Deur Daantjie Badenhorst.

Daar was tot dusver min motors wat met ‘n vier-, ses- of agtsilinderenjin beskikbaar was, en wat só ontwerp is dat dit moontlik was dat enjins met verplasingsinhoud van tussen 1,3 en vyf liter onder die eniinkap gemonteer kon word.

Een daarvan is Ford se Capri, wat vanjaar sy vyftigste verjaardag vier. Dié koepee is ontwerp deur Philip T Clark, wat ook vir die ontwerp van die Mustang verantwoordelik was. Die gedagte was dat die Capri as alternatief vir die Mustang in veral Europese lande bemark sou word. Die aanvanklike advertensie-slagpreuk “the car you always promised yourself”, het ook wêreldwyd aanklank gevind. Soos met die Escort, wat in 1968 bekendgestel is, het die Capri nie ‘n nuwe naam gekry nie. Die Capri-naam is voorheen vir die Consul Capri, die koepee-weergawe van die Consul Classic/315 gebruik, maar dié model is aan die mark onttrek nadat dit net twee en ‘n half jaar lank beskikbaar was. Die “nuwe” Capri was egter ‘n ander saak; daar is op die ou einde drie geslagte bekendgestel en produksie het tot in 1986 voortgegaan.

Die enjins vir die Britse- en Duitse weergawes van die Capri het van mekaar verskil; die Duitse modelle was beskikbaar met Taunus-enjins van 1,3, 1,5 en 1,7 liter met vier silinders en ‘n tweeliter V6-enjin, terwyl ‘n 2300 GT met ‘n V6-enjin later bygevoeg is. Die Suid-Afrikaanse modelle, wat teen die middel van 1969 bekendgestel is, het egter dieselfde enjins as die Britse modelle gehad. Die intreemodel was weer eens ‘n 1,3 liter wat ook in die Escort en Cortina gebruik is, maar hierdie model is nie in Suid-Afrika bekendgestel nie. Die enjins wat wel hier, asook in die Britse modelle, gebruik is, was die 1,6 liter-enjin uit die Cortina en die V4-enjin van twee liter, wat ook in Suid-Afrika vir die 17M gebruik is. Die tweelitermodel was ook met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar. Dit het egter nie lank geduur voordat die reeks uitgebrei is nie. Vroeg in 1970 is die 3000 XL, met die Essex V6-enjin by die reeks gevoeg. Die Ford-handelaar in Edenvale aan die Oos-Rand van Gauteng, het dit nog verder gevoer. Hy het reeds bekendheid verwerf vir die Perana-weergawes van die Cortina en die Escort, en hy het in dieselfde jaar sy weergawe, die Capri Perana, bekendgestel. Hierdie model het gou ‘n legende in Suid-Afrikaanse motorsport geword. Die Perana was beskikbaar met ‘n hand- en outomatiese ratkas, en kon ‘n topsnelheid van 228 km/h behaal. Die tydskrif Car het hom vir die Januarie 1971-uitgawe getoets en dié snelheid was die vinnigste wat enige motor tot op daardie stadium behaal het. Daar word gesê dat ongeveer 500 Perana-modelle tussen 1970 en 1972 vervaardig is. Veral Basil van Rooyen, Koos Swanepoel en Bobby Olthoff het groot sukses met die Perana op Suid-Afrikaanse renbane behaal.

In 1972 het Ford groot planne aangekondig wat die rasionalisering van sy Suid-Afrikaanse modelreeks sou beteken. Die 17M, 20 M en Fairmont is deur die Granada vervang en die Capri het ook ‘n slagoffer van dié besluit geword. Die Capri se plek in die Suid-Afrikaanse reeks is deur die Granada-koepee ingeneem. Intussen het Ford gereed gemaak om die tweede geslag van die Capri in ander dele van die wêreld bekend te stel. Die Capri II is vir die 1974-modeljaar geloods en dieselfde viersilinder-enjins is vir die Britse- en Duitse modelle gebruik. Daar was egter verskillende V6- modelle; ‘n 2,3 vir die Duitse mark en die bekende drieliterenjin vir die res van die wêreld. Wat die bakwerk betref, was daar een belangrike verskil; anders as sy voorganger het die nuwe modelreeks ‘n luikrug as standaardtoerusting gehad. Daar was ook ‘n luukse model, bekend as die Ghia, en aangesien die outomatiese ratkas uiters gewild vir hierdie model was, was dit standaardtoerusting, met ‘n handratkas opsioneel beskikbaar. Die Capri 3,0 GT is in 1976 deur die 3,0 S vervang. Die derde geslag Capri het in 1978 op die mark gekom; hy kon van sy voorganger onderskei word deur middel van dubbele ronde kopligte wat die reghoekige kopligte van die vorige modelle vervang het.

Die Merk 3 was ook meer aërodinamies doeltreffend as die Merk 2; gevolglik was sy werkverrigting en brandstofverbuik beter. In 1982 is die bekende drieliter V6-enjin vervang deur ‘n 2,8 liter-enjin met brandstofinspuiting, wat toe al ‘n paar jaar lank in die Europese weergawes van die Granada gebruik is. Hierdie model het steeds ‘n viergang-handratkas gebruik. In daardie tyd het blitsbukse (luikrugmotors met hoë werkverrigting) soos die VW Golf GTI, Opel Kadett/Vauxhall Astra GTE en die Ford Escort XR 3 in gewildheid toegeneem en koepees soos die Opel Manta en Renault Fuego is nie vervang toe produksie gestaak is nie. Nogtans het die Capri kultus-status in Brittanje verwerf en Ford het besluit om hoofsaaklik op daardie mark te konsentreer. Op 30 November 1984 is produksie van die Capri vir die Europese mark gestaak, wat beteken het dat dié motor slegs in regterhandstuur vir die Britse mark vervaardig sou word. Ford het toe reeds groot sukses met verrigtingsmodelle van die Fiesta, Escort en Sierra behaal en daar was nie voldoende aanvraag om ‘n nuwe Capri te ontwikkel nie.

Die laaste Capri is teen die einde van 1986 vervaardig. Die Capri-naam het egter van 1989 tot 1994 herleef in ‘n afslaankapmotor wat in Australië vervaardig is.

%d bloggers like this: