Dakar 2020 Dag 2

0 Comments

Die tweede dag van vanjaar se Dakar-wedren was besonders vir Suid-Afrikaanse deelnemers aangesien drie renjaers podiumplekke behaal het, waaronder twee skof-oorwinnings.

 

Motor-afdeling.

Giniel de Villiers, wat vir die Toyota Gazoo Racing-span jaag, het ‘n baie goeie tweede dag beleef en die skof in die motor-kategorie gewen. Op die eerste dag het hy vier keer pap wiele gehad en met sy oorwinning  op Dag 2 het hy algeheel van die veertiende tot die vyfde plek gevorder. Orlando Terranova het die skof in die tweede plek in sy MINI voltooi en Sheik Al Qassimi het derde gekom in sy Peugeot. In die vierde plek was Mathieu Serradori in ‘n “strandgogga” wat in Suid-Afrika gebou is en deur ‘n Chevrolet Corvette-enjin aangedryf word.

In die kategorie vir motors het die eerste tien plekke die heeltyd gewissel; De Villiers was bestendig terwyl Al Rajhi sy plaaslike kennis benut het deur ‘n groot voorsprong op te bou terwyl sy mededingers hul bande opgepas het soos hulle die roete leer ken het. Al Qassimi het aan die begin voor gejaag maar moeilikheid ondervind. Die  verdedigende kampioen Nasser Al Attiyah het daarna tot die stryd toegetree totdat hy ook probleme ondervind het. Dit het gemaak dat De Villiers die tweede plek agter die Russiese renjaer Vladimir Vassiliev se MINI, wat later ook in die moeilikheid sou beland, ingeneem het. Agter hulle het die MINI-renjaers, die oornag-voorloper Vaidotas Zala, die Dakar-veteraan Stephane Peterhansel en die tweemalige wenner Carlos Sainz asook Al-Attiyah en sy Toyota-spanmaat Berhardt ten Brinke almal teëspoed gehad, as gevolg van navigasie, pap wiele en ander drama. Die tweemalige Formule 1 Wêreld-kampioen, Fernando Alonso van Spanje, wat in sy eerste Dakar-wedren vir die Toyota Gazoo Racing-span deelneem, is twee ure lank in die woestyn vertraag toe sy voertuig skade aan sy veerstelsel opgedoen het.

Conrad Rautenbach, wat vir die PH Sport-span in die kategorie vir huisraam-voertuie deelneem, het van die dertiende plek na die sesde plek en later die derde plek opgeskuif, voordat hy die voortou in die klas geneem het. Hy en die Spaanse renjaer Hinojo Lopez was twee jaers wat in ‘n stryd tussen vyf jaers om die eerste plek betrokke was. Mike Horne, wat saam met Cyril Despres deelneem, het die skof in die agtste plek voltooi, terwyl Hennie de Klerk en Johann Smalberger se Red-Lined Nissan Navara van die 59de plek na die 33de plek opgeskuif het. Thomas Bell van Brittanje se Suid-Afrikaanse Red-Lined Nissan Navara,  het die skof in die 49ste plek voltooi.

 

Motorfiets-afdeling.

In 2018 was Ross Branch die nuweling van die jaar en aanvanklik was hy in die tweede plek agter die Honda-jaer Joan Barreda. Branch het egter die voortou met sy KTM geneem teen die tyd wat die deelnemers die derde beheerpunt bereik het. Branch neem deel met ‘n privaat ingeskrewe KTM, terwyl nie minder nie as vyftien jaers deelneem op motorfietse wat deur die onderskeie vervaardigers ondersteun word.  Sam Sunderland (KTM) en Pablo Quintanilla (Husqvarna) het die skof in onderskeidelik die tweede en derde plekke voltooi. Die Argentynse broers Kevin en Luciano Benadives op ‘n Honda en ‘n KTM onderskeidelik het die volgende twee plekke ingeneem. Die oornag-voorlopers, Toby Price (KTM) en Ricky Brabec (Honda) het ‘n slegte dag beleef, maar nie so erg soos die Suid-Afrikaanse nuweling Aaron Maré, wat moes onttrek nadat hy sy pols gebreek het, nie.  Dit was ook die eerste dag van die marathon vir motorfietse met twee en vier wiele waartydens die voorste jaers se tyd om instandhoudings werk toe doen, tot tien minute aan die einde van die dag beperk word.

Die derde skof van 427 km vind rondom Neom in Saoedi-Arabië op 7 Januarie plaas.

Categories:
%d bloggers like this: