedoen word deur Wi Fi by die huis of direk deur middel van BMW se ingeboude SIM-kaart; laasgenoemde word buitendien vir alle belangrike nuwe inligting van die voertuig gebruik.

Die pryse van die X 50 X Drive 30d en die X 5 X Drive M 50d is onderskeidelik R 1 196 200 en R1 493 600. Albei modelle se pryse sluit ‘n volledige onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000km in.

%d bloggers like this: