Nadat die opgekikkerde weergawe van die sewende geslag van die VW Golf twee maande gelede bekendgestel is, het Volkswagen Suid-Afrika pas twee nuwe modelle by die reeks gevoeg.

Die Golf GTD is die eerste verrigtingsluikrug met ‘n dieselenjin wat in Suid-Afrika bekendgestel word.  Dié model word toegerus met ‘n turboaangejaadge dieselenjin wat 130 kw teen tussen 3 600 en 4 000 opm en 350 Nm se wringkrag teen tussen 1 500 en 3 500 opm. Hierdie enjin is net met ‘n DSG-ratkas met ses gange beskikbaar. |Versnelling van 0 tot 100 km/h geskied in 7,4 sekondes en sy topsnelheid is 230 km/h. Die GTD se gemiddelde brandstofverbruik is 5,3 liter per 100 km.

Die GTD se buiteafwerking verskil effens van dié van die GTI. Die rooi afwerking op die GTI se sierrooster word met chroom vervang en aan die agterkant is daar chroomuitlaatpype aan die linkerkant. Die GTD se 18 duim-allooiwiele is ook uniek; dit staan as die Sevillia-ontwerp bekend.

 

Die nuwe Golf R is die kragtigste model in die reeks; kraglewering is verhoog tot 213 kw teen tussen 5 400 en 6 500 opm en 380 |Nm teen tussen 1 850 en 5 300 opm. Die sewegang DSG-ratkas en die wegtrekbeheer waarmee die R toegerus is, stel hom in staat om in ‘n blitsige 4,6 sekondes van 0 tot 100 km/h te versnel. Die Golf R is toegerus met nuut ontwerpte stampers en LED-kop-en agterligte. Die uitlaatpype wat in die hoeke gemonteer is, laat die motor wyer vertoon.  Die afwerking van die buitespieëls is in dowwe chroom of koolvesel en daar is twee ontwerpe allooiwiele, albei 19 duim, om van te kies. Die Spielberg-ontwerp is standaardtoerusting, maar die Pretoria-afwerking is opsioneel beskikbaar.

Soos met die Golf TSI- en GTI-modelle wat vroeër bekendgestel is, is die nuwe modelle beskikbaar met inligting-en-vermaakstelsels wat met handgebare beheer kan word en ‘n 9,2 duim-skerm bevat. Die R het ‘n panoramiese sondak as standaardtoerusting, en ‘n mens kan ‘n bestruurdersprofiel kies wat bepaal watter inligting op die inligting-en-vermaakstelsel vertoon word. Albei die nuwelinjge, asook die GTI, gee ook vir die eienaar rondtetye as deel van die aktiewe inligtingsvertoonstelsel.

Die pryse van die nuwe modelle is R 506 700 vir die GTD en R 647 300 vir die R. Benewens die waarborg van drie jaar of 120 000km is ‘n  diensplan van vyf jaar of 90 000km  by die prys ingesluit. Dienstussenposes is elke 15 000km.