Einde van Morgan-driewiel met spesiale model gevier

0 Comments

Deur Daantjie Badenhorst.

 

Een van die mees unieke en ikoniese motors ter wêreld gaan binnekort aan die mark onttrek word.

Morgan Motor Company het aangekondig dat hy produksie van sy 3-Wheeler in 2021 gaan staak, tien jaar nadat die huidige model op die mark gekom het. Ter viering hiervan is egter ‘n nuwe model, bekend as die P 101, pas bekendgestel. Die naam is afgelei van Project 101, die kodenaam waaronder die 3-Wheeler meer as tien jaar gelede ontwikkel is. Daar sal net 33 van hierdie modelle, wat ontwikkel is om die sukses van die 3-Wheeler die afgelope tien jaar te herdenk, vervaardig word. 

Die huidige 3-Wheeler was een van Morgan se heel suksesvolste modelle tot dusver, en meer as 2 500 eenhede is reeds vervaardig. Dié motor is na alle dele van die wêreld uitgevoer en het gunstige kommentaar van die motorpers ontvang. Hierdie erkenning, asook sy gewildheid, is ‘n bevestiging dat die gees van individualiteit en avontuur-lustigheid onder motor-vervaardigers nog bestaan, nie net by Morgan nie maar ook in die motorbedryf as geheel.

Volgens Steve Morris, die voorsitter en uitvoerende hoof van Morgan Motor Company, was die produksie van die huidige 3-Wheeler ‘n opwindende hoofstuk in Morgan se geskiedenis; dit het bewys dat daar nog plek is vir motors wat suiwer vir pret vervaardig word, en dat ‘n maatskappy ‘n motor soms net moet bekendstel omdat hy dit kan doen en om geen ander rede nie.

Die  P 101 beskik oor unieke komponente en afwerking wat die doelgerigte karakter van die 3-Wheeler, asook die unieke ontwerpeienskappe van die 3-Wheeler beklemtoon. Daar is ‘n opvallende bedekking vir die kajuit wat aanvaklik vir die EV 3-konsep in 2016 gebruik is en bedoel is vir wanneer net een persoon die motor gebruik. Dit ‘n saamgestelde harsbedekking wat ‘n natuurlike deurskynende goue kleur wat herinner aan die enjin-bedekkings van renmotors van die 1970’s. Hierdie bedekking is lig en vaarbelyn en doelgerig ontwerp en vervaardig. 

Die Aero Disc-wiele is geverf om by die hoofkleur van die bakwerk te pas en onderskei die P 101 as ‘n unieke model. Dié wiele, tesame met die laag gemonteerde Hella-kolligte, is geplaas om turbulensie rondom die veerstelsel en die wensbene te verminder en die motor te laat lyk asof hy meer vorentoe leun. Die swart en wit uitlaatpype aan die linker- en regterkant  dra by tot die asimmetrie en gesplete identiteit van die motor. Verdere detail-kenmerke sluit reguit gesnyde uitlaatpype, ‘n skerm teen vlieë, bykomende hortjie-uitlate, sigbare klinknael-detail en unieke P 101-kentekens roep herinneringe op van die ontwikkeling van die oorspronklike prototipe. 

Die P 101 is beskikbaar in wit of swart, met bypassende grafika. Daar is vier keuses; naamlik The Belly Tank, wat hulde bring aan die buiktenk-renmotors wat die inpirasie agter die 3-Wheeler was. Hierdie motors was ‘n kombinasie van oorskiet-materiaal van vliegtuie van die Tweede Wêreld-Oorlog en hitsmotors van daardie tyd. The Dazzle Ship is die mees opvallende pakket, en kan in die bekendstellingsvideo en mediafoto’s van die P 101 gesien word. Dit is geïnspireer deur grafika wat op militêre voertuie gebruik is. Die Aviator is se grafiese ontwerp herinner aan dié wat vir die neuse van die RAF se vliegtuie vir die Tweede Wêreld-Oorlog gebruik is. The Race Car bring hulde aan die 3-Wheeler se sukses in motorsport, met strepe en ronde plakkers. 

Morgan Motor Company het die 3-Wheeler beskryf as ‘n simbool van individualiteit in ‘n tyd van massaproduksie. Die motor beskik oor ‘n buisraam-staalonderstel met ‘n houtraamwerk en aluminium-bakpanele wat sy massa laag gehou het. Die enjin waarmee die 3-Wheeler toegerus word, is ook iets heeltemal anders; ‘n V2-enjin van twee liter wat, volgens Euro 3-spesifikasies, 61 kW teen 5 250 opm en 140 Nm teen 3 250 opm lewer. Die Euro 4-weergawe se syfers is onderskeidelik 51 kW teen 5 200 opm en 129 Nm teen 2 500 opm.

Die 33 eenhede van die P 101 is reeds aan handelaars in Groot-Brittanje, die Verenigde State van Amerika en Europa toegeken, en produksie het reeds begin. Morgan het aangekondig dat daar wel ‘n opvolger vir die 3-Wheeler sal wees, maar dat produksie onderbreek sal word. Verdere besonderhede is nog nie bekendgemaak nie.