Een platform, drie motors

0 Comments

In 1975 het Suid-Afrika die eerste land ter wêreld geword waar Peugeot en Citroën saam begin werk het.

Sedertdien het hierdie twee maatskappye saamgesmelt en die PSA-groep gevorm. Opel en Vauxhall het in 2017 deel daarvan geword; dit het gemaak dat Opel en Vauxhall-modelle deesdae op Peugeot- en Citroën-platforms gebou word.

Een voorbeeld hiervan is die Peugeot 3008, die Citroën C5 Aircross en die Opel Grandland X. Die eerste van hierdie motors wat in Suid-Afrika bekendgestel is, was die Peugeot 3008, wat reeds in 2017 hier op die mark gekom het. Die reeks bestaan uit drie modelle, almal toegerus met die turbo-aangejaagde 1,6 liter Pure Tech-enjin wat 121 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 240 Nm teen 2 400 opm ontwikkel. Die drie modelle is die Active, die Allure en die GT-Line, almal met ‘n outomatiese ratkas met ses gange. Die Active is die intreemodel van die reeks en word toegerus met onder meer 17 duim-allooiwiele, elektriese en verhitbare buitespieëls, outomatiese volg-my-en-lei-my-kopligte, ligdiode-dagryligte, outomatiese ruitveërs, dubbelsone-klimaat beheer, ‘n spoedbeperking sensor en ‘n stelsel wat padtekens bespeur, baan-dwaal-waarskuwing, wegtrek-hulp en elektroniese stabiliteits-beheer. Die middelste model is die Allure, wat onder meer die volgende kenmerke byvoeg: ‘n meer gevorderde weergaawe van Peugeot se bekende i-Cockpit, 18-duim allooiwiele, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, parkeer-sensors voor en agter, ‘n klankstelsel wat die gebruiker se selfoonskerm op die raakskerm wys en buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie invou.  Die GT-Line is die vlagskip en bied ook ‘n koordlose selfoon-laaier, satelliet-navigasie, ‘n 180 grade-kamera en  19 duim-allooiwiele. Die pryse van die drie modelle, wat ‘n waarborg en diensplan van vyf jaar of 100 000km insluit, is R 459 900 vir die Active, R 514 900 vir die Allure en R 576 900 vir die GT-Line.

Die Opel Grandland X kan as die mees konserwatiewe motor van hierdie drie beskou word; Motor Plus het hom verlede jaar getoets en hy het ons baie beïndruk. Daar is drie modelle , almal met dieselfde turbo-petrol enjin van 1,6 liter wat ook in die 3008 gebruik word en aan ‘n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel word. Die intreemodel is die 1,6 T, wat toegerus word met kenmerke soos handbeheerde lugversorging, ‘n verstelbare bagasie-bakvloer, ‘n stelsel wat padtekens bespeur, wegtrek-hulp, elektroniese stabiliteits-beheer en ‘n IntelliLink-inligting-en-vermaakstelsel met ses luidsprekers. Die middelste model is die Enjoy, wat onder meer die volgende kenmerke byvoeg: elektroniese klimaatbeheer, materiaal-en-kunsleer-sitplekke, ‘n 360-grade kamera, aluminium-dakspore, bandwaarskuwing, voorste misligte en 18-duim allooiwiele. Die Cosmo is die vlagskip in die reeks en spog met bykomende standaard-kenmerke soos volle ligdiode-kopligte, ‘n meer gevorderde inligting-en-vermaak stelsel met satelliet-navigasie, ‘n gevorderde parkeer-hulp stelsel, ‘n blindekol-monitor, volle leerbek-leedsel, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie en ‘n kragbeheerde agterklap. Die pryse vir die onderskeie modelle, wat ‘n waarborg en padbystand van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, is R 465 000 vir die 1,6 T, R 514 000 vir die Enjoy en R 597 000 vir die Cosmo.

Teen die einde van 2019 het Citroën tot die Suid-Afrikaanse mark teruggekeer, en die vlagskip van die huidige reeks is die C5 Aircross, wat in twee modelle beskikbaar is, naamlik die Feel en die Shine. Die Feel se prys is R 499 900 en spog met kenmerke soos 18-duim allooiwiele, breë skermstroke aan die kant, wat as Airbumps bekendstaan, ligdiode-kop- en dagryligte, volg-my-en-lei-my-ligte, ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkrag-verspreiding, vastrapbeheer, wegtekhulp, band-druk monitor, aanpasbare spoedbeheer, dubbelsone klimaatbeheer, ‘n klankstelsel met Apple Car Play en Android Auto, wat die selfoon se skerm op die raakskerm vertoon en ratspane agter die stuurwiel. Die Shine se prys is R 539 900 en voeg die volgende kenmerke by: ‘n trukamera, sleutellose toegang met ‘n aansit-knoppie, gedeeltelike leerbekleedsel, ‘n blindekolmonitor, ‘n panoramiese sondak en parkeer-sensors voor en agter. Albei modelle word gerugsteun deur ‘n waarborg en diensplan van vyf jaar of 100 000 km.

Categories:
%d bloggers like this: