Breaking News

Citroën C3 opgeknap

Die opgeknapte weergawe van die Citroën C3 is nou in Suid-Afrika beskikbaar.

Hoewel die nuwe C3 meganies dieselfde as sy voorganger is, spog die nuwe model met ‘n aantal bykomende kenmerke wat hom selfs veiliger en meer aantreklik as sy voorganger maak.

Die nuwe C3 word toegerus met beter klankdemping as voorheen, terwyl die voorste insittendes die nuwe Advanced Comfort-sitplekke sal waardeer. Daarby is daar ‘n waarskuwing wanneer die bestuurder se aandag dwaal, asook ‘n waarskuwing dat die bestuurder ‘n ruskans moet neem wanneer hy twee ure lank aaneen bestuur het. 

Twee spesifikasie-vlakke is beskikbaar. Die intreemodel is die Feel, wat aangedryf word met ‘n drie-silinder enjin Pure Tech-enjin van 1,2 liter wat 60 kW teen 5 750 opm en wringkrag van 118 Nm teen 2 750 opm lewer en net met ‘n vyfgang-handratkas beskikbaar is. Die Feel se standaard kenmerke sluit die volgende in: 15-duim staalwiele met wieldoppe, kleurgekodeerde stampers en buitespieëls, ligdiode-kopligte met dagryligte, outomatiese lugversorging, elektriese vensters voor, programeerbare spoedbeheer met instelling van spoed-beperkings, noodflikkers wat outomaties geaktiveer word wanneer daar in ‘n noodsituasie gerem word, ‘n banddruk-monitor, ‘n 7-duim raakskerm met Bluetooth-verbinding, baandwaal-waarskuwing en wegtrekhulp.

Die Shine is die topmodel van die reeks, en hy word aangedryf deur ‘n torbo-aangejaagde weergawe van die 1,2 liter Pure Tech-enjin. Hierdie enjin lewer 81 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 205 Nm teen 1 500 opm en is slegs beskikbaar met ‘n outomatiese ratkas met ses gange. Die Shine spog met die volgende bykomende kenmerke: 16 duim allooiwiele, buitespiels wat ingevou kan word, outomatiese kopligte en ruitveërs, elektriese vensters agter, Apple Car Play en Android Auto met Mirror Screen, wat die skerm van die gebruiker se slimfoon op die motor se raakskerm weerspieël, voorste misligte en die keuse van tweekleurverfwerk. Die Shine het ook die kenmerkende Airbump aan die kant van die bakwerk as standaardtoerusting; dit is breë skermstroke wat die motor se buitekant teen geringe skade beskerm. 

Peugeot Citroën Suid-Afrika (PCSA) het moeite gedoen om naver-koopdiens te verbeter, en die volgende voordele is, benewens die waarborg van vyf jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km, by die prys ingesluit: ‘n hoflikheidsmotor wanneer die motor gediens word, ‘n onderdelemandjie met vasgestelde pryse, Microdot, vir vinnige indentifikasie van die voertuig in die geval van diefstal en ‘n herninnerings-kennisgewing wanneer die motor se lisensie gaan verval. 

Die pryse van die Feel en die Shine is onderskeidelik R 269 900 en R 324 900.

 

%d bloggers like this: