Breaking News

Drie spesiale Mahindra-bakkies nou beskikbaar

Mahindra Suid-Afrika het pas sy Pik Up-reeks uitgebrei met die bekendstelling van drie spesiale Karoo-modelle.

Dit kom te midde van die maatskappy se aankondiging dat die tienduisendste Pik Up onlangs by sy aanleg naby Durban gemonteer is.  Die drie nuwe modelle is die Dusk, die Storm en die Dawn, almal met modelspesifieke kenmerke. Al drie modelle het leerbekleedsel as standaard toerusting en die raakskerm met Bluetooth, Android Auto, Apple Car Play en ingeboude landkaarte, is nege duim groot. 

Al drie modelle word toegerus met ‘n swaardiens-veerstelsel, veldrybande en spesiale 4×4-wiele. Staalstampers voor en agter wat stewig aan die onderstel geanker is en met sleephake toegerus is, is standaard toerusting vir al drie modelle. 

Die Dusk was verlede jaar in beperkte getalle beskikbaar maar dit word nou ‘n permanente deel van die reeks. Die afwerking is deur die Karoo-skemer geïnspireer; daarom is hy net in swart, met blou en swart Karoo-kentekens beskikbaar. Die laaibak beskik oor rubbervoering en ‘n roldeksel wat soos ‘n garagedeur werk en gesluit kan word. Daar is ook ‘n langer sportstaaf wat aan die voorste stamper gemonteeer is.

Een van die nuwe toevoegings is die Dawn, wat afgewerk word in ‘n sand-beige kleur wat veral by boere en avontuurreisigers byval vind. Die inspirasie vir hierdie model kom van die kleure van vroeë oggende in die Karoo. Die ontwerpers is opdrag gegee om die kleure van die woestyn in die vroeë oggendure vas te vang; dit het aanleiding gegee tot die unieke kleur van die bakwerk asook die oranje afwerking van die Karoo-kenteken. 

Die ander nuweling is die Storm, met afwerking wat geïnspireer is deur storms in die Karoo. Die ontwerpers het hul inspirasie gekry by gedigte wat die skielike onrus in die Karoo-woestyn vasvang, soos wat die wolke saampak, die kleure verander en die windpompe al hoe vinniger begin draai en die donderweer die begin van ‘n storm aankondig. Die kleur van die Storm is ‘n unieke ligblou, met swart en grys Karoo-kentekens. Die Storm se laaibak beskik oor rubbervoering en ‘n bakseil is standaard toerusting.  Volle leerbekleedsel en dieselfde rubbermatte wat in die ander modelle voorkom, asook veldrybande en -wiele is standaard toerusting.

Die nuwe modelle word aangedryf deur dieselfde 2,2 liter turbodieselenjin as die res van die reeks. Hierdie enjin lewer 103 kW teen 3 750 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 500 en 2 800 opm, en ‘n outomatiese sesgangratkas is standaard toerusting vir al drie modelle. 

Die pryse van al drie modelle is dieselfde, naamlik R 614 999 elk. Dit sluit ‘n waarborg van vire jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km in.

%d bloggers like this: