Met GWM (Great Wall Motors) se toetrede tot die Suid-Afrikaanse mark 10 jaar gelede, was die publiek erg skepties oor die vermoë van Chinese voertuigvervaardigers om ‘n kwaliteit betroubare voertuig te bou. Daar was te veel assosiasie met ander Chineesvervaardigde goedere soos speelgoed en trienkets, wat soos ons almal weet baie goedkoop is, maar die kwaliteit was onder verdenking.

Sedertdien het GWM-modelle soos die H5-sportnutsvoertuig en die Steed 5, 5E en 6-bakkies egter by Suid-Afrikaanse motoriste byval gevind en veral die bakkies het gewys dat hulle nie bang vir harde werk is nie.

Daar is tans vier Steed 5-enkelkajuitbakkies beskikbaar en veral die 2,0 VGT Workhorse, die goedkoopste turbodieselbakkie op die Suid-Afrikaanse mark, bied goeie waarde vir geld. Hierdie bakkie se turbo-aangejaagde tweeliter-dieselenjin  lewer 78 kw teen 4 000 omwentelinge en het ‘n wringkrag van 225 Nm tussen 1 400 en 2 800 omwentelinge. Die gemiddelde brandstofverbruik is 8,1 liter per 100 km.

Die Steed 5 Workhorse kan ‘n vrag van meer as ‘n ton dra en en die dubbel-geïsoleerde laaibak het verskeie hegpunte om ‘n vrag vas te maak. Die laairuim is 2280mm lank, 1520mm breed en 460mm diep.

Onder die standaardkenmerke is lugversorging, kragstuur, ‘n verstelbare stuurkolom, misligte voor en agter en ‘n kleurgekodeerde voorste stamper, asook staalwiele van 16 duim.

Die 2,0 VGT Workhorse se prys is nou  ‘n verminderde R 179 900.  Dit is ‘n besparing van R 20 000 ter viering van GWM se tiende bestaansjaar in Suid-Afrika.

Die prys van die petrolmodel, met ‘n enjin van 2,4 liter, is R 149 900.

Die pryse sluit ‘n waarborg van drie jaar of 100 00 0km in en ‘n diensplan is opsioneel beskikbaar.  Dienstussenposes is elke 15 000km.