Na ‘n kort afwesigheid is Fiat se Panda weer in Suid-Afrika beskikbaar. Hierdie keer is daar egter vier modelle waarvan twee vierwiel-aangedrewe is

Die vier modelle is die Easy, die Lounge en die twee vierwielaangedrewe modelle, die Panda 4×4 en die Cross 4×4.

Die hele reeks word toegerus met Fiat se klein maar kragtige Twin Air-enjin, wat alreeds in die Fiat 500 beskikbaar is. Hierdie enjin het net twee silinders en ‘n verplasingsinhoud van 875cc. Dit het egter ‘n kraglewering van 63 kW teen 5 500 opm (die Cross se enjin lewer 66 kw) en het ‘n wringkrag van 145 Nm teen 1 900 opm. Die gemiddelde brandstofverbruik van die 4×2- en 4×4-modelle is onderskeidelik 4.2 en 4,9 liter per 100 km. Die Panda se brandstoftenk hou 37 liter.

Die vier modelle is die Easy, die Lounge en die Panda 4×4 en die Cross 4×4.

Die stylvolle ontwerp van die nuwe Panda is baie dieselfde as dié van sy voorganger: dit is steeds  3 650mm lank, 1 640mm wyd en 1 550mm hoog.   

Die Easy en Lounge word toegerus met staalwiele met wieldoppe terwyl allooiwiele standaardtoerusting op die vierwielaangedrewe modelle is.  Die Easy is toegerus met swart deurhandvatsels, elektriese buitespieëls en ‘n agterste ruitveër. Die Lounge se deurhandvatsels is dieselfde kleur as die bak en dakrelings, asook voorste misligte,  is standaardtoerusting. Die Cross het ook swart deurhandvatsels, asook verhitbare trusipeëls en LED- dagryligte.                                                              

Die binnekant van die Panda is goed toegerus, Die Easy het lugversorging, elektriese vensters voor, ‘n radio/CD-speler, twee luidsprekers en ‘n agtersitplek wat 6-0/40 verdeel is. Die Lounge het twee bykomende luidsprekers, Bluetooth-verbinding, USB- en AUX-sokke, outomatiese lugversorging en ‘n veelfunksiestuurwiel. Die radio is opsioneel vir die Lounge en die 4×4-modelle.

Daar is verskeie belangrike veiligheidskenmerke wat standaardtoerusting vir die hele reeks is, onder meer ABS-remme met elektroniese remverspreiding, ses lugsakke, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, wegtrekbeheer teen steil opdraandes, deure wat outomaties sluit as die motor wegtrek en vastrapbeheer. Die Lounge-model het ook parkeersensors voor en agter en ‘n plek waar ‘n bestuurder sy of haar slimfoon kan bêre. Die 4×4-modelle het elektroniese stabiliteitsbeheer en die Cross het ook ‘n stelsel wat die bestuurder help wanneer daar teen steil afdraandes gery word.

Met die toetsriite tydens die loodsing op beide teer en grondpaaie was Motorplus beindruk met die stewigheid van veral die twee 4×4-modelle. “Stewig , maar steeds gemaklik”. Die Panda’s gee ook ‘n gevoel van veiligheid wat baie keer ontbreek met kompakte motors in hierdie klas.

Behalwe vir  die standaardkenmerke waarmee die Panda toegerus is, stel Mopar, die afdeling van FCSA (Fiat Chrysler Suid-Afrika) wat in bybehore spesialiseer, Panda-eienaars in staat om hul motors verder te verpersoonlik. Onder die bykomstighede wat eienaars aan hul Panda’s kan aanbring, is klepdoppies vir die motor se bande met die Fiat-kenteken, fietsrakke en fluweelmatte met die Panda-embleem.

Die pryse van die verskillende modelle is soos volg:

Fiat Panda 0,9 Twin Air Easy: R 184 900

Fiat Panda 0,9 Twin Air Lounge: R 199 900

Fiat Panda 0,9 Twin Air 4×4: R 229 900

Fiat Panda 0,9 Twin Air 4×4 Cross: R 249 900

Die Panda-reeks word gerugsteun deur ‘n fabriekswaarborg en ‘n diensplan van drie jaar of 100 000km elk.