Ford Cortina Merk 3: groter en beter vir die 1970’s

0 Comments

Toe die Ford Cortina vir die eerste keer in 1962 bekendgestel is, was dit ‘n kleinerige motor met ‘n keuse tussen twee enjin groottes, naamlik 1,2 en 1,5 liter.

Die Merk 2 was baie dieselfde grootte, hoewel ‘n 1,6 liter-enjin in 1968 in Suid-Afrika bekendgestel is. Twee jaar later het die Escort egter met die selfde enjin op die mark gekom, terwyl die Corsair, wat om een of ander rede nie so gewild was nie, aan die mark onttrek is. Die Escort en Cortina het byna oorvleuel en die gaping tussen hulle en die Zephyr en Zodiac Merk 4 , asook die 17/20 M, wat in Suid-Afrika beskikbaar was, was baie groot.

Die oplossing was om die Cortina in die mark te herposisioneer. Die Escort het reeds as Ford se eerste keuse vir motorsport oorgeneem, en teen die einde van 1970 is ‘n splinternuwe Cortina, weliswaar met Ford se bekende enjins, in Brittanje bekendgestel. Die Taunus TC (wat vir Taunus Cortina gestaan het), was in lande soos Duitsland, Nederland en België beskikbaar, en hierdie model het ‘n paar stileringsverskille gehad. Daarby was die Taunus in ‘n koepee beskikbaar, maar die Cortina nie.

Die Cortina Merk 3 het nie dadelik in Suid-Afrika op die mark gekom nie, hoewel een motor by die Autopret-motorskou in Februarie 1971 in Pretoria uitgestal is. Die Suid-Afrikaanse bekendstelling is weens stakings in Brittanje tot Julie 1971 uitgestel, en aanvanklik was daar net een enjin keuse, naamlik die 1600, met twee vlakke van afwerking beskikbaar. Die verskil tussen die 1600 en die 1600 L was dat die 1600 L met ‘n verwarmer en ‘n remversterker toegerus is, en die keuse van ‘n viergang-handratkas of ‘n outomatiese driegang-ratkas gebied het. Drie keuses wat wel oorsee beskikbaar was, is nie in Suid-Afrika bekendgestel nie. Daar was nie ‘n twee-deur sedan of ‘n 1,3 liter-enjin beskikbaar nie en die luukse GXL, wat onder meer ‘n vinieldak, dubbele kopligte en Rostyle-wiele as standaard toerusting gehad het, het ook nie in Suid-Afrika op die mark gekom nie. Die reeks is voor die einde van 1971 uitgebrei. Die 2000 GT het vier reguit silinders met ‘n bonokas, eerder as die 17 M se V4-enjin gehad, en was toegerus met dubbele kopligte, kantstrepe, Rostyle-wiele , met sitplekke met hoë rugleunings en ‘n volledige instrumente-paneel met onder meer ‘n toereteller aan die binnekant. Die groot nuus was egter die toevoeging van ‘n eg Suid-Afrikaanse model wat in Port Elizaberth ontwikkel en vervaardig is. Die Cortina-bakkie het in ‘n paar opsigte kan die sedan verskil in die sin dat hy ‘n aparte laai-ruim gehad het, asook ‘n lang rathefboom, ‘n banksitplek en ‘n handrem onder die paneelbord. 

Die V4-enjin is wel in 1972 in die 2000 L en XL-sedan en die 2000 L-stasiewa bekendgestel. Ford het, om een of ander rede, nie daaraan gedink om ‘n 1600 Merk 3-stasiewa by die reeks te voeg nie. Die sedans was weer eens beskikbaar met ‘n hand- of outomatiese ratkas. Hoewel die Suid-Afrikaanse ontwikkeling van die Merk 3-reeks hier ter sprake is, kan ‘n mens nie nalaat om ‘n belangrike verwikkeling in ‘n oorsese mark te noem nie. Teen die einde van 1972 het Ford in Australië ‘n enjin keuse bekendgestel wat op ‘n manier ook mettertyd sy pad na Suid-Afrika gevind het. Die Cortina TC, soos wat die Merk 3 daar bekendgestaan het, was van toe af beskikbaar met twee enjins uit die Falcon XA-reeks, naamlik ‘n 3,3 liter en ‘n 4,1 liter, elk met ses silinders. 

Toe Car die Merk 3 vir die eerste keer in sy Oktober 1971-uitgawe getoets het, het dié tydskrif melding gemaak van die groot enjin-kompartement en gesê dat daar plek vir baie groter enjins as net die 1600 was. Verder het hulle bespiegel oor die moontlikheid dat ‘n V6-enjin daarin sou pas. Hoewel Basil Green reeds vroeg in 1972 ‘n Perana V6 bekendgestel het, het Ford teen die middel van 1973 met nóg ‘n eg Suid-Afrikaanse model vorendag gekom.  Die Big Six-reeks het bestaan uit die 2500 L-sedan en stasiewa, elk met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas en die 3000 GT. Hulle was dadelik ‘n groot sukses, maar hulle het nie lank onveranderd gebly nie.

Die Cortina 3000 GT was seker die een Ford met die kortste modellewe ooit. Vir die 1974-modeljaar het die Cortina-reeks belangrike detail-veranderinge gekry, en die reeks is hersaamgestel. Benewens ‘n nuwe sierrooster en ander klein veranderinge aan die buitekant het die nuwe reeks ook ‘n splinternuwe paneelbord en instrumente-paneel gekry; dit was trouens só suksesvol dat dit onveranderd na die Merk 3 se opvolgers oorgedra is. Die 3000 GT is vervang deur die 3000 XLE, wat met reghoekige kopligte en gestileerde staalwiele sonder wieldoppe toegerus is. Anders as die GT was die 3000 XLE ook met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar. Nog ‘n nuweling was die 2500 V6-bakkie, weer eens met die keuse tussen ‘n hand-of outomatiese ratkas. Die reeks is later in die jaar verder uitgebrei met die toevoeging van die 3000 XLE LDO en die 2500 XL. Die LDO (wat vir Luxury Décor Option gestaan het) was net met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar. Die belangrikste verskille tussen hom en die gewone XLE was kleur-gekodeerde wieldoppe, ‘n vinieldak en fluweel-bekleedsel uit die Granada Ghia, wat terseldfetyd op die mark gekom het. Die 2500 XL het dieselfde kenmerke gehad, maar was met ‘n hand- of outomatiese ratkas beskikbaar.  Teen die einde van die jaar het die bakkies ‘n nuwe swaardiens-laaibak gekry en die agterligte is van die kante na onder die agterklap verskuif.

Nadat die reeks hoofsaaklik onveranderd in 1975 gebly het, is die laaste veranderinge in 1976 aangebring. Teen die middel van die jaar het die hele reeks ‘n nuwe swart sierrooster met die Ford-naam gekry en Rostyle-wiele het standaard toerusting vir die hele reeks, behalwe die bakkies en die XLE, geword. Die LDO se kleurgekodeerde wieldoppe sou ook voortaan standaard toerusting vir die XLE wees. Die kentekens wat die verskillende modelle se enjin kapasiteite angedui het, is van 1600, 2000, 2500 en 3000 verander na 1,6, 2,0, 2,5 en 3,0. 

Die Cortina Merk 3 is in 1977 deur die uiters suksesvolle Merk 4 vervang. Dit was ook die einde van die 2,5 liter-enjin , asook die V4-twee-liter enjin wat deur ‘n nuwe Duitse enjin vervang is.

Categories:
%d bloggers like this: