Ford Escort Merk 2: die sukses-verhaal duur voort

0 Comments

In 1975 was die Ford Escort Merk 1 reeds sewe jaar oud; hoewel hy steeds goed verkoop het en groot sukses in motorsport behaal het, was dit tyd vir ‘n opvolger.

Die Escort Merk 2, met die kodenaam Brenda, het aan die begin van 1975 in Europa en Brittanje op die mark gekom en is vroeg in die tweede helfte van daardie jaar in Suid-Afrika bekendgestel. Die Suid-Afrikaanse reeks het uit vyf modelle bestaan; ‘n 1,3 L met twee of vier deure en ‘n 1,6 GL met ‘n hand- of outomatiese ratkas, asook ‘n 1,3 paneelwa.  Die kenmerke wat die GL onderskei het, was vierkantige- eerder as ronde kopligte, kleur-gekodeerde wieldoppe, skermstroke aan die bokant van die bakwerk en, aan die binnekant, materiaal-bekleedsel, terwyl ‘n vinieldak opsioneel beskikbaar was. Een belangrike model wat van die deel van die oorsese reeks was, het in Suid-Afrika in sy afwesigheid geskitter, maar is wel mettertyd by die reeks gevoeg, maar meer later hieroor.

Teen die einde van 1976 is ‘n beperkte model, wat loodreg op jonger kopers gemik was, by die reeks gevoeg. Die “Wild wheels” modelle was in twee kleurskemas beskikbaar: oranje met wit en blou strepe en wit met groen strepe. Dieselfde kleure is vir die binnekant gebruik. Die tydskrif Car het ‘n oranje 1,3 L oor 20 000 km getoets, maar ‘n mens wonder hoeveel van hulle ooit vervaardig is. Die eerste permanente toevoeging tot die reeks is laat in 1978 bekendgestel. Die RS 2000 het ‘n unieke skuins neus gehad, asook die enjin van die Cortina 2,0 GL. Hoewel dit ‘n permanente model was, is hy net in beperkte getalle vervaardig.  Skaars ‘n paar maande later het die model wat van die begin af oorsee beskikbaar was, uiteindelik sy verskyning op die Suid-Afrikaanse mark gemaak. Die 1600 Sport het die kol getref; dit was ‘n opwindende motor wat baie goed deur die motorpers en die publiek ontvang is, en om alles te kroon, was hy selfs goedkoper as die 1,6 GL. Diegene wat vier deure of ‘n outomatiese ratkas nodig gehad het, kon steeds die 1,6 GL kies, maar Ford kon nie voorbly met die aanvraag na die Sport nie. Die Een Ses Dubbel Nul Sport-advertensie-veldtog het verder tot sy goeie verkope bygedra. 

Die hele reeks het in die tweede kwartaal van 1979 onder die poeierkwas deurgeloop. Die 1,3 L-tweedeur model is aan die mark onttrek en die vierdeur model het vierkantige kopligte gekry. Die wieldoppe waarmee die 1,3 L en 1,6 GL toegerus was, is met die Sport en RS se staal wiele vervang. Aan die binnekant was materiaal-bekleedsel standaard toerusting vir die hele reeks, daar was ‘n nuwe stuurwiel vir die 1,3 L en 1,6 GL en een belangrike verbetering was dat ‘n paneelkissie vir die eerste keer in ‘n Escort standaard toerusting vir al die modelle was. Die brandstoftenk is van 41 na 55 liter vergroot. 

Nog ‘n belangrike rede vir die Escort Merk 2, was die ou bekende gesegde: “win on Saturday, sell on Monday.” Die sukses wat die Escort in motorsport behaal het, het nie ongesiens by motorkopers verbygegaan nie. Veral Sarel van der Merwe het daartoe bygedra; hy en sy navigator Franz Boshoff het plaaslike tydrenne met hul Escort oorheers. Dié motor was toegerus met die Cosworth BDA-enjin en het elke Suid-Afrikaanse kampioenskap van 1977 tot 1982 gewen. Hoewel Sarel later jare met onder meer Audi quattro’s aan tydrenne deelgeneem het, beskou hy die Escort as sy beste tydrenmotor tot nog toe.

Hoewel die Escort Merk 2 in 1981 steeds ‘n top verkoper was, het Ford reeds besluit om dié reeks met die voorwiel-aangedrewe Escort Merk 3 te vervang. Dit sou ‘n radikaal nuwe motor wees en net die Escort-naam sou behoue bly.  Daar is ongelukkig min Escort Merk 2’s in Suid-Afrika oor, aangesien baie van hulle verwaarloos is en die mooistes veral na Engeland uitgevoer is.

Categories:
%d bloggers like this: