Swart Isuzu is terug as die D-Max X-Rider Black

“Back in black” is nie meer net die titel van ‘n album van AC/DC nie.

Die Isuzu X-Rider Black, wat in 2018 as ‘n beperkte model beskikbaar was, was so gewild dat Isuzu Motors Suid-Afrika (IMSA) besluit het om hom  weer vry te stel, maar hierdie keer met die D-Max-kenteken (Die vorige Isuzu X-Rider Black was nog die KB X-Rider Black-kenteken vervang het.

Hierdie model is  gebaseer op die D-Max X-Rider 4×2 dubbel-kajuit.  Soos die naam aandui, is dit net met die Black Meet Kettle-bakkleur beskikbaar; dit gee hierdie model ‘n kenmerkende voorkoms tesame met die unieke kenmerke wat die X-Rider van sy stalmaats onderskei.  Die X-Rider Black beskik oor ‘n doelgerigte voorkoms wat die koppe laat draai. Dit sluit kenmerke soos swart wiele en ander swart bykomstighede in.

Daar is ‘n swart voorste stamper met projektorkopligte wat LED-dagryligte bevat, asook voorste misligte. Die allooiwiele van 18 suim bevat die Isuzu naam in rooi ; verdere kenmerke wat die X Rider Black onderskei, is swart B-pilare,  swart kanttrappe en ‘n swart rolstaaf in die laaibak met die X Rider-kenteken. Hierdie kenteken kom ook op die voorste deure en die agterklap voor.

Aan die binnekant is daar swart leerbekleedsel met rooi stikwerk en die X Rider-kenteken wat in die kopstutte geborduur is. Daar is ook rooi stikwerk op die stuurwiel, wat die Isuzu-naam in rooi bevat, asook die kous van die rathefboom. Daar is klavierswart afwerking op die paneelbord en by die luguitlate terwyl die deure ook rooi X-insetsels het.

Soos die res van die X Rider-reeks is die Black toegerus met ABS-remme met elektroniese remverspreiding, vastrapbeheer, twee lugsakke en ISOFIX-hegpunte op die agtersitplekke. Daarby is ‘n klankstelsel met Bluetooth-verbinding, ‘n USB-kragpunt en kontroles op die stuurwiel standaardtoerusting.

Die X Rider Black word toegerus met dieselfde enjin en ratkas as die gewone X Rider-modelle.  Dié turboaangejaagde dieselenjin van 2,5 liter lewer 100 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen  1 800 en 2 200 opm en ‘n vyfgang-handratkas is standaardtoerusting.  Die X Rider Black se gemiddelde brandstofverbruik is 7,7 liter per 100 km.

Die sukses van die X Rider is ‘n bewys dat daar groot aanvraag vir ‘n taai en betroubare bakkie is wat terselfdertyd waarde vir geld bied. Dieselfde beginsel behoort vir vir die X Rider Black te geld.

Die hele Isuzu bakkie-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000 km, padbystand vir dieselfde tydperk, ‘n waarborg teen korrosie vir vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerafstand en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km.  Die padbystand en diensplan kan teen ekstra koste verleng word, en ‘n onderhoudsplan is ook beskikbaar.

%d bloggers like this: