Die Etios is dood, lank lewe die Starlet

0 Comments

In 2019 het ‘n samewerkings-ooreenkoms tussen Toyota en Suzuki in Indië tot stand gekom ingevolge waarvan dié twee maatskappye modelle saam sal ontwikkel en deur albei bekendgestel sal word.

Die ooreenkoms is voordelig vir albei maatskappye; dit gee Suzuki toegang tot Toyota se hibriede-tegnologie en vir Toyota gee dit toegang tot Suzuki se kompakte motors; ‘n gebied waarin dié maatskappy nog altyd uitgeblink het.

Die eerste model wat ingevolge hierdie ooreenkoms in Suid-Afrika bekendgestel word, is die Starlet, wat op die Suzuki Baleno gebaseer is. Die Starlet sal die Etios, waarvan internasionale produksie in Maart 2020 gestaak is, in Suid-Afrika vervang en ook in ander Afrika-lande beskikbaar wees. Hoewel die Starlet, wat in Indië as die Glanza bekendstaan, in Indië vervaardig word en daarvandaan hiernatoe ingevoer word, is die spesifikasievlak volgens die Suid-Afrikaanse motoris se behoeftes bepaal. Toyota verwag om ongeveer 500 eenhede per maand te verkoop.

Die enigste bakvorm waarin die Starlet beskikbaar sal wees, is ‘n luikrug met vyf deure en daar is geen planne om die Etios sedan te vervang nie. Die buiteontwerp beskik oor ‘n klassieke luikrug-profiel met ‘n kort neus en ‘n afgeronde luikdeur. Aan die voorkant is daar ‘n V-vormige sierrooster met die Toyota-kenteken wat deur twee vertikale kopligte met chroom-insetsels verbind word. Daar is geïntegreerde misligte in die trapesium-vormige lugskorte aan weerskate in sommige modelle. Van die kant gesien het die Starlet voulyne bo en onder wat die kontoer volg, en daar is kleurgekodeerde buitespieëls. Daar is ligdiode-agterligte en ‘n breë chroomstrook onder die agterruit.

(Photo by Cornel van Heerden)
www.cornelvanheerden.com

Daar is net een enjin vir die Starlet beskikbaar, naamlik ‘n vier-silinder enjin van 1,4 liter wat 68 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 130 Nm teen 4 200 opm lewer. Daar is ‘n keuse van ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange. Volgens die vervaardigers is die gemiddelde brandstof-verbruik vir die handrat modelle 5,1 liter per 100 km en 5,4 vir die outomatiese modelle,. Dit beteken dat ‘n reikafstand van 700 km met die 37 liter-brandstof-tenk moontlik is. 

Drie spesifikasievlakke is beskikbaar. Die intreemodel is die Xi, wat toegerus word met staalwiele van 15 duim met volle wieldoppe en ‘n ruimtebesparende noodwiel, ‘n dubbel-DIN-klankstelsel met ses luidsprekers, Bluetooth-verbinding, elektriese vensters reg rondom, lugversorging, ABS-remme me elektroniese remkrag-verspreiding en noodremhulp  en elektroniese stabiliteits-beheer. Die middelste model, die XS, bied dit alles asook allooiwiele van 16 duim en die keuse van ‘n outomatiese ratkas. Die topmodel is die XR, wat die volgende bykomende kenmerke bied: ‘n klankstelsel met ‘n raakskerm, Android Auto en Apple Car Play, spoedbeheer, ligdiode-kop- en dagryligte, voorste misligte, chroom-deurhandvatsels, ‘n leerstuurwiel, ‘n agterste drukvlerk aan die bokant van die luikdeur, buitespieëls met ingeboude rigtingwysers, ‘n digitale instrumentepaneel met ‘n multi-inligtings-vertoonpaneel, ses lugsakke, parkeersensors voor en  agter, ‘n trukamera en syfremme agter. Die outomatiese modelle word ook met wegtrekhulp toegerus. 

Die hele reeks word toegerus met die Toyota Connect-telematikastelsel wat internetverbinding binne die motor moontlik maak, en 15 GB eenmalige data insluit.  Nadat klante se voertuie aan die network gekoppel is, kan die My Toyota-toepassing gebruik word om versienings te bespreek, en die voertuig se inligting en geskiedenis na te gaan. 

Altesaam vyf kleure  sal beskikbaar wees: wit, silwer, rooi, blou en grys. 

Die pryse van die Starlet-reeks, wat ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km en ‘n diensplan geldig vir drie versienings of 45 000 km insluit, lyk só:

Starlet 1,4 Xi: R 204 900

Starlet 1,4 XS handrat; R 215 200

Starlet 1,4 XS outomaties: R 235 700

Starlet 1,4 XR handrat; R 258 500

Starlet 1,4 XR outomaties: R 272 500

Categories:
%d bloggers like this: