Ford brei sy Ranger-reeks uit

0 Comments

Ford het pas sy gewilde Ranger-reeks uitgebrei met die toevoeging van die beperkte Thunder-reeks en die spesifikasie-vlakke van sekere modelle verhoog.

Die Thunder is op die Wildtrak gebaseer en spog met ‘n aantal unieke stilerings-kenmerke. Die sierrrooster het ‘n heuningkoek-patroon en die “neusgate” aan die kant is in rooi afgewerk. Hierdie kenmerk is deur Ford se verrigtings-modelle geïnspireer. Die buitespieëls is in swart afgewerk en daar is drie-dimensionele Thunder-kentekens op die voordeure en die agterklap. Die 18-duim allooiwiele is ook in swart afgewerk en die geïntegreerde rolstaaf, wat ook standaard toerusting vir die Wildtrak is, kry rooi afwerking.

Aan die binnekant is daar swart afwerking en die leersitplekke spog met rooi stikwerk en die Thunder-embleem in die rugleunings geborduur. Die vrag op die laaibak word deur middel van ‘n sluitbare roldeksel wat soos ‘n garagedeur werk, beskerm en die laaibak self kan verdeel word om items van verskillende groottes te vervoer. Die Thunder is net beskikbaar in wit, swart, grys en silwer.

Onder die enjinkap is dieselfde enjin as wat in die Wildtrak voorkom. Dié tweeliter-dieselenjin het twee turboaanjaers en lewer 157 kW teen 3 000 opm en 500 Nm teen 1 500 opm. Die outomatiese tien-gang ratkas maak dit vir die bestuurder moontlik om sekere rat-verhoudings uit te skakel wat dit makliker maak om te sleep, om op gladde paaie te bestuur of teen steil hellings uit te klim. Daar is egter ook ‘n model met die 3,2 liter turbo-diesel enjin met vyf silinders wat 147 kW teen 3 000 opm en wringkrag van 470 Nm teen 1 500 opm lewer e naan ‘n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel word.

Die Ranger se sleep-vermoë van 3,5 ton bly dieselfde, asook die grond-vryhoogte van 230 mm. Die Thunder word toegerus met die veiligheids kenmerke wat hul buiging op die Wildtrak gemaak het., onder meer ‘n outonome noodrem-stelsel wat ‘n kamera- en radarstelsel gebruik om voetgangers en ander bewegende voorwerpe te bespeur. Die aanpasbare spoedbeheer bevat voorbots-waarskuwing wat ‘n hoorbare en sigbare waarskwuing gee wanneer die voertuig nader as ‘n kritieke afstand voor die een voor hom bereik. Baanhou-hulp en baandwaal-waarskuwing is standaard toerusting vir die Thunder en wanneer moegheid by die bestuurder bespeur word, is daar ‘n alarmstelsel wat hom of waarsku om ‘n ruskans te neem.

Ford se toonaangewende semi-outomatiese parallel-parkeerhulp stelsel is ook standaard toerusting; dit maak gebruik van ultrasoniese sensors op die voorste en agterste stamper wat na parkeerplekke wat groot genoeg vir die voertuig is, soek en die bestuurder laat weet as daar so ‘n plek is. Al wat die bestuurder moet doen, is om die versneller en die rempedaal te gebruik en die toepaslike rat te kies. Ford se vindingryke EZ Tailgate is ligter as enige ander bakkie se agterklap.

Die Wildtrak is met twee bykomende opsionele ekstras bekikbaar, naamlik die roldeksel en swart afwerking vir die allooiwiele. Sommige ander modelle spog ook met nuwe kenmerke. Al die modelle van die XLT af boontoe sal voortaan met ligdiode-kopligte toegerus word; dit sluit ook ligdiode-dagryligte en misligte in. Die XLS se inligting-en-vermaak stelsel word ook ingrypend verbeter. Die vorige geslag SYNC 1-stelsel met sy vierduim-skerm word vervang met ‘n nuwe stelsel wat ‘n agtduim-volkleur raakskerm insluit; dit bevat baie van die SYNC 3-stelsel se kenmerke behalwe stembeheer en satelliet-navigasie.

Daar is twee USB-kragpunte en volle Android Auto en Apple Car Play-verbinding, wat beteken dat die navigasie-funksie van die selfoon wat gekoppel word, gebruik kan word. Hierdie stelsel is opsioneel vir die XL-modelle beskikbaar. Daarby kan kant-trappe teen ekstra koste vir die XL-modelle aangebring word.

Die pryse van die Thunder-modelle, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km insluit, lyk soos volg:

Ford Ranger Thunder 3,2 TDCI 4×2: R 711 600
Ford Ranger Thunder 2,0 BiT 4×2: R 736 000
Ford Ranger Thunder 2,0 BiT 4×4: R 787 000

Categories:
%d bloggers like this: