Sedert Datsun se terugkeer na Suid-Afrika in 2014 moes dié vervaardiger se produkte onder venynige kritiek van veral die motorpers se kant af deurloop, selfs al het veral die Go -luikrug uiters gewild geword.

Toe MotorPlus in 2017 die “Go Lux”-model getoets het, was die gebrek aan veiligheidskenkerke, soos dubbele lugsakke en rukstop-sitplekgordels vir die agterste insittendes die grootste beswaar teen die motor, maar daar is dalk goeie nuus op pad vir dié wat daaroor bekommerd is.

Die Datsun-reeks is pas in Indonesië uitgebrei met diue bekendstelling van die Cross, ‘n veeldoelvoertuig met sewe sitplekke wat op die Go+ gebaseer is. Die Cross se veiligheidspesifikasies is aansienlik beter as dié van sy stalmaats aangesien ABS-remme, dubbele lugsakke en stablilteitsbeheer standaardtoerusting is. Anders  as die Go en Go+ is hy ook met ‘n agterste ruitverwarmer en -veër toegerus.

Die Cross is gebaseer op die Go+, maar daar is verskeie stileringskenmerke wat hom onderskei. Aan die voorkant is daar groot misligte wat deur die Cross-konsepmodel geïnspireer is, allooiwiele van 15 duim en dik swart skermstroke aan die onderkant van die bakwerk. Die Cross se veerstelsel is hoër as dié van die Go+.

Onder die enjinkap word ‘n effens kragtiger weergawe van die Go se bekende driesilinderenjin van 1,2 liter aangetref; die Cross se weergawe lewer 57 kw. Daarby is ‘n CVT-ratkas ook vir die Cross beskikbaar.

Binne is daar weinig wat verklap dat die Cross op ‘n intreevlak-motor gebaser is. Die luguitlate in die middel van die paneelbord is meer modern,  die instrumentepaneel kry nuwe wyserplate, die afwerking van die paneelbord is in silwer en nagemaakte koolvesel en daar is ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n raakskerm.

Dit is te vroeg om te sê of die Cross in Suid-Afrika bekendgestel sal word, maar dit kan as ‘n plaasverganger vir die Go+ , of ‘n bykomende model in die plaaslike reeks oorweeg word.

%d bloggers like this: