GWM wys voorskou van nuwe bakkie

0 Comments

Great Wall Motors het pas ‘n voorskou gewys van ‘n nuwe bakkie wat vandeesmaand by die Shanghai-motorskou in China bekendgestel gaan word.

Dié Chinese maatskappy het twee foto’s gewys van ‘n vierwiel-aangedrewe model wat toegerus sal word met veldry-spesifieke kenmerke soos ‘n voorste wenas, drie ewenaarslotte (voor, in die middel en agter) en ‘n snorkel; hierdie eienskappe is gewoonlik bykomstighede vir die meeste modelle se veldryers.

Hierdie nuweling spog met ‘n taai, geharde en aggressiewe voorkoms en word toegerus met ‘n swart veldry-bakstel wat bestaan uit ‘n swart rooster, wielboë, snorkel en ander komponente wat sy estetiese aantrekkings-krag verhoog.

Die mees opvallende kenmerk aan die voorkant is die dekoratiewe paneel bo-op die enjinkap wat baie lyk na die luguitlate wat gereeld op Amerikaanse bakkies gesien word; dit gee die vooraansig ‘n doelgerigte voorkoms. Daar is ‘n groot silwer strook in die middel van die sierrooster met LED- kopligte met swart afwerking aan weerskante. Die neus van die bakkie is in silwer en swart afgewerk. Daar is ook LED-ligte agter en ‘n swart paneel is op die agterklap aangebring. Daar is ook plek vir ‘n leer, wat die op-en aflaai van motorfietse vergemaklik.

Volgens berigte sal verskeie modelle op die nuwe platform vervaardig word, en foto’s van ander modelle sal mettertyd ook beskikbaar gestel word.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: