Daewoo-vragmotors

0 Comments

Daewoo-vragmotors reg vir Afrika-toestande.

Deur Daantjie Badenhorst.

 

Daewoo vervaardig vragmotors vir langafstandvervoer en konstruksie, en die bruto voertuigmassa van die verskillende modelle wissel van 15 ton tot 100 ton. Twee modelreekse, die Novus en die Maximus, is in Suid-Afrika beskikbaar; dit is onderskeidelik die kleiner en groter reekse.

 

Die Daewoo Novus vragdraer.

Die Daewoo Novus-reeks wat pas bekendgestel is, bestaan uit die K7CEF 6×4-vragdraer, die K5DEF 6×4 wipbak en die K5MVF-sementmenger. Die vragdraer beskik oor die hoogste toelaatbare brutokombinasiemassa van 56 ton in sy kategorie asook die laagste tare-gewig en die langste asafstand in sy marksegment.

Die Doosan DE 12 TI-enjin is ‘n bekende enjin in die vervoerbedryf. Dié turbo-aangejaagde 11,1 liter enjinoortref alle mededingers in die Euro II-segment. Dié enjin lewer 250 kW teen 2 100 opm en het ‘n wringkrag van 1 324 Nm teen 1 260 opm, die beste onder die Euro II-mededingers.

Die Novus het ‘n Europees-geïnspireerde slaapkajuit as standaardtoerusting, tesame met ‘n bestuurdersitplek met lugvering; dit skep ‘n funksionele en gemaklike omgewing vir die bestuurder.

Die Maximus is ‘n doelgeboude vragmotor en twee weergawes is beskikbaar na gelang van die koper se behoeftes. Die 15 liter Cummins-enjin het ‘n kraglewering van 354 kW teen 2 000 opm en het ‘n wringkrag van 2 509 Nm teen 1 200 opm.  Daar is ‘n keuse van twee ratkaste, naamlik ‘n Eaton-ratkas met agttien ratte of ‘n ZF Astronic-ratkas met twaalf gange; elk met handratfunksies.  Die kajuit het ‘n Europese voorkoms en die gerieflike kajuit dra by tot produktiwiteit.

Sedert 2018 het klante wat die Maximus ervaar het, positiewe terugvoer gelewer. Piet Stemmet, die eienaar van PA Stemmet vervoer, het byvoorbeeld besluit om sy Maximus-vloot uit te brei en volgens hom is die standaardwaarborg van drie jaar of 600 000 km ‘n bewys van die vertroue wat daewoo in sy produk het.

Daewoo Magnus vragmotors.

Daewoo-vragmotors is bekend daarvoor dat hulle tot ‘n miljoen kilometer kan aflê; duursaamheid, betroubaarheid en lae loopkostes is eienskappe van die Daweoo-reeks.

Trucks Korea is in 1972 gestig as ‘n maatskappy wat swaar en ekstra swaar voertuie in tegniese samewerking met General Motors vervaardig het.

In 2004 het die maatskappy deel geword van die Tata-groep. Die eerste Daewoo Novus-swaardiensvragmotor is in 2005 in Suid-Afrika bekendgestel en in die opeenvolgende jare het Daewoo aanlegte in Suid-Afrika, Kenia, Algerië en Nigerië, asook in Rusland, Pakistan en die Filippyne opgerig.

Tata Africa, ‘n onderafdeling van Tata International, het die Daewoo-vragmotorreeks in Afrika begin versprei en Suid-Afrika was die eerste land wat die reeks in 2005 bekendgestel het.

Daewoo Trucks Suid-Afrika is verbind tot die tradisie om produkte te bied wat aan kopers se behoeftes voldoen, met goeie spesifikasievlakke wat lae loopkoste, duursaamheid en  veiligheid vir bestuurders en vragte bied,en soveel tyd as moontlik op die pad kan deurbring.  Daarby is naverskoopdiens , opleiding en beskikbaarheid van onderdele van kritieke belang.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: