Breaking News

Chery is terug!

Nadat die Suid-Afrikaanse publiek lank moes wag en daar heelwat bespiegeling plaasgevind het, het Chery eindelik sy terugkeer na die Suid-Afrikaanse mark aangekondig.

Die eerste nuwe model wat hier bekendgestel is, is die Tiggo 4 Pro, terwyl die reeks in 2022 uitgebrei sal word met die toevoeging van die Tiggo 7 Pro en die Tiggo 8 Pro.

Die Tiggo 4 Pro is die eerste nuwe model wat Chery se nuwe ontwerprigting weerspieël. Die groot sierrooster bevat verskeie diamantvormige gate wat kleiner word hoe nader dit aan die Chery-kenteken beweeg en ‘n driedimensionele effek skep. Outomatiese kopligte en ligdiode-dagryligte is standaardtoerusting vir die hele reeks. Die vooraansig word afgerond met ‘n enjinkap met ‘n gespierde voorkoms en ‘n bykomende rooster in die voorstamper. Aan die kant is daar gentegreerde dakspore en karakterlyne wat hom ‘n sportiewe voorkoms gee. Aan die agterkant is daar ‘n hooggemonteerde stoplig, ‘n drukvlerk op die agterklap en dubbele verchroomde uitlaatpype.

Daar is ‘n keuse van twee 1,5 liter-viersinliderenjins, met of sonder ‘n turbo. Die enjin sonder die turbo lewer 83 kW teen 6 150 opm en het ‘n wringkrag van 138 Nm teen 4 000 opm. Hierdie enjin is beskikbaar met ‘n vyfgang-handratkas of ‘n palwissel (CVT)-ratkas met nege stappe. Die turboaangejaagde enjin lewer 108 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 210 Nm teen tussen 1 750 en 4 000 opm. Hierdie enjin is beskikbaar met die CVT-ratkas of ‘n sesgang-handratkas. Die turbomodelle met die CVT-ratkas bied ook ‘n keuse tussen verskillende bestuursmodusse.

Die veiligheidskenmerke wat standaardtoerusting vir die hele reeks is, sluit die volgende in: ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en ‘n elektroniese parkeerrem, stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, wegtrekhulp , ‘n stelsel wat bakrol teenwerk en afdraande-hulp.

Altesaam vyf modelle met vier spesifikasievlakke is beskikbaar.  Die intreemodel is die Urban met die gewone 1,5 liter-enjin en die vyfgangratkas. Onder sy standaardkenmerke is allooiwiele met 215/65 R 16-bande, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, elektriese buitespieëls,  ‘n 3,5 duim TFT-multi-inlitingskerm vir die instriumentepaneel, ‘n 10,25 duim raakskerm met Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play, asook twee USB-kragpunte voor en een agter en vier luidsprekers. Daar is materiaalbekleedsel vir die sitplekke en die agtersitplekke is in ‘n 60/40-verhouding verdeel.  Die Comfort is net beskikbaar met die gewone 1,5 liter-enjin en die CVT-ratkas. Sy bykomende kenmerke sluit die volgende in: ‘n trukamera, buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word, spoedbeheer en die vermoë om die motor , asook die vensters, met behulp van afstandbeheer te sluit.

Daar is drie Elite-modelle, almal met die turboaangejaagde enjin, beskikbaar. Die Elite bied die keuse van ‘n sesgang-handratkas of ‘n CVT-ratkas met verskillende bestuursmodusse. Onder die Elite se bykomende kenmerke is stembeheer, wat verskillende aksente en uitsprake verstaan, dubbelsone-klimaatbeheer, ‘n digitale seweduim-instrumentepaneel, gordynlugsakke, leerbekleedsel, elektries verstelbare voorsitplekke, ‘n banddrukmonitor, allooiwiele met 225/60 R 17-bande en swart afwerking, verligte skermplate aan die binnekant van die deure, ‘n sondak, ‘n leerstuurwiel en ruitveërs waarvan die spoed aanpas soos wat dit harder reën. Die Elite SE is die vlagskip van die reeks en bied kenmerke soos rooi afwerking aan die buitekant, onder meer in die onderste stamper en die kantstroke asook rooi stikwerk vir die sitplekke en rooi afwerking vir die deurhandvatsels en atmosfeerbeligting aan die binnekant.

Die hele reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van  vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 60 000 km. Chery is ook die eerste ervaardiger wat ‘n enjinwaarborg van tien jaar of ‘n miljoen kilometer bekendstel, maar sekere beplaings en voorwaardes geld.

Die pryse van die verskillende modelle lyk só:

  • Tiggo 4 Pro Urban: R 269 900
  • Tiggo 4 Pro Comfort CVT: R 299 900
  • Tiggo 4 Pro Elite 6 MT: R 319 900
  • Tiggo 4 Pro Elite CVT: R 349 900
  • Tiggo 4 Pro Elite SE CVT: R 359 900

 

%d bloggers like this: