Breaking News

Gewilde Mahindra Pik Up nou outomaties

    • Suid-Afrika eerste met outomatiese Mahindra-bakkie
    • “S11” is nou top spesifikasievlak

Nadat die nuwe Mahindra Pik Up teen die einde van 2017 in Suid-Afrika bekendgestel is, het hy een van die gewildste bakkies op die plaaslike mark geword; tot só ‘n mate dat plaaslike vervaardiging in Suid-Afrika onlangs ‘n aanvang geneem het.

Dit het Mahindra Suid-Afrika in staat gestel om ‘n weergawe bekend te stel wat nog nêrens anders ter wêreld beskikbaar nie. Die Mahindra Pik Up S 11-modelle is die eerste weergawes ter wêreld wat met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar is, en hul bekendstelling volg op intensiewe toetse wat by die Gerotek-baan wes van Pretoria uitgevoer is. Volgens mnr. Rajesh Gupta, die uitvoerende hoof van Mahindra Suid-Afrika, was daar ‘n geweldige vraag na ‘n outomatiese ratkas vir die Pik Up en hy glo dat die S 11-modelle daaraan sal kan voldoen.

Die sesgangratkas is splinternuut en die Pik Up is die eerste model wat dit gebruik. Dit beskik oor ‘n tikratfunksie vir ratwisseling sonder ‘n koppelaar en vir die 4×4-modelle is daar ook afdraandehulp wat voertuig- en enjinremming gebruik wanneer daar stadig op moeilike terrein teen afdraandes gery moet word. Die outomatiese ratkas sal aanvanklik slegs op dubbelkajuitmodelle beskikbaar wees, en die bekendstelling daarvan val saam met die toevoeging van die nuwe S11-spesifikasievlak, wat die S10 se kenmerke, asook ‘n paar bykomende eienskappe, bevat. Volgens Gupta het die maatskappy se marknavorsing getoon dat voornemende kopers ‘n outomatiese ratkas in ‘n dubbelkajuitbakkie verkies. Die maatskappy het daarom besluit om die ratkas met die hoogste moontlike afwerkingsvlak te kombineer en sodoende sekergemaak dat daar aan kopers se behoeftes voldoen word.

Die outomatiese ratkas is nie die enigste verskil tussen die S10 en die S11-modelle nie.

Aan die voorkant spog die S11 met ‘n nuwe rooster en stamper, asook verbeterde kopligte. Die sierrooster se ontwerp herinner aan dié van die Scorpio S11-sportnutsvoertuig.  Aan weerskante daarvan is nuwe kopligte met helder skerms en nuwe chroom-omhulsels vir die voorste misligte.  Die S11 spog ook met kleurgekodeerde buitespieëls met geïntegreerde rigtingwysers.  Die S11-modelle word ook die eerstes wat met ‘n trukamera toegerus word.

 

Aan die binnekant is daar ook ‘n paar bykomende luukshede. Die nuwe seweduim-raakskerm bevat Bluetooth-verbinding, asook ‘n navigasiestelsel.  Die skerm vertoon ook die beeld van die trukamera in volkleur.  Die handbeheerde lugversorger word deur klimaatbeheer vervang en ‘n veelfunksiestuurwiel bevat kontroles vir die klankstelsel, die telefoon en die spoedbeheer.

 

Die luukse kenmerke van die S10, naamlik twee lugsakke, 12 volt-kragpunte voor en agter, elektriese vensters wat met die enkele druk van ‘n knoppie oop- en toegemaak kan word en deure wat outomaties sluit wanneer die voertuig wegtrek.

Die S11-modelle gebruik dieselfde mHawk turbo-dieselenjin van 2,2 liter as die res van die reeks. Hierdie enjin lewer 103 kW teen 3 750 opm en ‘n wringkrag van 320 Nm tussen 1 500 en 2 800 opm.

Teen die einde van 2018 het Mahindra die spesiale Karoo-modelle bekendgestel ter viering van die suksesvolle ingebruikneming van sy monteeraanleg in Durban.  Dit het Mahindra gemotiveer om ook ‘n S11 Karoo-model, met twee- of vierwiel-aandrywing te ontwikkel.  Die S11 Karoo beskik oor dieselfde kenmerke as die gewone S11-modelle maar met bykomende stileringskenmerke.  Die S11 se kentekens is anders as dié van die ander Karoo-modelle, nie net aan die kante nie maar ook op die bosbreker en die rolstaaf. Die S11 het ook ‘n sluitbare oproldeksel vir die laaibak terwyl rubbervoering vir die laaibak ook strandaardtoerusting is. Daar is nuwe swart allooiwiele met chroomafwerking wat gereed vir veldrytoestande is.  Die ander Karoo-modelle is terselfdetyd opgekanp; die S6 se kentekens is herontwerp om meer soos dié van die S11 te lyk en die nuwe rolstaaf het ‘n Karoo-kenteken van staal.  Die S10 kry ook die nuwe kentekens en nuwe ontwerp vir die rolstaaf asook ‘n nuwe bakseil en nuut ontwerpte allooiwiele.

Die swaardiensveerstelsel stel die Pik Up in staat om ‘n loonvrag van 1 095 en 995 kg vir die 4×2- en 4×4-modelle onderskeidelik te dra. Die hele reeks het ‘n sleepvermoë van 2 500 kg en alle dubbelkajuitmodelle word toegerus met ‘n meganiese ewenaarslot wat in samewerking met Eaton ontwikkel is en die agterwiele sluit in geval van ‘n gebrek aan vastrapvermoë , soos in moeilike veldrytoestande. Daar is ook ‘n groot verskeidenheid bykomstighede wat by Mahindra-handelaars of by Mahindra se nuwe spesiale passentrum in Gauteng vir die Pik Up-reeks aangebring kan word. Die voertuig se waarborg word nie hierdeur geraak nie.

Die pryse van die Pik Up-dubbelkajuitreeks, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km, gratis padbystand en ‘n omvattende diensplan van vyf jaar of 100 000km insluit, lyk só:

Mahindra Pik Up S6 4×2                        R312 499

Mahindra Pik Up S6 4×2 Karoo               R322 499

Mahindra Pik Up S6 4×4                        R342 499

Mahindra Pik Up S6 4×4 Karoo               R352 499

Mahindra Pik Up S10 4×2                      R347 499

Mahindra Pik Up S10 4×2 Karoo             R352 499

Mahindra Pik Up S10 4×4                       R377 499

Mahindra Pik Up S10 4×4 Karoo             R382 499

Mahindra Pik Up S11 Outomaties 4×2                  R384 999

Mahindra Pik Up S11 4×2 Karoo Outomaties       R399 999

Mahindra Pik Up S11 Outomaties 4×4                  R414 999

Mahindra Pik Up S11 4×4 Karoo Outomaties        R429 999

Die eerste smeerdiens moet op 10 000 km uitgevoer word; daarna is die diens-tussenposes elke 20 000 km.

 

%d bloggers like this: