Breaking News

Die Jazz is dood, lank lewe die Fit

Sedert sy bekendstelling in Suid-Afrika in 2003 was die Honda Jazz ‘n gewilde keuse onder plaaslike motorkopers, maar met die nuwe model het Honda besluit om die Fit-modelnaam, wat reeds jare lank oorsee gebruik word, ook hier bekend te stel.

Volgens die maatskappy verteenwoordig die Fit die nuwe geslag motors vir Suid-Afrika, en die oogmerk is om Honda te hervestig as ‘n maatskappy wat sinoniem is met gehalte, betroubaarheid, tegnologie en duursaamheid. Die bekendstelling van die Fit-modelnaam is ook daarop gemik om die beeld van die motor te verander van een wat net ‘n rasionele keuse was tot een wat ook byval sal vind by diegene wat na ‘n opwindende motor op soek is vanweë sy moderne ontwerp en toonaangewende tegnologie. Notgans sal die Fit steeds voorsiening maak vir die behoeftes van Honda se lojale klante, wat reeds vertroud is met die maatskappy en alles wat dit bied.

In vergelyking met die Jazz is die Fit ‘n splinternuwe ontwerp ; ‘n stadsmotor wat uitsonderlike doeltreffendheid met alledaagse gebruikers-vriendelikheid kombineer en gereed is om aan die behoeftes van vandag se verbruikers te voldoen.  Nogtans is die kort neus, lang dak en kajuit wat vorentoe gemonteer is, dadelik herkenbaar. Die praktiese aspekte wat van die Jazz so ‘n gewilde motor gemaak het, word ook nou met emosionele aantrekkingskrag gekombineer. Die A-pilaar is die helfte so dik soos voorheen en die versteekte voorste ruitveërs geen die voorste insittendes byna ‘n panoramiese uitsig. Die algehele hoogte van die Fit is 13mm minder as dié van die Jazz; dit gee die Fit ‘n meer kompakte voorkoms.

Die Fit is met een van twee enjins beskikbaar. Die meeste modelle word aangedryf deur ‘n 1,5 liter vier-silinder enjin wat aan ‘n palwissel (CVT)-ratkas gekoppel word. Hierdie enjin lewer 89 kW teen 6 600 opm en wringkrag van 145 Nm teen 4 300 opm. Daar is egter ook ‘n rewolusionêre nuwe kragbron beskikbaar. Daar was al voorheen hibriede-modelle in Honda se Suid-Afrika se reeks, naamlik die Jazz Hybrid en die Insight, maar die Fit spog met die nuwe e HEV-enjin wat nuwe hibriede-tegnologie bekendstel. Twee kompakte elektriese motors word aan die bestaande 1,5 liter-petrol enjin gekoppel en beskik oor ‘n litium-ioonbattery en ‘n vasteverouding-ratkas wat met ‘n intelligente kragbeheerstelsel saamwerk om brandstofdoeltreffendheid en kraglewering te verbeter.  Benewens die gewone kragbron se 72 kW teen tussen 5 600 en 6 400 opm en wringkrag van 127 Nm teen tussen 4 500 en 5 000 opm lewer die eklektriese kragbron ‘n bykomende 80 kW. Daar is drie bestuursmodusse om van te kies; die bestuurder kan net op elektriese- of net op petrolkrag staatmaak, of ‘n kombnasie van die twee gebruik. Die gemiddelde brandstofverbruik van die eHEV is 3,8 liter per 100 km. Onder die meeste stedelike onstandighede kan daar sonder moeite tussen die elektriese- en hibriedemodus beweeg word terwyl die motor op die oop pad net op petrolkrag kan staatmaak. Wanneer die hibriedemodus gebruik word kan oortollige krag van die petrolenjin gebruik word om die battery te laai. Pleks van ‘n gewone ratkas maak die eHEV gebruik van ‘n nuut ontwikkelde elektronies beheerde palwisselratkas met ‘n enkele vaste ratverhouding wat ‘n regstreekse verbinding tussen verskillende bewegende komponente skep. Die Fit eHEV is die eerste Honda op die Suid-Afrikaanse mark wat met hierdie tegnologie, wat ook voortaan vir ander Honda-hibriedemodelle gebruik sal word, toegerus word.

Altesaam drie spesifikasievlakke is met die gewone enjin beskikbaar en een met die hibriede-kragbron. Die intreemodel is die Comfort, wat met die volgende kenmerke toegerus word: staalwiele met 185/60R 15-bande en wieldoppe, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ‘n elektriese parkeerrem, skyfremme voor en agter, elektries verstelbare buitespieëls met rigtingwysers wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word, materiaalsitplekke, een USB-kragpunt voor en twee agter, ‘n vyfduim-skerm met Bluetooth-verbinding, ‘n seweduim TFT-instrumentepaneel, outomatiese lugversorging, ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding, wegtrekhulp, stabiliteitsbeheer, ses lugsakke en halogeenkopligte. Die volgende model is die Elegance wat onder meer die volgende kenmerke byvoeg: allooiwiele met 185/55 R 16-bande, ligdiode-kopligte met misligte en dagryligte, ‘n leerstuurwiel en -ratikeserknop, ‘n kombinasie van materiaal-en-leersitplekke, ‘n negeduim-raakskerm met Android Auto, Apple Car Play en ‘n trukamera, ‘n bykomende voorste USB-kragpunt en smukspieëls vir die bestuurder en voorste passasier.  Die topmodel onder die petrolaangedrewe weergawes is die Executive, wat ook met silwer buitespieëls, chroomafwerking buite, verhitbare voorsitplekke , leerbekleedsel en parkeersensors voor en agter toegerus word. Die motor word ook outomaties gesluit wanneer ‘n mens wegloop. Benewens die hibriede-kragbron spog die eHEV ook met die volgende bykomende kenmerke: kopligte met ‘n  outomatiese hoëstraalfunksie, aanpasbare spoedbeheer, noodremhulp in die geval van ‘n moontlike botsing en baanhouhulp. Daar is ook ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku as daar ‘n motor van voor af aan dieselfde kant van die pad af aankom, of as die bestuurder per abuis in ‘n ander baan beweeg sonder om rigtingwysers te gebruik. Die bestuurder kan ook bepaal hoeveel inligting van die hulpmiddels op die motor se instrumentepaneel vertoon word. 

Die Fit-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km, terwyl die hibriede-model, wat eers van Oktober vanjaar af beskikbaar sal wees, ook ‘n bykomende waarborg van agt jaar of 200 000 km vir die battery en verwante komponente byvoeg. Só lyk die pryse:

FIT 1.5 DOHC i-VTEC Comfort CVT R319 900

FIT 1.5 DOHC i-VTEC Elegance CVT R359 900

FIT 1.5 DOHC i-VTEC Executive CVT R389 900

FIT 1.5 DOHC i-MMD e-CVT Hybrid R469 900

%d bloggers like this: