Een van die nuutste marksegemente in die internasionale motorbedryf is kruisvoertuie, wat in die B-
segment meeding, en Kia het pas sy toetrede tot hierdie segment aangekondig.

Die Stonic word tans by die Frankfurt-motorskou in Duitsland bekendgestel en benewens sy Europees-
geïnspireerde ontwerp is sy mees uitstaande kenmerk die feit dat daar feitlik eindelose moontlikhede is vir diegene wat hom hul eie wil maak. Die Stonic is die gevolg van noue samewerking tussen Kia se ontwerpateljees in Europa en Korea en sal in Kia se Sohari-fabriek in Korea vervaardig word.
Michael Cole; die operasionele hoof van Kia in Europa, sê B-sportnutsvoertuigsegment is ‘n belangrike
een vir Kia, en dit gaan net so groot word soos dié vir voertuie in die C-segment. Dit vind byval by ‘n
breë spektrum; 21% van kopers het voorheen B-segement-luikrugmotors besit en 15% sportnutsvoertuie
uit die C-segment. Die Stonic is ook een van die motors wat aanklank behoort te vind by mense wat hul
klein veeldoelvoertuie wil vervang.
Die Stonic se ontwerp is grootliks beïnvloed deur ‘n filosofie wat van die hoofontwerper Peter Schreyer
af kom, naamlik die eenvoud van die reguit lyn. Hoewel die Stonic sportief voorkom, is die hoë sitposisie
wat so gewild is onder eienaars van sportnutsvoertuie steeds teenwoordig. Dit is een van Kia se mees
opvallende motors tot dusver , maar kan steeds as ‘n Kia herken word weens die kenmerkende sierrooster
met ‘n verchroomde driedimensionele raam terwyl die breë C-pilare ‘n kenmerk is wat van ander modelle
in Kia se reeks oorgedra word. Aan die voorkant is daar parallelle lyne wat die enjinkap met die
skouerlyn verbind. Daar is kopligte wat omkrul en in sommige modelle LED-dagryligte bevat.Die
bakwerk is 4 140 mm lank en die asafstand van 2 580mm sorg vir heelwat binneruimte. Daar is swart
skermstroke onder aan die bakwerk en op die modderskerm.
Dit is vir kopers in hierdie segment belangrik om hul motors te kan verpersoonlik, en die Stonic bied ‘n
wye keuse. Daar is nege bakkleure en vyf kleure vir die dak. Afhangende van die bakkleur kan die dak in
swart, wit, groen, rooi of oranje geverf word. Kopers kan kies uit allooiwiele van 15 of 17 duim.
Die Stonic het verskeie veiligheidskenmerke as standaardtoerusting. Daar is stabilieitsbeheer wat verseker
dat die bestuurder nie beheer verloor wanneer daar hard gerem word nie, terwyl stuurtraagheid wanneer
die motor om draaie gaan, beperk weord deurdat die binneste wiele gerem word. Wegtrekhulp sal veral
handig te pas kom in ‘n stedelike omgewing waarin daar swaar verkeer is.
Drie petrolenjins en een dieselenjin is vir die Europese mark beskikbaar. Die groot nuus is die
turboaangejaagde eenliterenjin met drie silinders wat oorsee ook in die Piacanto X-Line en die Rio
beskikbaar is maar nog nie in Suid-Afrika bekendgestel is nie. Twee weergawes van hierdie enjin word
beplan; naamlik een wat 88kw en 172 Nm lewer, asook een met ‘n kraglewering van 74 wat vir
aanstaande jaar beplan word. Daar is twee petrolenjins sonder turboaanjaers beskikbaar; naamlik ‘n 1,25
liter en ‘n 1,4 liter wat onderskeidelik 62kw en 122Nm en 74 kw en 133Nm lewer. Die turboaangejaagde
dieselenjin van 1,6 liter lewer 81 kw en 260 Nm. Die hele reeks het ‘n handratkas as standaardtoerusting
maar ‘n ratkas met ‘n dubbele koppelaar en sewe gange word tans ontwikkel en sal van aanstaande jaar af
vir sekere 1,0 T-GDI-modelle beskikbaar wees.
Soos die buitekant is die binnekant ook die gevolg van samewerking tussen die ontwerpateljees in Europa
en Korea. Die paneelbord is effens na die bestuurder toe gedraai en die inligting-en-vermaakstelsel maak
dat daar minder knoppies op die paneelbord is. Soos met die binnekant is daar baie moontlikhede vir
diegene wat hul motors wil verpersoonlik en daar is vier kleurafwerkings beskikbaar, naamlik oranje,
grys, brons en groen. Hierdie afwerking is vir die paneelbord en die bekleedsel beskikbaar en kopers wat
een van hierdie kleurafwerkings kies, kry ook ‘n D-snit stuurwiel met ‘n plat onderkant. Die Stonic het
eenkleurige swart bekleedsel as strandaardtoerusting, maar kopers wat die groen, oranje of grys
afwerkings kies, kry sitplekke wat in twee kleure met kontrasterende silwer agfewerk is. Hierdie sitplekke
word in materiaal en sintetiese leer afgewerk. Die sitplekke van motors met brons afwerking word met
sintetiese leer oorgetrek en daar is ‘n keuse tussen swart of swart en grys afwerking.Hoewel die Stonic se buite-afmetings kompak voorkom, is daar oorgenoeg ruimte vir alle insittendes. Die
brandstoftenk is onder die agtersitplek en dit maak dat daar oorgenoeg kop-en beenruimte vir agterste
insittendes is. Daar is ook genoeg bêreplek vir los goedjies, onder meer voor die rathefboom, waar die
jongste groot slimfone gebêre kan word. Elke deur het plek vir ‘n bottel terwyl daar ook twee pare
bekerhouers aan die voorkant is. Die paneelkissie het plek vir ‘n tablet, of enige soortgelyke mobiele
toestel. Die bagasiebak kan vergroot of verklein word volgens behoefte danksy ‘n dubbele vloer.
Die Stonic het verskeie tegnologiese kenmerke wat die lewe vir die bestuurder en ander insittendes so
gemaklik moontlik maak. Die stelsel is versoenbaar met Android Auto en Apple Car Play en bied volle
toegang tot die eienaar se slimfoon en maak dat hulle toegang tot hul toepassings en musiek het.
Satellietnavigasie is as ‘n opsie beskikbaar; daar is twee USB-sokke vir die voorste insittendes en
wanneer die opsionele agterste armleuning gespesiofiseer word, is daar ook een vir die agterste
insittendes. Ander kenmerke wat vir die Stonic beskikbaar is, is ‘n tru-kamera, sleutellose toegang,
outomatiese lugversorging en outomatiese ruitveërs.
Daar is nog geen aankondiging gedoen oor wanneer die Stonic in Suid-Afrika beskikbaar sal wees nie, en
dit is ook te vroeg om te sê watter enjins of standaardkenmerke vir die Kia Stonic ge-oormerk is.