Geen petrol vir Motor van die Jaar nodig nie

0 Comments

Die Jaguar i-Pace is as die SA Gilde van Motor joernaliste (SAGMJ) se Motor van die Jaar vir 2020 aangewys.

Dit is die eerste keer dat ‘n Jaguar die toekenning wen, asook die eerste oorwinning vir ‘n elektriese motor en hierdie toekenning volg op die Europese- en Wêreld-Motor van die Jaar-titels wat die i-Pace in 2019 gewen het. Die Mercedes-Benz GLE en Toyota GR Supra het onderskeidelik die tweede en derde plekke ingeneem.

As gevolg van die nasionale inperking as gevolg van die COVID 19-virus is die aankondiging deur middel van ‘n virtuele toekennings-geleenheid gedoen; nog ‘n eerste vir die SAGMJ. Benewens die algehele toekenning wat die i-Pace gewen het, was daar ook verskillende kategorie-wenners.

In die kategorie vir stadsmotors het die nuwe Hyundai Atos 1,1 Motion met die louere weggestap.  In hierdie klas is praktiese oorwegings en bekostig-baarheid baie meer belangrik as werkverrigting of status. Die kategorie vir gesinsmotors is hoofsaaklik vir middelslag-luikrûe en sedans, en hier is die nuwe Toyota Corolla 1,2 T XT CVT-luikrug as die wenner aangewys. 

Die kategorie vir ontspannings voertuie bestaan gewoonlik uit oorkruis-motors en sportnuts voertuie. Die kopers in hierdie klas is op soek na ‘n voertuig waarmee hulle op die pad of in die veld kan ry, en wat veelsydigheid en ‘n hoë sitposisie bied. Hier was die VW T-Cross 1,0 DSG Comfortline 85kW DSG die wenner. Die kategorie vir leefstyl-nutsvoertuie is vir voertuie met vierwielaandrywing wat uitsonderlike veldryvermoë bied; dit kan ‘n bakkie of ‘n sportnuts voertuig wees. Die wenner was die Ford Ranger Raptor.  Die i-Pace was nie net die algehele wenner nie, maar die EV 400 AWD SE het die uiters mededingende kategorie vir luukse motors, waarin kopers op soek is na kragtige enjins, luukse afwerking en ‘n verskeidenheid afwerkings opsies op soek is, gewen. Die kategorie vir luukse sportnuts voertuie is vir motors wat veelsydigheid, gerief en styl met goeie werkverrigting op die pad en in die veld kombineer. Hierdie motors, wat nie noodwendig ‘n laestrek-ratkas het nie maar tog oor goeie veldryvermoë beskik, is luuks, verfynd en ruim. Die algehele naaswenner, die Mercedes-Benz GLE, het hierdie kategorie gewen. 

 Laastens is daar die kategorie vir sport- en verrigtings motors; in hierdie kategorie kan ‘n sportiewe vlagskip van ‘n bestaande reeks of ‘n alleen-staande model, soos die Toyota GR Supra wat algeheel derde gekom het, en hierdie kategorie gewen het, vir die titel in aanmerking kom. 

Die Motor van die Jaar-toekenning is vir die eerste keer in 1986 gehou en en het die mees gerespekteerde en mees gesogte toekenning in die motorbedryf geword.  Dit het deur die jare ontwikkel en verander, onder meer in die sin dat kategorieë onlangs ingestel is, maar dit gee nog altyd erkenning aan motor-uitnemendheid.Die kategorie-wenners asook die algehele wenner elke jaar word as die standaard waaraan motors gemeet word, beskou en vanjaar se wenners is geen uitsondering nie.

 

Categories:
%d bloggers like this: