Die nuwe intreemodel in Ferrari se reeks, die Portofino, is in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Portofino vervang die California T in Ferrari se reeks en is aansienlik ligter as die California T.  Die Portofino se A-pilaar bestaan byvoorbeeld uit net twee dele pleks van die 21 verskillende dele van die Calfornia T om onder andere gewg te verminder. Die wegvoubare dak, wat die bewegingsmeganisme insluit, is herontwerp met die oog op ‘n afname in gewig.  Daar is ook noukeurige navorsing gedoen wat die binnekant betref; die struktuur van die sitplekke is heeltemal herontwerp en in magnesium-allooi vervaardig en die nuwe lugversorging is meer kompak en doeltreffend. Dit alles maak die motor nie net ligter nie, maar ook meer gemaklik vir alle insittendes. Sekere komponente van die enjin is ook ligter as voorheen met die gevolg dat die Portofino 80 kg minder as die California T weeg.

Die Portofino is vernoem na een van die mooiste dorpe op die Italiaanse Riviera en is die kragtigste afslaankap wat van ‘n “berlinetta”-koepee na ‘n afslaankap verander kan word. Dit duur slegs 14 sekondes om die dak plat te vou. Die V8-enjin kan ook tot sy volle reg kom ongeag of die dak op- of afgeslaan is.

Die Portofino stel nuwe tegnologiese kenmerke bekend wat vir die heel eerste keer in ‘n Ferrari beskikbaar is.  ‘n Elektroniese agter-ewenaar (E-Diff 3) word met die F1 Trac, wat vastrapvermoë en beheer oor die voertuig teen hoë snelhede verbeter, geïntegreer.  Die Portofino is ook die eerste Ferrari GT, wat met elektroniese kragstuur toegerus word; dit het die Ferrari ingenieurs in staat gestel om die stuurverhouding met 7% te verminder om reaksietyd te verhoog sonder om stabiliteit in te boet.

Daarby het Ferrari sagteware ontwikkel wat die lewering van wringkrag aanpas na gelang van die rat wat gekies word. Dit verbeter versnelling en brandstofdoeltreffendheid in vergelyking met vorige modelle.

Die Ferrari-ontwerpsentrum het gesorg vir ‘n motor met aggressiewe stilering en ‘n vloeirug-konfigurasie; dit is ongehoord in ‘n koepee-afslaankap met ‘n wegvoubare harde dak om na ‘n vloeirug (“Fastback”) te verander.  Die gevolg is ‘n sportiewe karakter met vaartbelyndheid wat nie styl of dinamiese karakter inboet nie.

Hoewel die Portofino ongetwyfeld ‘n sportmotor is, is die binneruim  sorgvuldig afgewerk.  Die ontwerpspan het sekere belangrike vereistes in aanmerking geneem, onder meer massavermindering en meer ruimte vir die vier insittendes.  Een kenmerk van enige Ferrari wat ook op die Portofino gesien kan word, is vakmanskap van hoogstaande gehalte, tesame met materiaal wat  die motor se sportiewe maar deftige karakter weerspieël.

Die Portofino is beskikbaar met opsionele elektriese voorsitplekke met agttien verstellings; dit sluit ‘n “Comfort”-knoppie in wat  die kontroles van die sitplek op die inligting-en-vermaakstelsel wys. Soos ander Ferrari GT’s het die Portofino  ‘n instrumentepaneel met dubbele TFT-uitleespanele wat romdom die toereteller gerangskik is.  Vir die voorste passasier is daar ‘n opsionele paneel wat aan die inligting-en-vermaakstelsel se 10,25duim-raakskerm gekoppel word en inligting soos die rat wat gekies is, die motor se toere en snelheid wys. Die skerm is binne maklike bereik van die bestuurder en die voorste passasier.

Die Portofino word aangedryf deur ‘n turbo-aangejaagde V8-enjin met ‘n verplasingsinhoud van  3 855 cc wat 441 kW teen 7 500 opm en 760 Nm tussen  3 000 en 5 250m opm lewer. Die Portofino, wat met ‘n sewe-gang F 1-dubbelkoppelaarratkas toegerus is, kan ‘n topsnelheid van 320 km/u behaal. Versnelling van 0 tot 100 km/u geskied in 3,5 sekondes en 0 tot 200 km/u in 10,8 sekondes.

“’Ons is baie opgewonde om die jongste toevoeging tot ons Suid-Afrikaanse reeks bekend te stel,” sê  Mervyn Eagles, die uitvoerende hoof van Scuderia SA, die verspreiders van Ferrari in Suid-Afrika.  “Die Portofino stel nuwe standaarde in sy klas en oortref alle verwagtinge van ‘n GT met ‘n V8-enjin. Ons glo dat hierdie uiters veelsydige afslaankap die perfekte kombinasie van ontwerp-uitnemendheid, uitstekende werkverrigting en ongeëwenaarde tegnologie bied”, voeg hy by.

____________________________________________________________________________________

  • The Ferrari Portofino> Ferrari’s new entry level model with a punch.

  • One moment a cabriolet berlinetta, the next moment a fastback.

  • A 3855 cc V8-engine that delivers441 kW at 7 500 rpm.

  • 760 Nm torque between 3 000 en 5 250 rpm.

  • 0 tot 200 km/h in 10,8 seconds.

  • 0 tot 100 km/h in 3,5 seconds.

  • Top speed 320 km/h. 

%d bloggers like this: