20151203_081109  Die legendariese Ford Mustang is in 2015 vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel, nadat die Amerikaanse moedermaatskappy besluit het om hierdie motor ook in ʼn regterhandstuur te vervaardig.

Die huidige Mustang wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is, is die sesde generasie van hierdie ikonie model. Die sesde generasie is die eerste keer op 5 Desember 2013 internasionaal vertoon.  Produksie is in Julie 2014 begin en die goeie nuus vir motorliefhebbers in lande met regterhandstuur was dat Ford besluit het om ook vir hierdie mark voorsiening te maak. Dit sluit Suid-Afrika in.  Daar is ʼn 3,7 liter V6-enjin oorsee beskikbaar, maar hierdie model is nie in Suid-Afrika op die mark nie. Die Suid-Afrikaanse reeks het twee enjins om uit te kies, naamlik ‘n turbo-aangejaagde 2,3 liter vier silinder en ‘n vyfliter-V8 wat van die vorige generasie kom. Die afslaankapmodelle, wat met albei enjins beskikbaar is, kom slegs met  ʼn outomatiese ratkas as standaardtoerusting, maar die twee Fastback-modelle bied wel  ʼn keuse van ʼn hand- of outomatiese ratkas. Die tydskrif Car het in Februarie 2016r padtoetse van die 5,0 GT Fastback-outomaties en die 2,3 Eco Boost-outomaties met die afslaankap gepubliseer en topsnelhede van onderskeidelik 263 km/h en 239 km/h behaal.

Die Mustang is ʼn skaars gesig op Ford-handelaars se vertoonlokale, doodeenvoudig omdat daar lang waglyste is en elke Mustang wat hiernatoe ingevoer word, onmiddellik verkoop word. Daarom kan die Mustang reeds in Suid-Afrika as ʼn groot sukses beskou word.

In 1962 het Ford die aanvanklike konsep bekendgestel, wat die volgende jaar ontwikkel het in een met vier sitplekke wat Ford gebruik het om reaksie te toets op ʼn moontlike produksiemodel.  Die produksieweergawe is op 17 April 1964 bekendgestel en dit was onmiddellik ʼn reuse sukses. Daar was drie bakvorms; ʼn gewone koepee, ʼn afslaankap en ʼn koepee met ʼn skuins agterkant, wat as die “Fastback” bekend gestaan het. Hierdie model is egter eers in 1965 bekendgestel.  Die Mustang was die idee van die bekende Lee Iacocca, wat later tot Chrysler se redding gekom het.  Die reeks enjins het aanvanklik gewissel van ʼn 2,8 liter sessilinder tot by ʼn V8 van 4,8 liter, terwyl drie- en vierganghandratkaste asook ʼn driegang-outomatiese ratkas beskikbaar was.

In 1967 het Ford se Mercury-afdeling sy eie weergawe van die Mustang, bekend as die Cougar, bekendgestel. Die Cougar was net met V8-enjins beskikbaar en ook net as ʼn gewone koepee. Daarby was sy afwerking altyd luukser as dié van die Mustang en die kopligte is agter die rooster, wat soos ʼn elektriese skeermes gelyk het, weggesteek. Daar was onder meer ʼn luukser weergawe van die Cougar, bekend as die XR-7, wat baie goed toegerus was vir sy tyd. Dit was die enigste Cougar wat op die Mustang gebaseer was;  die nuwe model, wat in 1971 bekendgestl is, was radikaal anders.

Die eerste groot verandering aan die Mustang het in 1968 gekom toe ʼn nuwe voorkant bekendgestel is.  Drie nuwe V8-enjins is by die reeks gevoeg, naamlik  een van vyf liter, wat in Suid-Afrika in die Fairlane en die Ranchero beskikbaar was,  een van 5,7 liter, uit die Fairlane 500, asook een van 6,5 liter uit die Galaxie. Verdere veranderinge het in 1969 gevolg, ek die reeks is uitgebrei met die bekendstelling van modelle soos die Boss, wat beskikbaar was met ‘n vyf- of seweliterenjin,  die Mach 1 en ʼn luukse model bekend as die Grande, wat net as ʼn gewone koepee beskikbaar was. Nog ʼn nuwe model was die Cobra Jet, met ʼn V8-enjin van sewe liter.  Die 1969-modelle kon onderskei word deur hul vier kopligte, terwyl die 1970-model weer net twee gehad het.  Die 1971-model was wel op die eerste generasie gebaseer, maar weer eens was die stilering heeltemal anders, en hoewel hy net breër as sy voorgangers was, het hy baie groter gelyk. Die groot verandering vir 1972 was dat die seweliter-model aan die mark onttrek is weens maatreëls om besoedeling te beheer.

Die Mustang II, wat laat in 1973 bekendgestel is, het hoegenaamd niks met sy voorgangers gemeen gehad nie en is eerder op die Pinto gebaseer.  Lee Iacocca het drie jaar tevore die president van Ford geword en  opdrag gegee dat ʼn kleiner Mustang ontwikkel moes word.  In 1967 het General Motors die Chevrolet Camaro en Pontiac Firebird bekendgestel om teen die Mustang mee te ding, maar die nuwe model se mededingers was motors soos die Chevrolet Monza, die Pontiac Sunbird asook Japanse sportmotors soos die Datsun 240 Z en die Toyota Celica.  Die Mustang was vir die eerste keer beskikbaar met ʼn vierslinderenjin, met ʼn kapasiteit van 2,3 liter. Die enigste ander beskikbare enjin aan die begin was die 2,8 liter V6, wat in Europese weergawes van ander Ford-modelle soos die Granada en die Capri gebruik is.  Die eerste groot brandstofkrisis het uitgebreek kort nadat die Mustang II bekendgestel is. Dié wat in ʼn V8-enjin belanggestel het, moes tot 1974 wag toe ʼn vyfliter-enjin by die reeks gevoeg is nadat mense van die brandstofkrisis begin vergeet het.  Die Mustang II was egter nie ʼn sukses nie, en toe die derde generasie in 1978 bekengestel is, het die maatskappy van voor af begin.

Hierdie model  was gebaseer op die platform van die Ford Fairmont (die Amerikaanse model) en die Mercury Zephyr, wat in 1977 bekendgestel is.  Net twee bakwerke   was beskikbaar, naamlik ʼn koepee  en ʼn luikrug.  Aanvanklik was daar net twee vlakke van afwerking, naamlik die gewone model en die luukser Ghia.  Verskeie enjins met vier, ses of agt silinders was beskikbaar, en ʼn radikaal nuwe toevoeging tot die reeks teen die einde van 1979 was ʼn viersilinderenjin van 2,3 liter met ʼn turbo-aanjaer.  Nadat daar in 1979 weer ʼn brandstofkrisis uitgebreek het,  die V8-enjin van vyf liter vervang met een van 4,2 liter, wat beter brandstofverbruik gelewer het, maar hierdie enjin was net met ʼn outomatiese ratkas beskikbaar. In 1982 het die eerste Mustang GT in dertien jaar verskyn, en ʼn vyfliter V8-enjin was weer beskikbaar.  Die eerste afslaankap in nege jaar het in 1983 verskyn in reaksie op soortgelyke modelle in Chrysler se reeks.  In 1983 is die SVO as ʼn verrigtingsmodel bekendgestel; hy was beskikbaar met ʼn turboaangejaagde enjin van 2,3 liter, maar aangesien sy prys baie dieselfde as dié van die V8 GT was, is hy na net ʼn paar jaar aan die mark onttrek.  Teen die middel van die 1980’s het verkope ʼn laagtepunt bereik, en daar is beplan om hom met ʼn voorwielaangedrewe  model, bekend as die Probe, te vervang, maar Ford het derduisende briewe van Mustang-aanhangers gekry waarin die maatskappy gevra is om die Mustang nie aan die mark te onttrek nie. In die plek daarvan het die derde generasie Mustang sy laaste groot veranderinge ondergaan, en die nuwe neus het baie soos dié van die SVO gelyk.

Die eerste heeltemal nuwe model in vyftien jaar is bekendgestel om die dertigste bestaansjaar van die Mustang te vier. Hierdie keer was net twee bakwerke beskikbaar, naamlik ʼn koepee en ʼn afslaankap. Die aanvanklike V8-modelle is weer met ʼn enjin van vyf liter toegerus, maar  na twee jaar is dit met een van 4,6 liter vervang.  In 1999 het die Mustang groot veranderinge ondergaan na aanleiding van Ford se destydse ontwerpersfilosofie.  Benewens skerper kontoere en ʼn nuwe voorkant het hy ook nuwe agterligte gekry.  Hierdie generasie was op die mark tot 2004, toe ʼn nuwe model ter viering van die Mustang se veertigste verjaardag bekendgestel is.

Die vyfde generasie is in September 2004 bekendgestel. Die intree-modelle is toegerus met ʼn V6-enjin van vier liter met ʼn enkele bonokas en ʼn hand- of outomatiese ratkas, elk met vyf gange.  Die GT, wat weer met die 4,6 liter V8-enjin beskikbaar was, kon onderskei word deur middel van ʼn stel misligte binne-in die rooster en ʼn dubbele uitlaatpyp van vlekvrye staal.  In 2010 is dié model opgeknap deur onder meer ʼn nuwe Mustang-embleem, nuwe truspieëls,  nuwe kopligte en ʼn bagasiebak wat net deur middel van afstandbeheer oopgemaak kon word.  Aan die binnekant was Ford se SYNC-stelsel beskikbaar op alle modelle behalwe die intreemodel.  In 2011 is die vierliter V6-enjin vervang met ‘n 3,7 liter, terwyl ʼn nuwe vyfliter V8-enjin met 32 kleppe bekendgestel is, saam met ʼn hand- en outomatiese ratkas met ses gange elk.