Breaking News

Ford se nuwe Everest reeds oorsee beskikbaar

Kort op die hakke van die nuwe Ford Ranger, wat later vanjaar na Suid-Afrika kom word, is die nuwe Everest ook pas internasionaal bekendgestel.

Die nuwe reeks bou voort op die reputasie van veelsydigheid van die huidige model, en weer eens sal daar plek vir sewe insittendes wees. Daar sal verskeie spesifikasievlakke en enjinkeuses vir verskillende markte wees, en besonderhede oor die Suid-Afrikaanse reeks sal eers bekendgemaak word wanneer die Everest hier bekendgestel word. Daar sal afwerkingsvlakke wees, naamlik Sport, Titanium+  en die nuwe vlagskipmodel, wat as die Platinum bekendstaan.

Die spoorwydte van die nuwe model is breër en die langer asafstand sorg vir ‘n meer ruimte aan die binnekant. Die nuwe Everest weerspieël Ford se huidige internasionale ontwerprigting en bevat dieselfde kop-en dagryligte as die nuwe Ranger, met die kopligte langs die sierrooster en die C-vormige dagryligte aan die buitekant daarvan. Die voorkant self bevat horisontale en vertikale elemente. Daar is ‘n kenmerkende skouerlyn wat van voor na agter loop, en die agterkant spog met herontwerpte agterligte.

Aan die binnekant, wat weer eens genoeg plek vir sewe mense het, is daar verskeie nuwe kenmerke wat na aanleiding van terugvoer deur eienaars aangebring is. Die derde ry sitplekke is meer toegangklik as voorheen, aangesien die tweede ry verder vorentoe skuif terwyl materiaal van hoogstaande gehalte , luukse afwerking en atmosfeerbeligting tot ‘n meer gemaklike omgewing bydra. Daar is bekerhouers in die middelkonsole, en nóg twee wat in die voorpaneel gemonteer is en uitkom as ‘n knoppie gedruk word. Sommige modelle word toegerus met ‘n kort ratkieser, ‘n koordlose selfoonlaaier en ‘n elektroniese parkeerrem.

Daar is ook elektriese sitplekke met tien verstellings vir die bestuurder en agt vir die voorste passasier, asook verhitting en ventilasie vir die voorsitplekke, beskikbaar vir sommige modelle. Verhitte sitplekke is ook vir die insittendes in die tweede ry beskikbaar. Alle insittendes kan die kragpunte oral in die kajuit gebruik om hul elektroniese toestelle te laai. Wanneer die agterklap oopgemaak word, is daar ‘n klein “lip” wat keer dat items uit die bagasiebak val. Alle modelle word toegerus met ‘n digitale instrumentepaneel met skermgroottes wat wissel van agt tot 12,4 duim, terwyl daar ‘n raakskerm van 10,1 or 12 duim in die middelkonsole voorkom. Die nuwe Sync 4-inligting-en-vermaakstelsel is standaardtoerusting, en eienaars het volle toegang tot die Ford Pass-toepassing, wat die voertuig van ‘n afstand af kan aansit, oop- of toesluit en die voertuig se status nagaan. Die 360 grade-rondomkamera maak parkering makliker, en daar is verskeie keuses wat gebruik kan word as daar in die veld, of in nou omgewings in die stad, bestuur word. Daarby kan die Everest se eksterne beligtingstelsel deur middel van die Ford Pass-toepassing of die raakskerm beheer word sodat die eienaar nie in die donker hoef te sukkel nie. 

Daar sal ‘n keuse van bekende en nuwe enjins wees; die tweeliter-turbodieselenjins met een of twee turboaanjaers wat vir die bestaande modelreeks gebruik word, sal weer beskikbaar wees, maar in antwoord op openbare aanvraag word ‘n nuwe V6-turbodieselenjin met ‘n kapasiteit van drie liter bygevoeg. Later sal ‘n 2,3 liter Eco Boost-turbopetrolenjin ook beskikaar wees. Afhangende van die model sal hierdie enjins aan ‘n outomatiese sesgangratkas of ‘n Select Shift-outomatiese ratkas met tien gange gekoppel word. Die enkelturbo-enjin lewer genoeg krag, wringkrag en brandstofdoeltreffendheid, maar die dubbelturbo voldoen aan die behoeftes van dié wat meer krag saam met goeie brandstofverbruik wil hê. 

Daar sal ‘n keuse van twee 4×4-stelsels vir die vierwielaangedrewe modelle wees. Die gewone, deeltydse stelsel word met laestrek toegerus, en verstellings kan deur middel van ‘n skakelaar op die paneelbord gemaak word. Daar is egter ook nou die keuse van permanente vierwielaandrywing met ‘n elektronies beheerde elektromeganiese oodrdaratkas met verskillende bestuursmodusse. Tweewielaandwyring sal egter steeds vir sommige markte beskikbaar wees. Daar sal ook toegewyde vertoonpanele op die raakskerm wees, waarop die bestuurder die gebied voor hom of haar kan sien, asook die hoeke waarteen die voertuig bestuur word en aanduidings van of die ewenaar gesluit is of nie. 

Die sleepkapasiteit van die hele reeks is 3,5 ton en ‘n toegewyde bestuursmodus sorg vir die beste moontlike kraglewering en enjinremming wanneer daar gesleep word. Die kamerabeelde maak dit makliker vir ‘n eienaar om ‘n sleepwa of woonwa reg aan die voertuig te haak terwyl die Sync-stelsel dit makliker maak om vas te stel of alles aan die sleep-of woonwa reg werk. Die Ford Pass-toepassing kan gebruik word om die sleep-of woonwa se ligte te toets. 

Verskeie veiligheidskenmerke is standaardtoerusting of teen ekstra koste beskikbaar. Daar is onder meer ‘n bykomende lugsak aan die verste kant tussen die bestuurder en die voorste passasier om beskerming in ongelukke aan die kant van die voertuig te verbeter; sommige modelle word met altesaam nege lugsakke toegerus. Die Active Park Assist-stelsel vergemaklik parkering en neem die stuurwerk, ratwisseling, versnelling en remming oor, ongeag in watter parkeerplek ‘n mens wil intrek. Dit maak dat die voertuig ook uit ‘n parallel-parkeerplek kan stuur. Aanpasbare spoedbeheer sal in een van drie weergawes beskikbaar wees. Die eerste een stel die bestuurder in staat om teen ‘n voorafbepaalde snelheid te bestuur en ‘n veilige volgafstand te handhaaf. Dit kan die voertuig ook heeltemal tot stillstand bring wanneer nodig. Die tweede een bevat baanhouhulp en help die bestuurder om die voertuig om in die middel van ‘n baan op die oop pad te bly. Die derde een beskik oor ‘n snelheidsperkmonitor en pas die voertuig se snelheid by die heersende snelheidsperk aan. Die blindekolmonitor werk ook as daar ‘n sleep- of woonwa van tot 2,4 meter breed en 10 meter lank agter die voertuig en waarsku die bestuurder van moontlike gevare. Die tru-remhulpstelsel help die bestuurder om agteruit in parkeerruimtes en ander plekke te ry, en gee visuele en hoorbare waarskuwings as daar hindernisse is. Dit bevat ook ‘n dwarsverkeermonitor wat voertuie en voetgangers agter die voertuig bespeur, en as die bestuurder nie betyds reageer nie, gryp die remstelsel outomaties in. Daar is ook ‘n kamera en monitor wat stadige en stilstaande voertuie bespeur en die bestuurder in staat stel om daarvoor uit te swaai en ‘n botsing te voorkom. Die voorbotswaarskuwing bespeur hindernisse aan die voorkant en gebruik die remstelsel om botsings te voorkom, of te versag. 

Die pryse, samestelling van die reeks, spesifikasies en ander besonderhede sal bekendgemaak word wanneer die nuwe Everest in Suid-Afrika bekendgstel word.

%d bloggers like this: