Geen petrol vir hierdie Mini nie

0 Comments

In 1959 het die oorspronklike Mini ‘n rewolusie veroorsaak deurdat dit die eerste motor met voorwiel-aandrywing en ‘n dwarsgemonteerde enjin was wat internasionaal bekendgestel is. 

Die hele motorbedryf het mettertyd hierdie formule navegolg, en nou, meer as ses dekades later, is nóg ‘n rewolusionêre nuwe Mini beskikbaar. Die Mini Cooper SE is ten volle elektries, en is gebaseer op die Cooper S met drie deure. Die uitstaande kenmerk aan die buitekant wat die SE van die res van die reeks onderskei, is geel afwerking op verskeie plekke soos die wiele, die sierrooster, wat uiteraard toe is, die buitespieëls en die agterklap. Die Mini Cooper SE word saam met die konvensionele modelle in die Mini-fabriek in die Engelse stad Oxford vervaardig. Daar is twee modelle beskikbaar, naamlik die gewone model en die L. Die belangrikste verskille van die L, is allooiwiele van 17 duim, eerder as die gewone een se 16 duim, volle leerbekleedsel, ‘n trukamera, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, aanpasbare ligdiode-kopligte, parkeersensors voor en agter en ‘n hoëtrouklankstelsel met 12 luidsprekers.

Daar is geen sprake van uitlaatgasse nie en geraas word byna heeltemal uitgeskakel. Die SE se elektriese kragbron lewer 135 kW en 270 Nm en die hoëkapasiteit-battery is laag gemonteer om die swaartekrag te verbeter. Die lae swaartekrag, tesame met die veerstelsel wat spesifiek vir hierdie model aangepas is, dra by tot sy ratsheid; vir die eerste keer gaan elektriese krag gepaard met hantering wat aan dié van ‘n renstel herinner.

Die Mini Cooper SE kan binne 7,3 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel, en ‘n reikafstand van 270 km is moontlik voordat die motor gelaai moet word. Die topsnelheid van albei modelle is 150 km/h. Die voordeel van die SE is, volgens BMW, die feit dat daar soveel minder bewegende dele as in die gewone modelle is, met die gevolg dat daar minder onderdele is wat met verloop van tyd vervang of herstel moet word. Om ‘n Mini te herlaai, deur midel van ‘n gewone kabel of ‘n opsionele eenheid wat by ‘n muur ingebou word, kos 75c per kWh, wat beteken dat dit  R 12,75 sal kos om 100 km af te lê. Dit sal R 28 kos om die battery tot by sy volle kapasiteit te laai. Die Mini se gemiddelde verbruik is 17 kWh per 100 km. Wanneer die motor egter by ‘n Mini- of BMW-laaier gelaai word, is dit gratis, mits die gewone Mini-laaikaart gebruik word. Wanneer ‘n 50 kW snel-laaier gebruik word, duur dit 35 minute om die battery tot by 80% te laai, terwyl dit twee en ‘n half ure duur wanneer ‘n gewone 11 kW-laaier gebruik word. 

Die Mini Cooper SE is die goedkoopste elektriese motor op die mark, en soos met die BMW i-reeks, sluit sy prys ‘n batterywaarborg van agt jaar of 100 000 km in. Die pryse van die onderskeie modelle is R 642 000 vir die gewone model en R 722 000 vir die L.

Categories:
%d bloggers like this: