Breaking News

Fiat-paneelwa lê miljoen kilometer af

In 2007 is die derde geslag Fiat Fiorino, gebaseer op die platform van die Grande Punto, in Suid-Afrika bekendgestel.

Die passasiers-weergawe, bekend as die Qubo, is intussen aan die plaaslike mark onttrek, maar die Fiorino is steeds beskikbaar, met die keuse tussen ‘n 1,4 liter-petrol enjin of ‘n 1,3 liter Multijet-turbo-diesel enjin. Een Fiorino-eienaar het pas ‘n miljoen kilometer met ‘n Fiorino met die Multijet-enjin  afgelê.

Hierdie Fiorino is in Januarie 2015 aangeskaf, en benewens ‘n ratkas wat op 500 000 km vervang moes word, is net die gewone instandhouding op hom uitgevoer terwyl hy  gemiddeld 500 km per dag, 12 000 km per maand en 150 000 km per maand afgelê het. Niks anders as oorspronklike onderdele is vir sy instandhouding gebruik nie, en die maatskappy het besluit om hom behoorlik te  versien voordat hy weer vir werk ingespan word. Volgens Leslie Ramsoomar, die Suid-Afrikaanse  besturende direkteur van Fiat se moeder-maatskappy Stellantis, is betroubaarheid die rede vir die Fiorino se sukses as vloot-voertuig, tesame met lae loopkostes.

Hoewel die Fiorino ‘n werkesel is, word hy steeds toegerus met ‘n omvattende inligting-en-vermaakstelsel, met ‘n vyfduim-raakskerm, Bluetooth en ‘n USB-kragpunt.  Aan die praktiese kant beskik die Fiorino oor ‘n laairuimte van 2,8 m³.

Die petrol enjin lewer 57 kW teen 6 000 opm en 115 Nm teen 3 000 opm, en die diesel 59 kW teen 4 000 en wringkrag van 208 Nm teen 1 500 opm.

Die Fiorino is tans by Fiat Professional-handelaars beskikbaar teen R 241 900 vir die petrol en R 267 100 vir die turbodiesel. Dit sluit ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km in.

%d bloggers like this: