Breaking News

Elektriese krag vir nuwe JAC-vragmotor

JAC Motors het pas sy eerste elektriese vragmotor in Suid-Afrika bekendgestel.

Die N 55 EV is voor sy bekendstelling deeglik getoets en spog met die jongste elektriese tegnologie. JAC Motors het reeds in 2014 begin om elektriese vragmotors in China te vervaardig en vandag is verskeie modelle met ‘n loonvrag van tussen 2,5 en 12 ton internasionaal beskikbaar. Die maatskappy se visie is om vragmotors wat geen uitlaatgasse afskei nie, bekend te stel en om op koste-doeltreffende elektriese voertuie te konsentreer. Die nuwe N 55 EV is ‘n voorbeeld van die maatskappy se strewe om unieke oplossings te bied vir voornemende kopers wat na lae loopkoste en betroubaarheid op soek is, terwyl omgewingsbewaring ewe belangrik is. Hierdie model is in 2019 vir die eerste keer in China bekendgestel  en sy plaaslike bekendstelling help die maatskappy om nuwe market te ontgin en oplossings vir optimale energie-doeltreffendheid van sy elektriese voertuie te probeer vind. Dit is ook ‘n teken van JAC Motors se filosofie om sy elektriese vragmotors te verbeter en te verfyn.

Volgens die maatskappy is die N 55 EV gemik op stedelike ondernemings wat op soek is na ‘n betroubare, ekonomiese en veilige oplossing. Die eerste N 55 EV in Suid-Afrika sal deur die logistieke spesialiste AEVERSA gebruik word. Hierdie onderneming se toekomsvisie is om tradisionele vervoervlote te vervang met elektriese voertuie te vervang.

Die N 55 EV word aangedryf deur ‘n water-verkoelde LFP-battery met ‘n kapasiteit van 96,77 kWh. Wanneer die gewone Europese CCS 2-kombinasie-verbindings gebruik word, kan die battery binne ‘n uur en ‘n half tot 80% van sy kapasiteit gelaai word, terwyl dit binne twee ure heeltemal vol gelaai kan word. Die N 55 EV is aan toetse onderwerp wat verseker dat hy onder uiterste toestande vuur- en waterbestand is en heeltemal veilig is. Wanneer die battery vol gelaai is, kan ‘n reikafstand van 200 km behaal word. In vergelyking met ‘n gewone diesel-vragmotor is die energiekoste van die N 55 EV ongeveer 50% laer, terwyl sy algehele loopkoste tot 30% laer is.

Die kajuit van die N 55 EV is 1 995 mm breed, en bied oorgenoeg plek vir drie insittendes en hul gereedskap. Daar is ‘n teleskopiese  hoogteverstelbare stuurkolom met ‘n veelfunksie-stuurwiel, asook lugversorging en elektriese vensters. Ten einde veiligheid  te verseker, word die N 55 EV met ‘n waarskuwingstelsel toegerus wat ook verseker dat insittendes, die vrag wat vervoer word en gebruikers van stedelike paaie veilig bly, asook ABS-remme  Daarby is ‘n agtduim-raakskerm met Bluetooth en navigasie standaardtoerusting. Die outomatiese ratkas sorg vir ‘n moeitelose bestuurs-ervaring.

Volgens die maatskappy is die N 55 EV die eerste van baie elektriese voertuie wat vir Suid-Afrika geëvalueer word en moontlik hier bekendgestel kan word. Die maatskappy is reds besig om bestellings vir die N 55 EV , wat landwyd deur handelaars verkoop en versien sal word, te aanvaar.  Die prys van die N 55 EV is egter nog nie bekendgemaak nie.

%d bloggers like this: