Breaking News

Ford stel Eco Sport Active bekend

Die gewilde Ford Eco Sport-reeks is pas uitgebrei met die bekendstelling van die Eco Sport Active.

Die Active is gebaseer op die Trend, maar spog met ‘n aantal stileringskenmerke wat hom van die Trend onderskei. Volgens die Ford Motormaatskappy van Suid-Afrika was die Black, wat verlede jaar bekendgestel is, so ‘n groot sukses dat daar besluit is om ‘n soortgelyke model met ‘n hoër spesifikasievlak bekend te stel . Die Active word gemik op kopers wat op soek is na iets wat anderes en uniek is.

Die Active se vernaamste stileringskenmerke is swart 17-duim allooiwiele, swart afwerking vir die sierrooster en die omhulsels van die kopligte en misligte, swart uitgeboude modderskerms een swart syskorte aan die onderkant van die bakwerk. Die dak, truspieëls en dakspore  is in swart afgewerk en slegs vier kleure is vir die Active beskikbaar, naamlik wit, grys, silwer en ‘n nuwe geel kleur bekend as Luxe Yellow, wat baie aandag behoort te trek. Daar is ook ‘n Active-kenteken op die voorste modderskerms.

Aangesien die Active op die Trend gebaseer is, stem sy spesifikasievlak hoofsaaklik met dié van die Trend ooreen, maar daar is tog unieke eienskappe. Soos die Trend, spog die Active met ‘n veeelfunksiestuurwiel wat met leer oorgetrek is, elektriese vensters voor en agter, spoedbeheer, lugversorging en ‘n klankstelsel met ‘n raakskerm van  agt duim met Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play. Die Ford Pass-veerbindingstelsel word ook vir die Active gebruik; dit stel die eienaar in staat om sekere funksies deur middel van die Ford Pass-toepassing te beheer, die motor van ‘n afstand af aan te sit, die waarborg- en instandhoudingsinligting van die motor na te gaan, ‘n versiening by ‘n Ford-handelaar te bespreek en padbystand versoek. 

Die meganiese spesifikasies van die Active is dieselfde as dié van die Trend; hy word aangedryf deur Ford se bekende turboaangejaagde eenliter-Eco Boost-enjin met drie silinders en ‘n outomatiese ratkas met ses gange is standaard toerusting. Hierdie enjin lewer 92 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 170 Nm teen tussen 1 400 een 4 500 opm. 

Die veiligheidskenmerke van die Active stem ook ooreen met dié van die Active; daar is altesaam sewe lugsakke, wegtrekhulp, stabiliteitsbeheer, parkeersensors agter, ‘n stelsel wat die erns van ‘n botsing verlig en ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp. 

Die bekendstelling van die Active bring die aantal Eco Sport-reeks op nege modelle te staan. Hier is die pryse, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km insluit:

 

Eco Sport 1,5 Ambiente handrat: R 311 400

Eco Sport 1,5 TDCI Ambiente handrat: R 322 500

Eco Sport 1,5 Ambiente outomaties: R 331 800

Eco Sport 1,5 Ambiente Black: R 346 710

Eco Sport 1,0 Eco Boost Trend handrat: R 358 700

Eco Sport 1,0 Eco Boost Trend outomaties: R 375 300

Eco Sport 1,0 Eco Boost Active outomaties: R 393 700

Eco Sport 1,0 Eco Boost Titanium handrat: R 401 600

Eco Sport 1,0 Eco Boost Titanium outomaties: R 416 900

Ingevolge Ford se nuwe beleid om nie meer diens-of onderhoudsplanne by hul motors se pryse in te sluit nie, is verskeie opsies teen ekstra koste beskikbaar. Daar is diens- of instandhoudingsplanne van tot agt jaar of 135 000 km beskikbaar, en die waaborg kan tot sewe jaar of 200 000 km verleng word. 

%d bloggers like this: