Breaking News

Ford voeg nog ‘n model by Everest-reeks

Ford het pas sy Everest-reeks uitgebrei met die toevoeging van nog ‘n nuwe model.

Die 2,0 SiT XLT 4×4 is meganies presies dieselfde as die XLT 4×2, maar net met vierwiel-aandrywing. Dit beteken dat hy toegerus word met dieselfde enkel-turbo-diesel enjin van twee liter  wat 132 kW teen 3 500 opm en wringkrag van 420 Nm teen tussen 1 750 en 2 500 opm lewer, terwyl die outomatiese tiengang-ratkas van die 4×2 ook gebruik word.  Dit beteken dat die XLT-afwerkingsvlak nou in enkel- en dubbel-turbo modelle met twee- of vierwiel-aandrywing beskikbaar is, en dat die reeks nou uit altesaam sewe modelle bestaan. 

Die XLT-modelle spog met sleutellose toegang en ‘n aansit-knoppie, parkeer-sensors voor en agter en ‘n trukamera; ‘n nuwe kenmerk wat voortaan standaard toerusting vir die XLT- en Limited-modelle sal wees, is ligdiode-dagryligte.  Die 4×4 beskik oor permanente vierwiel-aandrywing, terwyl die bestuurder uit een van vyf modusse kan kies om by veranderende padtoestande aan te pas. Normal word in alledaagse omstandighede gebruik, maar Rock, Crawl, Mud en Sand kan gekies word wanneer die omstandighede dit vereis.  Hierdie modusse word deur middel van ‘n knop op die middel-konsole gekies. Die ratkas is ook só geprogrammeer dat dit te alle tye die regte verhouding kies, selfs al beteken dit dat ratte oorgeslaan word. Dit beteken ook dat die beste brandstof-verbruik en werkverrigting moontlik behaal kan word. Daarby verseker Progressive Range Select dat die bestuurder sekere ratverhoudings kan uitsluit; dit verseker groter beheer in moeilike padtoestande, wanneer daar teen steil hellings gery word of wanneer ‘n woonwa of sleepwa gesleep word.

Die Everest-reeks beskik oor veiligheids-kenmerke soos elektroniese stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, sleep-swaai beheer, wegtrekhulp, afdraandehulp (vir die 4×4-modelle) en rolbeheer.  

Die XLT en Limited-modelle het Ford se Sync 3-inligting-en-vermaakstelsel as standaard toerusting, wat Bluetooth-, Android Auto- en Apple Car Play-verbinding en twee USB-kragpunte insluit. Die stelsel kan ook deur stemopdragte en handgebare beheer word. 

Die pryse van die Everest-reeks, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km insluit, lyk só:


2.2 TDCi XLS 6AT 4×2 R552 500

2.0 SiT XLT 10AT 4×2 R637 800

2.0 SiT XLT 10AT 4×4 R679 400

2.0 BiT XLT 10AT 4×2 R693 300

3.2 TDCi XLT 6AT 4×4 R715 300

2.0 BiT XLT 10AT 4×4 R744 500

2.0 BiT Limited 10AT 4×4 R819 400

%d bloggers like this: