Einde van die pad vir legendariese enjin

0 Comments

Deur Daantjie Badenhorst

 

Die legendariese Rolls-Royce- en Bentley V8-enjin wat al sedert die 1950’s in produksie was, het die einde van sy leeftyd bereik.

Dié enjin is ontwikkel nadat Rolls-Royce en Bentley na hul hoofkantoor in Crewe geskuif het. In die vroeë 1950’s is Jack Philips, die senior enjin ontwerper, gevra om ‘n vertroulike studie te onderneem vir ‘n plaasvervanger van die ses-silinder enjin wat in die Mark VI, die S1 en die R-Type gebruik is. Sy opdrag was om ‘n enjin te ontwikkel wat minstens 50% meer krag as die ses-silinder, wat dit sou vervang, moes lewer, maar wat dieselfde sou weeg. Die enjin sou ‘n V-formasie hê en die eerste een was al in produksie skaars agttien maande nadat Philips met die ontwerp begin het. Die enjins is reg van die begin af “ingeloop”; dit is meer as 500 ure lank met die versneller op sy diepste ingetrap, getoets; dit was die ekwivalent van honderde duisende kilometer onder werklike omstandighede. 

Die oorspronklike weergawe van hierdie enjin is in die Bentley S 2 en die Rolls-Royce Silver Cloud II gebruik, en was byna 14 kg ligter as die een wat hom vervang het. Hierdie twee modelle is in 1959 bekendgestel, en was toegerus met elektriese vensters, kragstuur en lugversorging, om ‘n paar te noem; hulle was die luuksste motors wat destyds beskikbaar was. Die Silver Cloud III en Bentley S3 is in 1962 bekendgestel.

Die oorspronklike enjin moes herontwerp word om in die enjin-kompartemente van die Rolls-Royce Silver Shadow en die Bentley T-reeks, wat die Silver Cloud en die S-reeks onderskeidelik vervang het, te pas. Die enjin se werkverrigting is verbeter en afmetings is verminder vir die laer enjinkap maar die enjin se kapasiteit was onveranderd. In 1971 is die enjin se kapasiteit na 6 750 cm³ vergroot; en hierdie kapasiteit is vir die res van die enjin se modellewe gebruik.  In 1980 is die eerste Bentley Mulsanne en Rolls-Royce Silver Spirit bekendgestel, en die enjin moes veranderinge ondergaan om uitlaat-gasse te verminder en die veiligheid van passasiers in ‘n botsing te verbeter. Laasgenoemde het ‘n opvoubare waterpomp ingesluit; dit het die enjin met 10,1 cm verkort.

In 1982 is die grootste verandering nóg aan dié enjin aangebring met die bekendstelling van die Mulsanne Turbo. Geen turbo-aangejaagde weergawe van die Silver Spirit was beskikbaar nie.  Dit was die eerste Bentley sedert die Blower Bentleys van die 1920’s wat met hierdie tipe kenmerk toegerus is, hoewel die Blower-weergawes drukaanjaers gehad het. Die enkele turbo-aanjaer is mettertyd deur twee vervang en brandstof-inspuiting en elektroniese ontsteking is bygevoeg. 

Toe die fabriek by Crewe gemoderniseer is, en produksie verhoog is, is verdere ontwikkelinge aangekondig.  Motors soos die Bentley Brooklands het groot baat hierby gevind en hoewel die ontwerp nog baie dieselfde as dié van die 1950’s was, het kraglewering en wringrag met byna 200% toegeneem.  Sedert die bekendstelling van die nuwe Mulsanne in 2010 het die V8-enjin verdere veranderinge ondergaan, soos nuwe suiers, ‘n nuwe krukas en nuwe silinderkoppe wat wisselende kleptydreëling en dekativering van silinders moontlik gemaak het.Laasgenoemde is destyds vir die eerste keer vir ‘n Bentley gebruik maar deesdae word die hele reeks daarmee toegerus. Hoewel kraglewering 370 kW en wringkrag 1 100 Nm oorskry het (laasgenoemde is die hoogste syfer van enige enjin  ter wêreld), is brandstofverbruik met 15% verbeter.

Die laaste model wat met hierdie enjin toegerus word, is ook die laaste Mulsanne, wat as die Mulsanne 6,75 Edition by Mulliner bekend sal staan. Hierdie model sal onder meer met spesiale kentekens en grafika toegerus word om hom van ander modelle te onderskei.  

Die Flying Spur -sedan sal van 2023 af met ‘n  V6-hibriede-enjin beskikbaar wees, maar intussen gaan Bentley voort met die vervaardiging van ‘n V8-enjin van vier liter, asook ‘n W 12-enjin. Die eerste stap in die rigting van elektrifisering is reeds geneem met die bekendstelling van die Bentayga Hybrid, die eerste inprop-hibriede-sportnuts voertuig in sy klas.

Categories:
%d bloggers like this: