Deur Neels Rabe.

Geen vervaardiger durf dit waag om die gewildheid van sportnutsvoertuie te ignoreer nie. Neem Porsche as voorbeeld. Hoeveel Porsches is gereeld op openbare paaie gesien totdat die Cayenne en Macan hul opwagting gemaak het? Natuurlik het Porsche puriste aanvanklik in hul Schnapps gestik toe Porsche hul toetrede tot die sportnutsvoertuig-mark aangekondig het, maar rekord verkope die afgelope paar jaar laat die Stuttgart-rekenmeesters breed glimlag.

Daarom het dit as geen verrassing gekom toe Alfa Romeo aangekondig het dat hulle ‘n sportnutsvoertuig beplan nie. Maar sou dit steeds ‘n rasegte Alfa wees, het die passievolle Alfa ondersteuners senuagtig gewonder? Of gaan dit ‘n effens lomp poging wees om darem ook ‘n voertuig in die hoogs winsgewende sportnutsvoertuig mark te hê, maar wat waarskynlik nie deur tradisionele Alfa liefhebbers gekoop sou word nie. Alfa se reputasie was op die spel.

Uiterlike skoonheid is tydelik

Of is dit? Alfa slaag skitterend daarin om ‘n groot voertuig (4.7 m lank en 1.7 m hoog) te skep wat onmiskenbaar Alfa Romeo is, en ‘n baie mooi Alfa daarby! Om die waarheid te sê, die Stelvio het ‘n baie hegter band met sy kleiner boeties as die meeste vervaardigers wie se sportnutsvoertuie eerder soos ‘n stiefbroer, of vêrafgeleë familielid lyk. Soos ‘n mens kan verwag van ‘n voertuig in hierdie klas, staan hy breed (2.2 m om presies te wees) en trots op sy 18 duim wiele. Stilering is aggressief, tipies Italiaans, effe emosioneel.

Klim in die ruim kajuit, en jy word begroet met kwaliteit leerafwerking. Die instrumentepaneel bevat ‘n REGTE toereteller en spoedmeter, nie digitale “namaaksels” soos wat sommige fynproewers dit beskou nie. Die stuurwiel is “besig”, met heelwat knoppies, maar ‘n mens word gou daaraan gewoond. Uniek is die aansit-knop wat ook op die stuurwiel monteer is. Die informasie-skerm is ‘n 22 cm weergawe. Dit bevat funksies wat ‘n mens tipies van hierdie klas motor sal verwag, insluitende 3D navigasie.

Die groot agterdeur maak met die druk van ‘n knoppie self oop om ‘n 525 liter bagasieruimte te ontbloot. Selfs voormalige SARS onder-kommissaris, Jonas Makwakwa, sou dit moeilik vind om hierdie bagasiebak te vul vir sy gereelde outobank kontant inbetalings.

Laat die wiele draai

Natuurlik die mees belangrike vraag wanneer ‘n mens ‘n Alfa toets, is hoe bestuur hy? Die Stelvio se naam word ontleen aan die beroemde bergpas in Noord-Italië, bekend vir sy 48 haarnaald draaie. Alfa het die Stelvio van meet af ontwerp met uitstekende hantering in gedagte. Slaag hulle daarin? JA, JA, JA…!

Dis die eerste keer wat ‘n voertuig met ‘n “voller figuur” (die ingenieurs kon sy gewig tot 1 660 kg beperk) soos ‘n groot renstel bestuur. Die vering is duidelik sportief ontwerp, dus weinig bakrol in draaie. Die besonder direkte stuur maak vinnige rigting verwisselinge ‘n absolute plesier. Die 50/50 gewigsverspreiding dra daartoe by dat hierdie Alfa deur tradisionele Alfa ondersteuners opgeraap sal word.

Wat die plesier faktor nog opjaag, is die 2 liter turbo petrol aluminium enjin met sy 204 kW (280 perdekrag) en 400 nm wringkrag. Nul tot 100 km/h is onder 6 sekondes! Die programmering van die 8-spoed outomatiese ratkas kon egter die hele spulletjie bederf het as hy nie op die regte tyd oor geskakel het nie. Dankie tog die manne met die dik brille het dit reggekry. Die groot mandjie vol heerlik bruikbare krag word op die pad gesit deur Alfa se Q4 4-wiel aandryf stelsel. Die agterwiele kry die grootste deel, maar indien nodig word tot 50% van die krag gedeel met die voorwiele.

‘n Knoppie tussen die voorsitplekke stel jou instaan om die beheerstelsel een van drie opdragte te gee.  Jy wil soveel petrol as moontlik spaar, of jy wil normaal ry, of jy wil breed glimlag. Petrolverbruik met die “breed glimlag” instelling is natuurlik nie te waffers nie.

Negatiewe punte? Ja, daar is. As jou plaaslike munisipaliteit bankrot is, sal jy waarskynlik vind dat die Stelvio bietjie stamperig ry op jou dorp se onversorgde strate. Alfa sal goed doen deur die suspensie instellings dramaties saam met bogenoemde knoppie aan te pas. Ek het die remme, spesifiek wanneer ‘n mens hard moes rem, amper vreemd gevind. Dis asof jy dan harder moet trap as normaalweg. Hierdie is waarskynlik ‘n funksie van die “drive by wire” remme. Maar dis iets waaraan ‘n mens gewoond sal kan word.

Banksake

Alfa was nog nooit goedkoop nie, en die Stelvio is geen uitsondering nie. Twee modelle is tans beskikbaar (beide gebruik dieselfde petrol enjin).

Stelvio 2.0T Super – R810 000

Stelvio 2.0T First Edition – R946 000

Die First Edition se binnekant is meer luuks (o.a. vol-grein leer sitplekke wat verwarm kan word ensovoorts). Hy het ‘n elektriese sondak, en die wiele groei van 18 duim na enorme 20 duim allooi wiele.

Alle modelle het ‘n drie-jaar/100 000 km waarborg en word verkoop met ‘n 6-jaar/100 000 km onderhoudsplan.

Sien ook: Alfa Romeo Stevio is hier.

%d bloggers like this: