Fiat se Tipo

Sedert die Palio en Siena aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek is, het Fiat nog nie weer ‘n model in hul plaaslike reeks gehad wat op ‘n breë teikenmark gemik is en die potensiaal gehad het om ‘n topverkoper te word nie.

Dit het egter nou verander met die bekendstelling van die Tipo, wat nou by Fiat-handelaars landwyd beskikbaar is. Sedert sy Europese bekendstelling verlede jaar het die Tipo verskeie toekennings gewen, onder meer die Autonest- “Best Buy 2016”-toekenning, wat gemaak word deur ‘n jurie van 26 motorjoernaliste van die meeste gesaghebbende Europese motortydskrifte. Hierdie toekenning gee erkenning aan die Tipo se ontwerp, gerief, gehalte, veelsydigheid en waarde vir geld.

 

Die Tipo is in ‘n luikrug- en sedanweergawe beskikbaar, en drie spesifikasievlakke, drie enjins en drie ratkaste is van die begin af beskikbaar. Die intreemodel van die reeks is die Pop, wat in sedan- en luikrugmodelle beskikbaar sal wees, die Easy, wat met dieselfde twee bakvorms beskikbaar is, is die middelste spesifikasievlak en die Lounge, die topmodel, is uitsluitlik as ‘n luikrug beskikbaar.

Die Tipo se ruim binnekant sal selfs vir lang mense gemaklik wees, en volgens die vervaardiger is veral beenruimte die beste in sy klas. Die bagasiebak is groot genoeg vir ‘n gesin; dit hou 440 liter en 520 liter vir die luikrug en die sedan onderskeidelik en in al die modelle behalwe die Pop-sedan, kan die agtersitplek platgeslaan word indien daar nog meer bagasieruimte benodig word.

 

Aan die binnekant is daar verskeie bêreplekke vir los goedies, onder meer selfone, muntstukke, bottels en dies meer terwyl dit ook moontlik is om ‘n selfoon voor die rathefboom te koppel. Die kontroles kan maklik bereik word sonder dat die bestuurder sy of haar oë van die pad af moet haal en ‘n veelfunksiestuurwiel is standaardtoetusting op die hele reeks.

Daar is drie enjins en drie ratkaste beskikbaar. Al drie modelle is beskikbaar met ‘n petrolenjin met ‘n verplasingsinhoud van 1 368cc. Hierdie enjin lewer 70 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 127 Nm teen 4 500 opm. Hierdie enjin is net met ‘n sesgang-handratkas beskikbaar. Die gemiddelde brandstofverbruik in die gekombineerde siklus is 5,7 liter per 100 km. Die topsnelheid van modelle met hierdie enjin is 185 km/h en daar kan in 11,5 sekondes van 0- tot 100 km/h versnel word.

 

Die Easy is ook beskikbaar met ‘n 1598cc-enjin en ‘n outomatiese ratkas met ses gange. Hierdie enjin se kraglewering en wringkrag is onderskeidelik 81 kW teen 5 500 opm en 152 Nm teen 4 500 opm. Die gemiddelde brandstofverbruik is 6,3 liter per 100 km. Die topsnelheid is 192 km/h en daar kan in 11,2 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel word.

Daar is net een model beskikbaar met ‘n dieselenjin, naamlik die Easy-sedan. Hierdie enjin, met ‘n verplasingsinhoud van 1248cc, is net met ‘n vyfgang-handratkas beskikbaar. Hierdie enjin lewer 70 kw teen 4 000 opm en wringkrag van 200 nm teen 1 500 opm. Die gemiddelde brandstofverbruik is 3,7 liter per 100 km. Die topsnelheid is 183 km/h en versnelling van 0 tot 100 km/h geskied in 11,5 sekondes.

Die hele Tipo-reeks is goed toegerus, en onder die standaardkenmerke van die Pop-modelle is Bluetooth-verbinding, elektriese vensters voor, twee voorste lugsakke, ‘n klankstelsel met ses luidsprekers en lugversorging.

Die Easy voeg allooiwiele van sestien duim, LED-dagryligte, chroom-deurhandvatsels, klimaatbeheer, voorste misligte, snelheidsbeheer, agterste parkeersensors en kleurgekodeerde buitespieëls by, satellietnavigasie is opsioneel beskikbaar, en anders as in die Pop kan die agtersitplekke op die sedan en die luikrug platslaan.

Die Lounge kry satellietnavigasie as standaardtoerusting, asook allooiwiele van sewentien duim. Nog ‘n opsie op die Easy wat standaardtoerusting vir die Lounge is, is ‘n trukamera.

Onder die veiligheidskenmerke wat standaardtoerusting vir die hele reeks is, is elektroniese stabiliteitsbeheer, sluitweerremme, vastrapbeheer, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, ‘n noodremstelsel en wegtrekhulp.
Daar is verskeie bykomstighede deur Mopar, Fiat Chrysler se bykomstighede-afdeling, beskikbaar, waaronder dakrakke, ‘n verwyderbare trekstang, ‘n werkstafel vir agterste insittendes wat aan die kopstutte vasgemaak word, ‘n rubbermat vir die bagasiebak en verchroomde oortreksels vir die buitespieëls.
Die pryse van die verskillende modelle, wat Fiat se gebruiklike waarborg en diensplan, elk geldig vir drie jaar of 100 000 km insluit, is:
1,4 Pop-sedan: R 229 900
1,4 Easy-sedan- R 249 900
1,3 diesel Easy-sedan- R 274 900
1,6 Easy-sedan (outomaties)- R 274 900
1,4 Pop-luikrug- R 249 900
1,4 Easy-luikryg- R 269 900
1,4 Lounge-luikrug- R 289 900
1,6 Easy-luikrug (outomaties)- R 294 900

%d bloggers like this: