Sedert sy aanvanklike Suid-Afrikaanse bekendstelling in 2016 het die Ford Mustang die gewildste sportmotor op die Suid-Afrikaanse mark geword, en nou is die opgeknapte weergawe in Suid-Afrika beskikbaar.


Ons man, Charlen Raymond, was by die loodsing van die nuwe Ford Mustang, wat in die Kaapstad-omgewing gehou was.

Hier is sy kommentaar: “Die nuwe Ford Mustang bou beslis voort op bykans 60 jaar se ervaring. Met die aankoms van die nuwe Mustang in Suid-Afrika in 2016 was almal in verwondering oor die nuwe Ponie, maar die kar het sy tekortkominge gehad, veral mbt tot die enjin en ratkaste. Met hierdie nuwe model, wat tegnies ‘n hernuwingskuur is, het Ford die Mustang se ritgehalte en dryfstelsels aangespreek. En die aanpassings is duidelik voelbaar. Die nuwe 10-spoed outomatiese ratkas pas veral die 5.0-liter V8 soos ‘n handskoen en ritgehalte kan op allerlei maniere aangepas word.”


 

Die verbeterde reeks is weereens met ‘n keuse van ‘n turbo-aangejaagde 2,3 liter Eco Boost-viersilinder-enjin of ‘n vyfliter V8-enjin beskikbaar, en kopers kan tussen ‘n vloeirug-koepee of ‘n afslaankap kies. Volgens Doreen Mashinini, die algemene bemarkings bestuurder van Ford Suid-Afrika, is daar min motors wat dieselfde kombinasie van geskiedenis, style en werk-verrigting vir so ‘n breë teikenmark bied en die nuwe model bied ‘n selfs beter pakket as voorheen.

Die nuwe model se aantrekkings-krag word egter nou verder verhoog met die toevoeging van die beperkte Mustang Bullitt, wat net in donkergroen en swart beskikbaar sal wees, en waarvan net vyftig eenhede vir die plaaslike mark beskikbaar gestel is. Hierdie model word toegerus met ‘n weergawe van die V8-enjin wat 338 kW lewer, en ‘n handratkas met ses gange is standaard toerustring. Die Bullitt is ontwikkel as huldeblyk aan die een wat in daardie beroemde jaagtog teen ‘n Dodge Charger in die 1968-rolprent Bullitt, met Steve Mc Queen te sien was.

Hoewel die buite-stilering van die Mustang opgeknap is, is dit nog steeds herkenbaar as die jongste weergawe van ‘n motor wat al meer as 50 jaar lank in produksie is. Die voorkoms van die nuwe model is meer atleties as voorheen; die enjinkap beskik oor geïntegreerde luguitlate, tesame met ‘n herontwerpte onderste sierrooster wat die motor nie net meer aggressief laat lyk nie, maar aërodinamika verbeter. Aan die agterkant is ‘n nuwe stamper en lugverdeler met vier uitlaatpype vir die 5,0 GT-modelle. Die kopligte, dagryligte en voorste rigting-wyseres bevat ligdiode-tegnologie, en word met ligdiode-misligte gekombineer. Die omhulsels van die kopligte is herontwerp om die trapesiumvorm van die boonste sierrooster te weerspieël.

Drie nuwe bakkleure is beskikbaar, naamlik twee nuwe skakerings van blou en ‘n nuwe oranje skakering. Die allooiwiele van 19 duim is in verskillende ontwerpe beskikbaar, afhangende van die model, en ‘n stel 19×9 Luster nikkelgeverfde aluminium-wiele opsioneel beskikbaar is. Die binneruim bied ‘n gevoel van premiumgehalte; die deurpanele is nou in sagte material afgewerk terwyl die deur-handvatsels van aluminium vervaardig is.

Opwindende werk-verrigting en bestuursgenot was nog altyd ‘n kenmerk van die Mustang en die nuwe modelle se kragbronne, onderstel en tegnologie is opgeknap om ‘n meer genotvolle ervaring te verseker.

Die GT-modelle word toegerus met ‘n verbeterde weergawe van die vyfliter V8-enjin. Die nuwe weergawe lewer 331 kW teen 7 000 opm en wringkrag van 529 Nm teen 4 600 opm. Die Bullitt se wringkrag is dieselfde, maar sy maksimum kraglewering is 338 kW teen 7 250 opm. Die meer brandstof-doeltreffende 2,3 Eco Boost-enjin lewer 213 kW teen 5 400 opm en wringkrag van 441 Nm teen 3 000 opm.

 

Al die modelle, behalwe die Bullitt, kry ‘n nuwe outomatiese tiengangratkas as standaard toerusting. Hierdie ratkas, wat ook in sekere nuwe Ranger- en Everest-modelle gebruik word, beskik oor ‘n elektroniese beheerstelsel wat die bestuurder in staat stel om verstellings te kies wat optimale werk-verrigting vir die verskillende bestuurs-modusse verseker. Die skedulering vir ratwisseling stel die ratkas in staat om by veranderende omstandighede aan te pas en telkens die regte rat te kies. Die bestuurder kan ook ratte wissel deur die ratspane agter die stuurwiel te gebruik. Die Bullitt het egter ‘n handratkas met ses gange as standaardtoerusting.

Die Ford Mustang Bullitt-model binne. Beter as kaptein Kirk se stuurkajuit in Startrek.

Die uitlaatstelsel beskik oor tegnologie wat die bestuurder in staat stel om die motor se enjin-noot aan te pas na gelang van sy of haar bui of bestuurs-toestande. Die vindingryke Good Neighbour-verstelling maak dit vir die bestuurder moontlik om die enjinklank outomaties op sekere vasgestelde tye te demp sodat bure nie gesteur word nie. Die nuwe modelle se skokbrekers is nuut gekalibreer om stabiliteit deur draaie te verbeter en die agterste veerstelsel is stywer as voorheen. Bakrol word deur dikker teenkantelstawe beheer; dit verbeter die motor se hantering.

Die nuwe Mustang-reeks word met verskeie bestuurs-hulpmiddels toegerus, onder meer voorbots-waarskuwing, asook ‘n stelsel wat voetgangers bespeur, dit alles verminder die erns van onafwendbare botsings waarin voertuie of voetgangers betrokke is, of voorkom botsings heeltemal wanneer moontlik. Vir die eerste keer word die Mustang met aanpasbare spoedbeheer toegerus; dit help die bestuurder om ‘n veilige volgafstand te handhaaf, terwyl baanhou-hulp die bestuurder help om die voertuig in sy baan op die oop pad te hou. Daar is ook ‘n baandwaal-waarskuwing wat die bestuurder waarsku indien die motor per abuis uit sy baan beweeg.

Die nuwe digitale instrumente-paneel van twaalf duim met ‘n vloeikristal-paneel kan volgens die bestuurder se behoeftes aangepas word. Hierdie paneel is baie soortgelyk aan die een wat in die Ford GT-supermotor gebruik word en help die bestuurder om die beste van elke bestuurservaring te maak. Die uitleespaneel verander na gelang van die bestuursmodus wat gekies word en ‘n reeks meters kan in een van sewe kleure vertoon word.

Die Mustang-reeks het Ford se Sync 3-inligting-en-vermaak stelsel met ‘n raak-skerm van agt duim; dit stel bestuurders in staat om hul gekoppelde slimfone, die klankstelsel en die klimaat-beheer deur middel van stemopdragte of handgebare te beheer. Die stelsel is versoenbaar met Apple Car Play en Android Auto en bevat satellietnavigasie vir al die modelle.

Die reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km, ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km, drie jaar se padbystand en ‘n waarborg teen korrosie van vyf jaar ongeag die motor se kilometerafstand. Diens-tussenposes is elke 15 000 km.

Die pryse van die nuwe Mustang-reeks is as volg:

Mustang 2,3 Eco Boost 10 AT Fastback: R 768 000
Mustang 2,3 Eco Boost 10 AT-afslaankap: R 831 000
Mustang 5,0 GT 10 AT Fastback: R 915 800
Mustang 5,0 GT 10 AT -afslaankap: R 978 400
Mustang 5,0 GT Bullitt 6 MT Fastback: R 995 400

%d bloggers like this: