Deur Daantjie Badenhorst

Die Fiat 124-reeks was een van Fiat se suksesvolste modelle wat nog in Suid-Afrika bekendgestel is.

Nadat die Fiat 124 in 1966 in Europa geloods is en die Europese Motor van die Jaar-kompetisie gewen het, is hy in Julie 1967 na Suid-Afrika gebring. Die aanvanklike model was ‘n sedan met ‘n enjin van 1,2 liter.

Hierdie model het die gewilde Fiat 1100 in Suid-Afrika vervang. Die plaaslike motorpers het die 124 goed ontvang en aan die begin van 1968 is ‘n stasiewa by die reeks gevoeg.

Die volgende toevoeging tot die 124-reeks was die model wat vir die res van sy modellewe die topverkoper, dalk nie net in die 124-reeks nie maar ook in Fiat se hele reeks, sou wees. Die 124 Special was toegerus met dubbele kopligte, ronde instrumente pleks van die lang spoedmeter van die ander twee modelle, straallaagbande en ‘n enjin met ‘n verplasingsinoud van 1 438 cc.  Die 124 Special is in Suid-Afrika as die plaasvervanger van die legendariese  Fiat1500 bekendgestel.

Die eerste groot verandering aan die 124-reeks het teen die einde van 1971 plaasgevind. Die stasiewa is stilweg aan die mark onttrek en die intreevlak-sedan het as die Luxe bekendgestaan. Die groot verskil, benewens ‘n paar detailveranderinge, was dat straallaagbande standaardtoetusting geword het. Die Special het ‘n nuwe neus gekry, maar verder was hy baie dieselfde as voorheen.  In 1973 is twee verdere modelle by die 124-reeks gevoeg. Die Special was voortaan ook beskikbaar met ‘n outomatiese ratkas; die eerste Fiat op die Suid-Afrikaanse mark wat hierdie keuse gebied het.

Dieselfde tyd het Fiat besluit om die gewone 125-model, wat aanvanklik ‘n reuse sukses was, maar later in gewildheid afgeneem het, te vervang met die 124 Special T. Die T in sy naam het verwys na die dubbele nokas waarmee hy toegerus was. Hy het dieselfde enjin gehad as die 125 Special, wat op die mark aangebly het. Hierdie enjin het ‘n verplasingsinhoud van 1 608 cc gehad; die aanvaklike modelle het ‘n viergangratkas gehad maar dit is gou met ‘n vyfgangratkas vervang. Om saam te val met laasgenoemde verandering het die hele Fiat-reeks ‘n nuwe Fiat-kenteken gekry.

Fiat 131

Die 131-reeks is intussen  in 1974 in Europa bekendgestel, maar Suid-Afrika moes tot 1977 wag vir sy plaaslike bekendstelling. Die 124 is eers aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek toe die 131 hier bekendgestel is.

Dit is egter net die helfte van die storie, want Fiat het noue bande met verskeie Oos-Europese motorvervaardigers gehad. Hierdie vervaardigers het hoofsaaklik Fiat-modelle wat reeds aan Europese markte onttrek is, vir die destydse Kommunistiese lande vervaardig, maar hierdie motors is ook na Wes-Europese lande uitgevoer as goedkoper alternatiewe vir meer moderne motors. Onder hierdie vervaardigers was Lada van die destydse Sowjet-Unie, FSO van Pole en Zastava (later Yugo) van die destydse Joego-Slawië. Terwyl FSO die 125 in produksie gehou het, het Lada die 124 vervaardig en ook verder ontwikkel.

Die Lada is in 1970 in Rusland bekendgestel, en was beskikbaar in enjins van 1,2, 1,3 en 1,5 liter, met ‘n enjin van 1,6 liter wat later bygekom het. Daar was ‘n verbod op die bemarking van die Lada-reeks in markte waar die 124 beskikbaar was, maar toe die 131 in die 124 se plek bekendgestel is, het die Lada-reeks in daardie lande op die mark gekom.  Hierdie motors is onder die VAZ-naam in die destydse Sowjet-Unie bemark maar het die Lada-naam vir uitvoermarkte gekry. Die stasiewa-weergawe, wat weereens op die Fiat 124 gebaseer was, is in 1971 bekendgestel.

In 1980 is ‘n hersiene weergawe, bekend as die Riva, bekendgestel. Hoewel daar groot verskille in die stilering van die Riva was in vergelyking met sy voorganger, is hy steeds op die Fiat 124-onderstel gebou. Die Riva was beskikbaar met enjins van 1,3 of 1,5 liter; laasgenoemde is later met ‘n 1,6 liter-enjin vervang.

Soos voorheen, is hierdie enjins nie in Fiat-modelle gebruik nie. Hoewel die Riva aanvanklik gewild was in Wes-Europese lande het meer moderne motors van onder meer Koreaanse vervaardigers daartoe gelei dat verkope skerp afgeneem het. Om sake te vererger, moes die maatskappy groot uitgawes aangaan om te verseker dat die motors aan strenger besoedelingstandaarde voldoen. Lada het in 1997 aan die Britse mark onttrek en die laaste modelle is in 2012 vervaardig.

Benewens die weergawes wat in Suid-Afrika vervaardig is, was daar ook twee ander 124-modelle wat meer op die motorgeesdriftige gemik is. Die 124 Sport Spider is in 1966 internasionaal bekendgestel en was veral gewild in die Verenigde State van Amerika. Die Sport Spider was beskikbaar met dieselfde reeks enjins as die sedans, maar die verskil was dat al die enjins waarmee die Spider beskikbaar was, dubbele bonokasse gehad het. Benewens die 1,4- en 1,6 liter-enjins was eenhede van 1,8- en twee liter ook beskikbaar. In 1985, teen die einde van sy modellewe, was daar ook ‘n Volumex beskikbaar; hierdie model was toegerus met dieselfde drukaangejaagde tweelitrerenjin as die Lancia Beta-koepee en HPE. Voordat hierdie model bekendsgestel is, het die Spider die naam van sy ontwerper, Pininfarina, eerder as die Fiat-kenteken gekry. In 2016, ter viering van die 124 Sport Spider se vyftigste verjaardag, is ‘n nuwe model bekendgestel;, maar dié nuweling is bekend as die Abarth 124 Spider en hy is grootliks gebaseer op die huidige Mazda MX-5.

Die Sport-koepee is dalk meer bekend onder Suid-Afrikaanse motoriste omdat ‘n paar van hulle privaat na Suid-Afrika ingevoer is voordat hy van 1974 in klein getalle in Suid-Afrika gemonteer is. Die 124 Sport het groter veranderinge in sy leeftyd ondergaan as die ander drie modelle en op die ou einde was drie weergawes beskikbaar. Die aanvanklike model is in 1967 internasionaal bekendgestel en was net met die 1,4 liter-dubbelbonokas-enjin beskikbaar. Hierdie model het enkele kopligte en dieselfde agterligte as die Iso Rivolta en die Lamborghini Espada gehad. Die model wat die meeste mense seker onthou, was sy opvolger, wat in 1969 bekendgestel is en beskikbaar was met enjins van 1,4 en 1,6 liter. Hierdie model kon onderskei word deur middel van sy dubbele kopligte en agterligte wat hy met die Lamborghini Jarama gedeel het. Daar was egter ook allooiwiele as ‘n keuse beskikbaar, en dit was uiters gewild.

In 1972 het die Fiat 124 Sport sy laaste veranderinge ondergaan. Hoewel enjins van 1,6 en 1,8 liter beskikbaar was, is net die 1,8 liter-model, met dieselfde enjin as die Lancia Beta en die Fiat 132, wat later in Suid-Afrika op die mark sou kom, in 1974 hier bekendgestel. Die uitstaande kenmerke van die laaste model was ‘n nuwe neus met dubbele kopligte en vertikale agterligte, terwyl Cromodora-allooiwiele standaardtoerusting in die Suid-Afrikaanse modelle was.

Die 124-reeks is in 1974 deur die Fiat 131-reeks vervang; die Sport Spider was tot in 1985 op die mark terwyl die Sport nie vervang is nie en ‘n tweedeurweergawe van die 131, wat byna net soos die vierdeurmodelle gelyk het maar met twee deure minder, eerder bekendgestel is.

Fiat 131 Abarth

%d bloggers like this: