Motorsportverslag: F1 Duitse Grand Prix – rondte 11 (22 Julie 2018)

Deur Neels Rabe.

Die Duitse toeskouers se lojaliteit was verdeel tussen die “Duitse” Mercedes span (of beter gestel, die Mercedes gefinansierde span gebaseer in Engeland), en die Ferrari jaer Sebastian Vettel (“hulle” jaer). Vettel is op vorm en stel die vinnigste rondtetyd op tydens kwalifisering. Mercedes se ster-jaer Lewis Hamilton moet veertiende wegtrek nadat sy motor hidroliese probleme ontwikkel het.

Die wedren begin om 15h05 met voorspellings van reën omtrent ‘n uur later. Strategies beteken dit dat almal moontlik vir nat bande sal moet stop. Dus is die keuse om vroeg bande te wissel, en dan moontlik later weer saam met die reën. Die ander opsie is om die bande te probeer spaar sodat net een keer gestop hoef te word indien dit wel reën.

Vettel oorheers die wedren in sy Ferrari terwyl Lewis Hamilton stadig maar seker sy pad oop veg tussen die stadiger motors deur. Terwyl hy in die vyfde posisie is, en met reën wat dreig om te begin val, kom hy in vir sy enigste kuipestop. Die span sit die sagste droë-bande op sy motor. Dis ‘n waagstuk. Indien dit net liggies gaan reën, gaan Hamilton ‘n groot voordeel hê. Sou dit egter behoorlik reën sal hy weer moet stop, en waarskynlik ‘n paar plekke verloor. Hierdie keer is dit die Mercedes-strategie wat perfek werk. Die reën is liggies, en Hamilton is die vinnigste man op die baan.

Dit is egter tydens ‘n veiligheidsmotor-sessie wat hy die kans kry om die voortou te kan neem.

Die groot storie van hierdie wedren is egter die rede vir die veiligheidsmotor: Kampioenskapvoorloper Sebastian Vettel  maak ‘n klein foutjie in die stadigte draai op die baan, gly af, en verloor die kans op sy eerste Hockenheim oorwinning, sy voortou in die kampioenskap, en Ferrari se voortou in die vervaardigerskampioenskap! In die proses behaal Mercedes ‘n droom resultaat voor hul raadslede en beleggers deurdat nommer 44, Lewis Hamilton, oorwinning nommer 44 behaal met spanmaat Valtteri Bottas tweede.

Amptelike uitslag van Duitse Grand Prix  (22 Julie 2018)

1  Lewis Hamilton  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport

2  Valtteri Bottas  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport +8.883s

3  Kimi Raikkonen  –  Scuderia Ferrari +3.652s

4  Max Verstappen  –  Aston Martin Red Bull Racing

5  Nico Hülkenberg  –  Renault Sport Formula One

2018 F1 Kampioenskap na afloop van 22 Julie 2018

1  Lewis Hamilton (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  188

2  Sebastian Vettel (Scuderia Ferrari)  –  171

3  Kimi Raikkonen (Scuderia Ferrari)  –  131

4  Valtteri Bottas (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  122

5  Daniel Ricciardo (Aston Martin Red Bull Racing)  –  106

Die volgende wedren is die Hongaarse GP op 29 Julie 2018.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: