In 2014 het Datsun sy terugkeer tot die Suid-Afrikaanse mark gemaak met die bekendstelling van die Go-reeks.

 

Twee jaar later is die reeks uitgebrei toe die Go+, ‘n mensekarweier met sewe sitplekke, bekendgestel is. Ten spyte van venynige kritiek as gevolg van gebrekkige veiligheidskenmerke het veral die Go gewild geword as gevolg van sy bekostigbaarheid en lae loopkostes. Nou het Datsun die nuwe Go-reeks bekendgestel, en hierdie keer is daar vyf modelle; die Go en Go+, elk beskikbaar met die Mid- en Lux-spesifikasievlakke, en die Go+ paneelwa.

rhdr

Die Go-reeks behou hul voorgangers se 1,2 liter-driesilinderenjin wat 50 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 104 Nm teen 4 000 opm lewer. Soos voorheen is ‘n vyfgang-handratkas standaardtoerusting. Die Go Mid is in 2017 stilweg aan die mark onttrek omdat Datsun op die Lux gekonsentreer het, maar hierdie spesifikasievlak is weer beskikbaar, en nie so kaal gestroop soos voorheen nie. Die hele reeks beskik voortaan oor veiligheidskenmerke soos ABS-remme, twee lugsakke, rukstopsitplekgordels vir al die insittendes, volg-my-en-lei-my-kopligte, en ruitveërs met ‘n spoedsensitiewe onderbroke aksie.

 

Onder die ander nuwe kenmerke wat vir die eerste keer standaardtoerusting vir die Go Mid is, is elektriese buitespieëls, ‘n paneelkissie met ‘n deksel, 14-duim wiele met volle wieldoppe, ‘n inligting- en-vermaakstelsel met Bluetooth-verbinding, Android Auto en Apple Car Play, USB- en AUX- kragpunte, asook elektriese vensters voor en agter, afsonderlike voorste sitplekke en ‘n handrem tussen die sitplekke eerder as onder die paneelbord. Die instrumentepaneel is ook herontwerp. Die Lux-modelle voeg ‘n aantal kenmerke by, waaronder 14 duim-allooiwiele, LED-dagryligte en ‘n agterruitveër en wasser. Die vervaardiger het ook aangekondig dat verskeie bykomstighede beskikbaar sal wees, soos 15 duim-allooiwiele, ‘n dakdrukvlerk en verskeie ander items. Die Go-reeks word gerugsten deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km, en diensplanne is teen ekstra koste beskikbaar. Daarby word elke nuwe Datsun ‘n jaar lank omvattend verseker.

 

 

Die Datsun Go-reeks se pryse lyk soos volg:

Go Mid: R 144 500
Go + Mid: R 154 200
Go+ paneelwa: R 155 200
Go Lux: R 165 500
Go+ Lux: R 175 900

%d bloggers like this: