Ford brei Tourneo Custom-reeks uit

0 Comments

Ford het pas sy Tourneo Custom-reeks uitgebrei met die toevoeging van twee nuwe modelle met ‘n nuwe enjin-en-ratkaskombinasie.

Die twee nuwelinge is die 2,0 SiT Trend en Limited, wat albei met ‘n outomatiese ratkas en twee weergawes van dieselfde turbodieselenjin van twee liter wat in die Ranger gebruik word, toegerus word. Volgens Doreen Mashinini, die algemene bemarkingshoof van die Ford-motormaatskappy, was daar ‘n vraag na ‘n Tourneo Custom met ‘n outomatiese ratkas en daarom het die maatskappy besluit om twee outomatiese modelle by te voeg, naamlik die Trend, met ‘n enjin wat 96 kW  en 385 Nm lewer, en die Limited, met ‘n kraglewering van 136 kW en wringkrag van 415 Nm. Die Ad Blue-tegnologie wat vir albei hierdie enjins gebruik word, maak die enjins meer omgewingsvriendelik deur uitlaatgasse te beperk. Dit beteken dat diesel met ‘n swaelinhoud van 50 ppm of laer ‘n vereiste vir hierdie modelle is. Albei modelle gebruik die outomatiese sesgangratkas wat in sekere Ranger- en Everest-modelle beskikbaar is.

Hoewel die buitestilering dieselfde as die res van die reeks is, is daar ‘n aantal nuwe kenmerke aan die binnekant. Die paneelbord en instrumentepaneel is splinternuut en weerspieël Ford se jongste onterwerprigting, wat die eerste keer vir die nuwe Fiesta en Eco Sport gebruik is.  Dit is meer gebruikersvriendelik as voorheen, en werk op dieselfde beginsel as ‘n selfoon of tablet. Die paneelbord is in chroom en glansswart afgewerk en die hele voorpaneel is ontwerp met die doel om so ergonomies doeltreffend moontlik te wees.  Daar is ‘n nuwe driespeekstuurwiel, soortgelyk aan dié wat in die passasiersmodelle gebruik word, met beheerknoppies vir die telefoon, klankstelsel en spoedbeheer wat makliker is om te gebruik. Ford se Sync 3-inligting-en-vermaakstelsel word vir die eerste keer in die Tourneo Custom Limited-outomaties gebruik; dit stel gebruikers in staat om funksies van onder meer die telefoon en die klankstelsels deur middel van stemopdragte te beheer. Die stelsel werk ook met Android Auto en Apple Car Play en bied die keuse om die navigasiefunksie van die gebruiker se slimfoon te gebruik.  Dié stelsel kan deur middel van Wi Fi bygewerk word wanneer die voertuig in ‘n vertroude netwerk is. Die Trend gebruik ‘n minder gevorderde weergawe van Sync 3 met ‘n skerm van vier pleks van agt duim. Albei stelsels beskik oor agt USB-kragpunte waarmee mobiele toestelle oral in die voertuig gelaai kan word, terwyl ‘n bykomende 230 Volt-kragpunt teen bykomende koste beskikbaar is; dit kan gebruik word om skootrekenaars te laai. Die tweede en derde rye sitplekke kan gerangskik word om by verskillende behoeftes aan te pas; dit kan platgevou word om bagasieruimte te vergroot, die middelste ry kan vir vergaderings omgedraai word of dit kan verwyder word indien nodig.

Verskillende veiligheidskenmerke is as standaardtoerusting of teen ekstra koste vir die Tourneo Custom-modelle beskikbaar. Onder die standaardkenmerke is voorste-, kant- en gordynlugsakke, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp asook ‘n banddrukmonitor. Onder die opsionele ekstras wat voornemende kopers kan aanbring, is ‘n trukamera, baandwaalwaarskuwing, baanhouhulp, agterste dwarsverkeerwaarskuwing en ‘n blindekolmonitor. Pleks van die gewone spoedbeheer wat standaardtoerusting is, kan ‘n aanpasbare stelsel wat gebruik maak van radar om ‘n vaste volgafstand te handhaaf, gekies word, terwyl ligdiode-kopligte met dagryligte ook beskikbaar is. Die outomatiese Trend en Limited word met 17 duim-allooiwiele toegerus.

Die Tourneo Custom is in soliede rooi, wit en blou kleure beskikbaar, asook in metaalkleure soos twee skakerings van silwer, metaalblou, oranje en grys.

Die pryse van die Tourneo Custom-reeks, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km, ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km, ‘n waarborg teen korrosie van vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerafstand en onbeperkte padbystand van drie jaar insluit, lyk só:

2,2 TDCI Ambiente: R 621 500

2,2 TDCI Trend : R 646 000

2,2 TDCI Limited: R 695 600

2,0 SiT Trend Outomaties: R 700 200

2,0 SiT Limited Outomaties: R 740 900

Categories:
%d bloggers like this: