Fiat se haastige inheemse 131

0 Comments

In 1977 het Fiat sy gewilde 124-reeks in Suid-Afrika aan die mark onttrek en die 131, wat drie jaar tevore oorsee bekendgestel is, eindelik na Suid-Afrika gebring.

Die aanvanklike reeks het bestaan uit ‘n tweedeur-sedan met ‘n viergang ratkas, ‘n vierdeur-sedan met ‘n vyfgang handratkas of ‘n outomatiese ratkas en ‘n stasiewa, maar in 1978 is die reeks verder uitgebrei met die toevoeging van twee sportiewe modelle. Die 1600 Rally was meganies baie dieselfde as die sedan maar met die tweedeur-bakwerk en meer sportiewe afwerking maar die model wat motor-geesdriftiges gaande gehad het, was die 2000 Racing.

Die Racing was ‘n renmotor wat aan die Groep 1-baanren kampioenskap en aan tydrenne kon deelneem en is in samewerking met Abarth in Italië ontwikkel, maar ‘n padweergawe was ook beskikbaar. Die bakwerk was presies dieselfde as dié van die tweedeur-sedan, maar met kenmerke soos Abarth-allooiwiele met 185/70 x 13-bande en ‘n glasvesel-enjinkap met ‘n kragbult. Die Racing is in sulke beperkte getalle vervaardig dat daar ‘n stormloop by handelaars ontstaan het.  Die dubbelbonokas-tweeliter-enjin was toegerus met twee Weber-IDF 40 mm-vergassers wat op ‘n spesiale inlaat-spruitstuk gemonteer is, hoëdruk-suiers met ‘n drukverhouding van 10,2 en ‘n spesiale uitlaatstelsel.  Die veerstel is met 30 mm verlaag en swaardiens-kronkelvering en -skokbrekers was standaard toerusting.  Aan die binnekant is rukstop-sitplekgordels aangebring en die materiaal-bekleedsel het strepe in helder kleure bevat.  Die volledige instrumente-paneel het ‘n toereteller bevat en ‘n Abarth-driespeek-stuurwiel was standaard toerusting. 

Die 131 Racing was die vinnigste vier-silinder motor op die Suid-Afrikaanse mark en kon binne 5,7 sekondes van 0-80 km/h (die aanvaarbare snelheid as gevolg van die destydse brandstifkrisisse) versnel en ‘n topsnelheid van ongeveer 200 km/h bereik. Nogtans was die Racing se hantering uiters goed en die motor was deurentyd padvas. Die 131 Racing se enjin het 96 kW teen  6 000 opm en wringkrag van 165 Nm teen 5 000 opm gelewer.

Die Groep 1-kategorie van plaaslike motorsport het in die 1970’s gefloreer en verskeie vervaardigers het deelgeneem.  In daardie jare het motors soos die Alfa Romeo 2000 GTV, die Ford Cortina 3,0 S en die Mazda Capella Rotary RS deelgeneem en  aan die begin van 1978 het Fiat besluit om tot die stryd toe te tree. Gigi Fincati, wat in diens van Fiat Suid-Afrika was, is opdrag gegee om ‘n renmotor te ontwikkel wat aan Groep 1 kon deelneem. Hy was Italië toe en het in Abarth se onderdele-mandjie gaan rondkrap.  Op daardie stadium was daar onderdele van die Abarth 124 Sport Spider beskikbaar  en hy het teruggekeer met genoeg onderdele om 16 motors te vervaardig.  Die reëls het bepaal dat ‘n honderd motors vervaardig moes word om aan Groep 1 deel te neem en daarom is ‘n bestelling geplaas vir genoeg onderdele om die oorblywende motors te vervaardig.  Die vragskip wat die onderdele vervoer het, het aan die kus van Kenia gesink en daarom is net sestien motors vervaardig.  Drie motors, met Pop Diedericks, Tony Viana en Brian von Hage, het aan die 1978-kampioenskap deelgeneem en het byna al die wedrenne waarin hulle gejaag het, gewen en die Mazda RS’s, wat die reeks op daardie stadium oorheers het, behoorlik laat les opsê.  As gevolg van die reëls wat bepaal het dat ‘n honderd motors vervaardig moes word, is hulle aan die einde van 1978 verhinder om verder deel te neem. Nogtans het Pop Diedericks se 131 Racing in die Asseng 200 Enduro, wat ‘n uur en ‘n half lank geduur het, ‘n voorsprong van ‘n minuut oor die Mazdas van Dave Charlton en Willie Hepburn opgebou en die wedren gewen maar binne ‘n paar maande is hy op ‘n tegniese punt  van die uitslae uitgesluit.  In die Suid-Afrikaanse tydren-kampioenskap het Kassie Coetzee die klas vir produksie motors in 1978 gewen. In dieselfde tyd het die 131 Abarth die Wêreld tydren-kampioenskap drie keer gewen.

Teen die einde van 1978 het die 131-reeks groot detail-veranderinge ondergaan, onder meer stilerings-veranderinge binne en buite en die Supermirafiori is bekendgestel. Die Racing het, veral as gevolg van die feit dat geen bykomende motors vervaardig is nie, van die mark verdwyn, maar ‘n vierdeurmodel met ‘n minder kragtige weergawe van die Racing se twee-liter enjin met een vergasser, bekend as die Superstrada, is bekendgestel.  Teen die einde van 1980 het Fiat as vervaardiger aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek.

Categories:
%d bloggers like this: