Eicher betree swaardiensmark in Suid-Afrika

0 Comments

In 2008 het twee vervaardigers van swaar handelsvoertuie kragte saamgespan om die kommersiële vervoerbedryf in Indië te moderniseer toe die Volvo-groep en Eicher ‘n vennootskap gesmee het om gesamentlik nuwe vragmotors te ontwikkel. VE Commercial Vehicles (VECV) het sodoende tot stand gekom.

VECV het pas tot die marksegment vir swaar vragmotors toegetree met die bekendstelling van die Eicher Pro 6000-reeks. Die reeks bestaan uit die Pro 6016 swaardiens-vragdraer met ‘n loonvrag van agt ton en die Pro 6025T 6×4 met ‘n wipbak wat op die konstruksiemark gemik is. Hierdie twee modelle stel Eicher in staat om mee te ding in ‘n marksegment wat baie potensiaal toon. Dié nuwe reeks beloof om nuwe standaarde in doeltreffendheid en produktiwiteit te stel.

VECV kombineer die internasionale kundigheid van die Volvo-groep en tegnologie van wêreldgehalte met die vindingryke ingenieursvernuf en brandstofdoeltreffendheid waarvoor Eicher bekend geword het.

Met die bekendstelling van die Pro 6000-reeks het mnr. Surender Singh, die visepresident en Suid-Afrikaanse hoof van VECV, gesê dat die bekendstelling van die Pro 6000 ‘n mylpaal vir Eicher in Suid-Afrika verteenwoordig. Die Pro 6000-reeks is die volgende geslag swaardiens-vragmotor wat vooraanstaande brandstofdoeltreffendheid, verhoogde gerief vir die bestuurder, maksimum produktiwiteit en verhoogde veiligheid bied.

Die kajuit van die Pro 6000-reeks is gebaseer op die Japanse ontwerpstyl en voldoen aan AIS 029-veiligheidstandaarde. Daar is ‘n sitplek met lugvering vir die bestuurder, lugversorging, elektriese vensters, asook ‘n intelligente bestuurders-inligtingstelsel wat onder meer onmiddellike- en gemiddelde brandstofverbruik aandui, asook die afstand wat nog met die brandstof in die tenk, wat 220 liter hou, afgelê kan word.

Die Pro 6000-reeks word toegerus met ‘n turbodieselenjin met vier silinders en ‘n verplasingsinhoud van 5 100 cc. Hierdie enjin lewer 157 kW teen 2 200 opm en wringkrag van 825 Nm teen tussen 1 200 en 1 600 opm. Hierdie enjin is in samewerking met die Volvo-groep ontwikkel en word toegerus met Volvo se enjinbestuurstelsel (EMS 3,0) wat vir die beste moontlike werkverrigting onder alle omstandighede verseker.

Die Eicher Pro 6000-reeks sal by vyftien handelaars oor die hele Suid-Afrika beskikbaar wees; onder die handelaarsgroepe wat vir die verspreiding van Eicher-vragmotors verantwoordelik is, is die BB-groep, CMH, AAD, Imperial en Billson Trucks.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: