Ford se Ranger XL raak sportief

0 Comments

Ford het pas ‘n nuwe Sport-pakket vir sy Ranger XL-reeks bekendgestel.

Die XL word as die waardemodel in die Ranger -reeks beskou, en volgens Ford bied die Sport-pakket ‘n kombinasie van ‘n meer spoggerige voorkoms en die praktiese kenmerke wat die XL-modelle so gewild maak. Aan die buitekant kan die XL Sport-modelle van die gewone modelle onderskei word deur middel van ‘n glansswart, pleks van ‘n dowwe swart, sierrooster, asook swart allooiwiele met 265/65 R 17-bande.  Daarby is ‘n buisvormige rolstaaf en ‘n agterstamper standaard toerusting, terwyl kanttrappies teen ekstra koste deur die handelaars aangebring kan word.  Al die XL-modelle het ook ‘n trekstang as standaard toerusting.

Die inligting-en-vermaakstelsel vir die XL Sport is dieselfde as die gewone modelle, maar ‘n meer gevorderde stelsel is opsioneel beskikbaar. Die intreevlak Sync 1-stelsel met ‘n vierduimskerm kan vervang word met ‘n meer gevorderde stelsel met ‘n agtduim-skerm. Hoewel stempodragte en navigasie steeds ontbreek, word die opsionele stelsel toegerus met Apple Car Play en Android Auto. Dit stel gebruikers in staat om hul selfone se navigasie-stelsels te gebruik , asook ander goedgekeurde toepassings soos Waze. Dit is ook versoenbaar met Bluetooth terwyl ‘n stem teksboodskappe van ‘n gekoppelde selfoon af lees. Twee USB-kragpunte maak dit moontlik om terselfdetyd ‘n selfoon te laai en na musiek te luister. 

Soos die res van die Ranger-reeks beskik die XL Sport oor veiligheids-kenmerke soos  ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding, elektroniese vastrap- en stabiliteits-beheer, wegtrekhulp en sleepswaai-beheer.  Die 4×2- en 4×4-modelle het ‘n agterste ewenaarslot terwyl afdraandehulp is standaard toerusting vir die 4×4-modelle. Dubbele lugsakke is standaard toerusting vir al die modelle en die agtersitplekke van die dubbe-lkajuit word met ISOFIX-hegpunte toegerus. Die sentrale sluitstelsel van al die modelle werk met afstandbeheer.

Daar is net een enjin vir die XL-modelle beskikbaar, naamlik die bekende 2,2 TDCi turbo-diesel enjin wat 118kW teen 3 700 opm en wringkrag van 385 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm lewer. Daar is ‘n keuse tussen ‘n hand- of outomatiese ratkas met ses gange elk. Drie kajuit-groottes is beskikbaar, naamlik enkel-kajuit, Super Cab en dubbel-kajuit. Die 4×2 enkel-kajuit en Super Cab-modelle is met albei ratkaste beskikbaar, maar die 4×4-modelle net met die handratkas. Die dubbel-kajuit 4×2 en 4×4 bied die keuse van albei ratkaste. 

Ford Protect, wat bestaan uit ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km, ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km , drie jaar se onbeperkte padbystand  en ‘n onbeperkte waarborg van vyf jaar teen korrosie, is by die prys van elke Ford Ranger ingesluit. Die XL Sport-pakket voeg R 16 500 by die gewone model se prys, ongeag die model, terwyl die opgegradeerde klankstelsel en kanttrappies onderskeidelik R 6 080 en R 5 050 ekstra kos. 

Categories:
%d bloggers like this: