Breaking News

Fiat hersien sy 500

In 2007 het Fiat die legendariese 500 laat herleef met die bekendstelling van ‘n splinternuwe model met hierdie legendariese naam.

Nou het Fiat se moedermaatskappy Stellantis ‘n hersiene weergawe van die 500 bekendgestel, en hierdie keer is altesaam vier spesifikasievlakke beskikbaar. Die 875 cm³-enjin van die vorige 500-reeks bly behoue; hierdie twee-silinder enjin lewer 62,5 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 145 Nm teen 1 900 opm. Die meeste modelle word met ‘n handratkas met vyf gange toegerus maar ‘n outomatiese MTA-ratkas, ook met vyf gange, is ook beskikbaar. Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstof-verbruik van die 500 in ‘n gekombineerde siklus net 4,0 liter per 100 km. 

Die intreemodel van die 500-reeks is die 500 Cult, wat net met die gewone driedeurbakwerk beskikbaar is. Hierdie model word toegerus met 14-duim staalwiele met wieldoppe en swart buitespieëls, terwyl halogeenkopligte en lidgiode-dagryligte standaardtoerusting is. Aan die binnekant is daar ‘n paneelbord in dieselfde kleur as die bakwerk , blou bekleedsel vir die sitplekke en ‘n handbeheerde lugversorger. Die klankstelsel beskik oor ‘n skerm van vyf duim en ‘n USB-kragpunt, asook DAB (Digital Audio Boradcasting)  is standaard toerusting. 

Die Connect is die volgende model in die reeks en weer eens is net ‘n gewone drie-deur model beskikbaar. Hierdie model word onderskei deur middel van 15 duim-allooiwiele, syskorte, model-spesifieke stampers met voorste misligte en ‘n agterste drukvlerk. Die klankstelsel beskik oor ‘n seweduim-skerm met Android Auto en Apple Car Play, twee bykomende luidsprekers, spoedbeheer en ‘n veelfunksie-stuurwiel.

Net een spesifikasievlak is met die outomatiese ratkas beskikbaar, naamlik die Dolcevita, wat ‘n keuse tussen die gewone bakwerk en ‘n afslaankap bied. Die Dolcevita spog met tweekleur-verfwerk, spesifieke kentekens, en ‘n leerstuurwiel, ‘n glasdak en sitplekke met leerafwerking. Die agtersitplek kan in ‘n 50/50-verhouding verdeel word.

Die Sport is, soos sy naam aandui, die sportiewe keuse; hy spog met 16-duim allooiwiele, Sport-kentekens, model-spesifieke syskorte, ‘n agterste drukvlerk en spesifieke stampers. Aan die binnekant is daar ‘n seweduim TFT-instrumentepaneel en outomatiese lugversorging, asook ‘n rooi 500-embleem op die paneelbord. 

Altesaam sewe lugsakke is standaard toerusting vir die hele reeks, en die dagryligte is deur die 500-embleem geïnspireer. Dit lyk nie net byderwets nie maar maak die motortjie ook meer sigbaar. Stabiliteits-beheer, wegtrek-hulp en ‘n snelheids-beperker wat deur die eienaar ingestel kan word, is alles standaard toerusting. 

Die inligting-en-vermaakstelsel kan teen ekstra koste aangevul word met ‘n satelliet-navigasiestelsel wat die Tom Tom-navigator en 3D-kaarte insluit.  Die stelsel self is ontwerp om gebruikers-vriendelik te wees en gee die eienaar toegang tot musiek, selfoon-kontakte en, waar van toepassing, navigasie. Die eienaar kan sy of haar selfoon deur Bluetooth verbind terwyl Apple Car Play en Android Auto vir al die modelle van die Connect a fen boontoe beskikbaar is.

Die pryse van die verskillende modelle lyk só:
500 Cult: R 219 900
500 Connect: R 260 900
500 Sport; R 269 900
500 C Sport (afslaankap): R 319 900
500 Dolcevita: R 274 900
500 C Dolcevita (afslaankap): R 324 900

Hierdie pryse sluit ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km in.

%d bloggers like this: