Ford begin nuwe Ranger vervaardig

0 Comments

Produksie van die jongste weergawe van Ford se gewilde Ranger-bakkiereeks het pas by dié maatskappy in Silverton in Pretoria ‘n aanvang geneem.Die reeks, wat ook die heel eerste Ranger Raptor sal insluit, word nie net vir die Suid-Afrikaanse mark nie, maar ook vir uitvoermarkte in Afrika, Europa en die  Midde-Ooste vervaardig. Volgens Neale Hill, die besturende direkteur van Ford se streek in Afrika suid van die Sahara-woestyn is dit die gevolg van ‘n belegging van R 3 miljard wat oor die afgelope agttien maande aangegaan is en omvattende verbeteringe aan die aanleg ingesluit het. Hy het ook gesê 2019 is ‘n belangrike en opwindende jaar vir die Ranger, en dat die Raptor een van die nuwe modelle van vanjaar is waarna die meeste mense uitsien.

 

Die nuwe Ranger-reeks, wat in die nabye toekoms bekendgestel word, sal meer krag as sy voorgangers hê, maar ook meer brandstofdoeltreffend wees en met meer gevorderde tegnologie spog. Hill glo dat die nuwe Ranger weer eens nuwe standaarde in die uiters mededingende marksegment vir bakkies sal stel. Sommige van die topmodelle, onder andere die Raptor, sal toegerus word met ‘n splinternuwe dieselenjin van twee liter met dubbele turbo-aanjaers. Hierdie enjin lewer 157 kW se krag en 500 Nm se wringkrag, onderskeidelik 10 kW en 30 Nm meer as dié van die 3,2 liter-turbodieselenjin, wat steeds vir sekere modelle gebruik sal word. Hierdie enjin sal gekoppel word aan ‘n nuwe outomatiese ratkas met tien gange, wat maak dat algehele brandstof doel-treffendheid 9% beter as voorheen sal wees.

 

Nog ‘n nuwe enjin wat dieselfde ratkas sal gebruik, is ‘n dieselenjin van twee liter met net een turboaanjaer, wat 132 kW en 420 Nm sal lewer. Die bekende 2,2- en 3,2 liter-enjins sal ook steeds in sommige modelle gebruik word met dieselfde ratkaste as voorheen. Aangesien enkelkajuit-, Super Cab- en dubbel kajuitmodelle beskikbaar sal wees, sal die Ranger die grootste reeks modelle van enige bakkie in sy marksegment bied. Die Wildtrack-modelle sal nuwe standaarde in veiligheid in sy klas stel, met nuwe kenmerke soos botsings-waarskuwing en aktiewe parkeerhulp. Die SYNC 3- inligting-en-vermaakstelsel, wat navigasie insluit en met stembeheer werk, sal ook weer gebruik word.

 

Nadat die “standaard modelle”op die mark gekom het, gaan Ford konsentreer op die bekendstelling van die Raptor, wat as die eerste ware verrigtings-bakkie op die plaaslike mark beskou word en in die tweede kwartaal van die jaar op die mark sal kom. Die Raptor sal toegerus wees met gevorderde Position Sensitive Damping (PSD)-skokbrekers wat deur Fox ontwikkel is, spesiale BF Goodrich-bande en ‘n uiters gesofistikeerde terreins bestuur-stelel met ‘n Baja-modus wat die bestuurder in staat sal stel om vining in veldy-toestande te bestuur. Daarby het die Raptor ‘n versterkte onderstel en ‘n meer gevorderde remstelsel met skyfremme op al vier wiele.

 

Volledige besonderhede van die modelreeks, tegniese spesifikasies en pryse sal nader aan die bekendstellingsdatum bekendgemaak word.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: