www.motorplus.co.za

Die jongste toevoeging tot BMW se groeiende X-reeks sportnutsvoertuie is die X2.

Die X2 is die kleinste van BMW se “sportaktiwiteitskoepees” wat ook die X4 en X6 insluit en sy onmiskenbare stilering is daarop gemik om ‘n groot indruk te maak, nie net in sy klas nie maar ook  in die hele BMW X-reeks. Die X2 is gemik op jong mense met ‘n aktiewe leefstyl wat  groot waarde aan individualiteit heg, maar wat steeds veelsydigheid nodig het.

Die dieselmodel  in die X2-reeks word toegerus met BMW se X Drive-aandryfstelsel, terwyl die petrolmodelle voorwielaandrywing het. Dit sluit die S Drive 18i in, wat hom binnekort by die res van die reeks sal aansluit.

Die reeks sal aanvanklik bestaan uit die S Drive 20i en die X Drive 20d; albei beskikbaar met die M Sport- en M Sport X-afwerking.  Die 20i word toegerus met ‘n turbopetrolenjin van twee liter wat 141 kw teen 5 000 en 6 000 opm en 280 Nm teen tussen 1 350 en 4 600 opm lewer. Hierdie model word standard met ‘n sewegang-Steptronic-ratkas met ‘n dubbele koppelaar toegerus.  Die 20i kan in 7,7 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n brandstofbverbruik van 227 km/h bereik. Die gemidddelde brandstofverbruik van die 20i is 5,9 liter per 100 km.

Die ander enjinkeuse, wat van die begin af beskikbaar sal wees, is die 20d, met ‘n turbodieselenjin van twee liter wat 140 kW teen 4 000 opm en ‘n wringkrag van 400 Nm tussen 1 750 en 2 500 opm lewer. Die 20d kan ‘n topsnelheid van 221 km/h bereik en in 7,7 sekondes van 0 tot 100 km versnel. Die 20d se gemiddelde brandstofverbruik is 4,6 liter per 100 km.

Die buitestilering van die X2 bevat ‘n paar uitstaande kenmerke. Die kenmerkende niertjiesierrooster is steeds daar, maar dit word breër van bo na onder word. Dit is die eerste keer wat hierdie ontwerpkenmerk in ‘n moderne BMW voorkom.  Dit gee die voorkant ‘n meer sportiewe voorkoms.  Daar is steeds ronde kopligte maar dit is agter ‘n seshoekige skerm weggesteek en sluit LED-dagryligte in. Volle LED-kopligte is opsioneel beskikbaar. Nog ‘n uitstaande kenmerk is die BMW-kenteken in die C-pilaar wat deur modelle soos die 2000 CS en die 3,0 CSL geïnspireer is en geen twyfel oor die X2 se sportiewe karakter laat nie.

Die hele X2-reeks het 19-duim allooiwiele en dit is die enigste reeks in hierdie klas wat hierdie kenmerk as standaardtoerusting bied. Daar is verskeie ontwerpe om va te kies en twintigduim-wiele is opsioneel beskikbaar.

Die syskorte van die X2 dra by tot sy  geharde voorkoms; op die M Sport-modelle is dit hoofsaaklik in dieselfde kleur as die bakwerk maar die M Sport X het grys syskorte wat die indruk van ‘n hoer grondvryhoogte skep en hierdie model van die M Sport onderskei.

Die agterste drukvlerk van die X2 beklemtoon sy sportiewe voorkoms en dra by tot sy sleurkoëffisiënt van 0,28.  Daar is ook ‘n drukvlerk met ‘n meer sportiewe voorkoms as ‘n opsie teen ekstra koste beskikbaar. Die agterligte is ‘n kombinasie van die T-vorm van ander X-modelle en die L-vorm van BMW-koepees. Dit bevat ‘n LED-strook wat beteken dat die agterligte selfs in die donker maklik gesien kan word. Die agterste stamper van die M Sport X bevat ‘n groot luguitlaat in grys, wat met die res van die stamper kontrasteer.  Daar is een of twee uitlaatpype, afhangende van die enin wat gekies word.

Die X2 is beskikbaar met ‘n groot verskeidenheid bekleedsel. Benewens die antrasietswart materiaalbekleedsel wat standaardtoerusting is, maar daar is ook swart materiaalbekleedsel met kontrasterende stikwerk en vier skakerings van leer, wat die nuwe Magma-rooi insluit, beskikbaar. Die stroke in die deure en die paneelbord is donkersilwer met ‘n swart buitestrook, terwyl vier ander keuses ook beskikbaar is.

Die M Sport X kan van die gewone M Sport onderskei word deurdat grys afwerking vir sekere ontwerpelemente wat van elke hoek af sigbaar is, gebruik word. Hierdie elemente is veral deur motorsport geïnspireer en  en gee die X2 ‘n meer sportiewe voorkoms. Daar is agt kleure beskikbaar, onder meer Misano-blou en ‘n goue skakering bekend as Galvanic Gold.  Die M Sport X het ‘n unieke stel allooiwiele van negentien duim, maar wiele van twintig duim is opsioneel beskikbaar. Laasgenoemde wiele trek nie net die aandag weens hul grootte nie maar, volgens BMW, ook weens hul uitspattige ontwerp.

Die X2 word toegerus met BMW se Connected Drive-stelsel wat inligting en vermaak vir die bestuurder bied; die sesde geslag van BMW se iDrive-beheerstelsel is standaardtoerusting maar stembeheer en ‘n raakskerm wat ook deur die voorste passasier gebruik kan word, is opsioneel beskikbaar. Daarby kan voornemende eienaars ook ‘n uitleespaneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel teen ekstra koste bestel. Die hele X2-reeks het ‘n vystaande skerm van 6,5 duim as standaardtoerusting maar dit kan teen ekstra moste na ‘n navigasiestelsel of ‘n raakskerm van 8,8 duim opgegradeer word. Die skerm wat standaardtoerusting vir die hele reeks is, gee die bestuurder die belangrikste inligting wat op enige gegewe tydstip benodig word terwyl die opsionele navigasiestelsel op dieselfde beginsel as ‘n slimfoon werk,

BMW Connected+ maak die koppeling van ‘n slimfoon moontlik en die stelsel is so maklik as moontlik gemaak om te gebruik. Een uitstaande kenmerk is die Share Live Trip-status wat maak dat die bestuurder sy of haar ligging en verwagte aankomstyd met onder meer vriende en familie kan deel.

Benewens die verwagte veiligheidskenmerke soos ABS-remme, elektroniese remvespreiding, noodremhulp en lugsakke is dieX2 ook beskikbaar met bestuurshulpstelsels soos ‘n waarskuwing as die bestuurder per abuis van baan verwissel, rwemhulp wanneer daar ‘n botsing kan voorkom en aanpasbare spoedbeheer wat die voertuig help om ‘n konstante snelheid van tussen 30 en 140 km/h te handhaaf.

Pryse

Die pryse van die X2-reeks, sonder opsionele ekstras, lyk soos volg:
X2 sDrive 18i M Sport: R 591 300
X2 sDrive 18i M Sport X: R 600 200
X2 sDrive 20i M Sport Steptronic:  R 642 200
X2 sDrive 20i M Sport X Steptronic: R 671 900
X2 xDrive 20d M Sport Steptronic: R 692 900
X2 xDrive 20d M Sport X Steptronic: R 722 600

Die pryse sluit BMW se Motorplan in; dit is ‘n onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000km wat teen ekstra koste tot 200 000 km verleng kan word.

%d bloggers like this: