General Motors Suid-Afrika het aangekondig dat Chevrolet uit Suid-Afrika gaan ontrek. Isuzu bly. Dit volg kort na die aankondiging dat die PSA-groep  (die vervaardiger van Peugeot- en Citroën-motors) Opel by General Motors oorgekoop het.

Die bemarking en verspreiding van Chevrolet-voertuie sal gestaak word en hierdie voertuie sal net tot aan die einde van vanjaar op die mark wees. Nogtans sal diensplanne steeds eerbiedig word en die maatskappy sal voortgaan om onderdele vir hierdie motors te voorsien.

Isuzu Motors van Japan sal die Struandale-aanleg by Port Elizabeth van GMSA oorneem en voortgaan om die Isuzu KB bakkie-reeks, asook middelslag- en swaar vragmotors te vervaardig. “Nadat ons die Suid-Afrikaanse werksaamhede behoorlik ontleed het, het ons besluit dat dit die beste sal wees om die vervaardiging van ligte handelsvoertuie met die onderneming in Afrika te integreer,” sê Stefan Jacoby, General Motors se uitvoerende visepresident en president van GM Internasionaal. “Ons het vasgestel dat die volgehoue of verhoogde belegging in vervaardiging in Suid-Afrika nie die verwagte opbrengs van ander internasionale beleggingsgeleenthede vir General Motors bied nie.

Benewens die aankoop van die Struandale-aanleg sal Isuzu ‘n toegewyde netwerk van 90 handelaars landwyd vestig vir die bemarking en verspreiding van Isuzu-habdelsvoertuie vir nuwe en bestaande klante, en volle beheer neem van General Motors se verspreidingsentrum vir onderdele.

Isuzu se betrokkenheid by Suid-Afrika het begin toe die eerste modelle meer as veertig jaar gelede hier vervaardig is. Die afgelope vier jaar is Isuzu die topverkoper in die marksegmente vir medium- en swaar vragmotors.

Nadat die Opel- en Vauxhall-handelsmerke onlangs deur die PSA-groep gekoop is, is GM en PSA (die vervaardiger van Peugeot- en Citroën-motors) druk besig om die toekoms van hierdie handelsmerke in Suid-Afrika te evalueer. Intussen sal bestaande Chevrolet- en Opel-eienaars steeds ten volle ondersteun word. General Motors Suid-Afrika (GMSA) het werknemers vanoggend reeds in kennis gestel van die veranderinge en die maatskappy sal dadelik met die konsultasieproses van afleggings begin. GMSA het ook ondersteuningsentra vir werknemers opgerig. GMSA sal Opel-produkte tot aan die einde van 2017 bemark en versprei en toekomsplanne sal eers bekendgemaak word as die transaksie met PSA finaal beklink is. Hierdie planne sal binnekort tydens ‘n mediakonferensie aangekondig word.

GMSA sal met handelaars, wat deur hierdie verwikkelinge geraak geraak word, saamwerk om ‘n oorgangsplan in werking te stel. Klantesorg sal uitgebrei word en alle waarborge en diensplanne sal deur GMSA en deur die nuwe toetreders eerbiedig word.

Sien ook: http://motorplus.co.za/opel-is-hier-om-te-bly/