Mad Mustang Suid-Afrika styl

0 Comments

Deur Daantjie Badenhorst.

Die Suid-Afrika Mustang Spitfire-storie

In 1947 het ‘n Spitfire-vliegtuig, met die kode #5518 in Suid-Afrika aangekom om eers in Langebaan aan die Kaapse Weskus en later by Lugmag-basis Waterkloof diens gedoen.

Nadat hy aan diens onttrek is, is hy in die middel 1980’s gerestoureer met die gedagte dat hy die hoof trekpleister by die SA Lugmag se museum sou wees en die lugmag en lugvaart onder jongmense sou bevorder. In 2000 het hy egter in ‘n  ongeluk tydens ’n lugskou neergestort.

Performance Centre, die Suid-Afrikaanse Lugmag en Vriende van die Suid-Afrikaanse Lugmag Museum het egter nou saamgespan om Spitfire #5518 te restoureer.

Performance Centre het die lisensie gekry om tien standaard weergawes van die Ford Mustang 5,0 V8 Fastback na RTR Spec 5-weergawes met breë bakwerke om te bou. Elk van hierdie tien motors is uniek; hulle is met die hand geverf gebaseer op die kleurskema van ‘n diensdoenende Spitfire gedurende die Tweede Wêreld-oorlog en elkeen word met ‘n Ford V8-enjin met ‘n drukaanjaer toegerus.  Hierdie motors sal in die RTR-register in die Verenigde State van Amerika opgeteken word. Die oogmerk van die projek is om R 750 000 vir die restourasie van hierdie Spitfire in te samel. Elke motor sal ‘n reeks-nommer kry en gebou word om te lyk soos een van ‘n aantal vliegtuie wat aan verskillende oorloë deelgeneem het.

 

Om een van hierdie motors te besit, moet die voornemende koper die webtuiste www.warriorsofthesky.co.za besoek, die hele webtuiste deurlees en ‘n vliegtuig kies. Daarna moet hy of sy met Performance Centre in verbinding tree om ‘n gewone Mustang in ‘n unieke, handgeverfte en geregistreerde RTR Spec 5 wyebak-replika te verander. Hierdie veldtog vind plaas in samewerking met die Suid-Afrikaanse Lugmag, die Vriende van die SA Lugmag Museum en die Spitfire-restourasie projek. Al die voertuie sal uitsluitlik by Performance Centre in Centurion gebou word.

Die eerste voertuig wat só omgebou is, is onlangs tydens ‘n spesiale geleentheid by die SA Lugmag museum bekendgestel.

Dié Mustang, in die kleure van die DBH Spitfire, is gekoppel aan die mees bekroonde vlieënier in die Suid-Afrikaanse Lugmag, kaptein Bob Rogers (1921-2000) , wat in beide die Tweede Wêreld-oorlog en die Koreaanse Oorlog geveg het. Hy was die hoof van die Lugmag van 1975 tot 1979, nadat hy tot die rang van luitenant-generaal bevorder is. DBH was die registrasie-letters van die Spitfire waarmee kapt. Rogers gevlieg het en die verfwerk is ‘n regstreekse replika van die kamoeflering wat hierdie vliegtuig in sy later jare gedra het.

Categories:
%d bloggers like this: