Datsun Go kry CVT-ratkas

0 Comments

Die Datsun Go en Go+-reekse is pas uitgebrei met die toevoeging van modelle met ‘n palwissel (CVT)-ratkas.

Hierdie ratkas is net vir die twee Lux-modelle beskikbaar. Benewens die nuwe ratkas, word die CVT-modelle ook met stabiliteits-beheer en ‘n waarskuwing vir die voorste passasier om vas te gordel, toegerus. Twee lugsakke, ABS-remme met elektroniese rem-verspreiding en noodrem-hulp en vastrapbeheer, asook agterste parkeersensors, volg-my-en-lei-my-kopligte  en 14 duim-allooiwiele is standaardtoerusting vir al die Lux-modelle.  

Aan die binnekant is ‘n inligting-en-vermaak stelsel met Apple Car Play en Android Auto standaard toerusting, asook elektriese vensters voor en agter 

Dieselfde 1,2 liter drie-silinder enjin wat in die res van die reeks gebruik word, kom in die CVT-modelle voor, maar hoewel die wringkragsyfer van 104 NM dieselfde is, lewer die CVT-modelle se enjin 57 kW, sewe kW meer as dié van die handrat-modelle. 

Die besturende direkteur van Datsun Suid-Afrika, Hide Kuwayama, glo dat die CVT-modelle die Datsun Go-reeks se gewildheid verder sal verhoog; volgens hom streef Datsun daarna om nuwe tegnologie op die mark te bring en om soveel mense die geleentheid te gee om ‘n betroubare motor wat goeie waarde vir geld bied, te besit.

Die Go-reeks is beskikbaar in rooi, silwer, grys, wit, oranje en ‘n nuwe skakering van blou, bekend as Vivid Blue. Die Go+ is ook in bruin beskikbaar ,maar nie in blou nie.

Die pryse van die Go Lux CVT en die Go + Lux CVT is onderskeidelik R 184 200 en R 194 800.  Dit sluit ‘n waarborg van ses jaar of 150 000 km in.

Categories:
%d bloggers like this: